This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Mon Jan 18 19:05:01 2021 / +0000 GMT

Dordtse Leerreëls - ‘n Kort inleiding



http://www.credomag.com/2012/07/27/are-you-reformed-part-2/

In die Gereformeerde teologie speel die uitverkiesing ‘n belangrike rol.  Trouens, die Dordtse Leerreëls handel uitsluitlik daaroor en is een van die Drie Formuliere van Enigheid in kerke van Gereformeerde oorsprong, saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus.  Dit is natuurlik benewens die drie ekumeniese geloofsbelydenisse wat regoor die wêreld gebruik word: Apostoliese Geloofsbelydenis (12 artikels), die Geloofsbelydenis van Nicea, en die Geloofsbelydenis van Athanatius.

Hier is ‘n kort verduideliking van die boodskap van die Dordtse Leerreëls oor die diep evangeliese vertroosting wat dit vir gelowiges bied.  Die vyf sekerhede wat die Dordtse Leerreëls bied, kan ook direk verbind word aan die vyf solas van die Reformasie (laai dit in pdf formaat af: Dordtse Leerreëls - 'n kort inleiding).

Inhoudsopgawe

1 Die boodskap van die Dordtse Leerreëls

1.1 Totale Verdorwenheid (hfst. 3)

1.2 Onvoorwaardelike of Soewereine Uitverkiesing (hfst. 1)

1.3 Beperkte of Spesifieke Versoening (hfst. 2)

1.4 Onweerstaanbare of Effektiewe Genade (hfst. 4: oor die bekering tot God)

1.5 Volharding of Bewaring van die Heiliges (hfst. 5)

1.6 Vyf sekerhede en vyf solas

2 Oor die mense en bewegings wat in die Dordtse Leerreëls genoem word

2.1 Stoïsyne

2.2 Manicheïsme

2.3 Arius

2.4 Pelagius

2.5 Libertyne

2.6 Socinianisme

2.7 Moslems

1       Die boodskap van die Dordtse Leerreëls

Die impak van die Remonstrante, of soos hulle later bekend sou staan, die Arminiane, was duidelik voelbaar in die kerk van die 16de eeu n.C. Die leiers in die Nederlandse kerke van Gereformeerde oortuiging was verdeeld oor die twee uiteenlopende standpunte soos verteenwoordig deur die Remonstrante en die behoudendes. Dit sou lei tot een van die belangrikste kerkvergaderings in die geskiedenis van die gereformeerde kerk wêreldwyd.

Tydens 1618-1619 het kerkleiers in Dordt byeengekom om die standpunte van die Remonstrante te weeg. Die resultaat van hierdie vergadering is wat vandag algemeen bekend staan as die Dordtse Leerreëls.

Aangesien die Remonstrante se protes in die vorm van vyf artikels verwoord was, het die Dordtse Sinode elkeen van daardie artikels weerlê en die sogenaamde regsinnige leer aangebied. Vandaar die vyf punte wat as die Dordtse Leerreëls aangebied word. Later sou hierdie vyf punte volgens die akroniem T.U.L.I.P. bekend staan, hoewel dit nie presies met die vyf hoofstukke van die Dordtse Leerreëls ooreenkom nie en dit boonop ‘n effense verskraling van die boodskap tot gevolg gehad het.

Hierdie vyf punte verteenwoordig ook nie die volledige Gereformeerde Teologie nie, maar wel die vyf punte waaroor die kontroversie met die Remonstrante gehandel het. Die Gereformeerde Teologie is wyer as Dordt, en veral die Afrikaanse Gereformeerde kerke verwoord hulle leer na aanleiding van die Drie Formuliere van Enigheid: die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls, soos hierbo genoem.

Daar is ook ander dele van die Gereformeerde Teologie wat bv. in die Institusies van Calvyn verwoord word, hoewel dit nie formeel deel van ons belydenisbasis is nie.  Daardie eer kom slegs die genoemde Formuliere toe sowel as die drie ekumeniese geloofsbelydenisse: die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanatius.

Dit is ook belangrik om te weet dat Calvyn en die ander Reformatore nie gefragmenteerd na hierdie temas gekyk het nie, maar as 'n geheelbeeld wat onlosmaaklik met mekaar te make het en mekaar direk beïnvloed. Die resultaat in vyf onderskeie dele moet gesien word teen die agtergrond van die Vyf Artikels van die Remonstrante as 'n antwoord op elke punt daarvan.

Die akroniem word as volg uiteengesit (dit is die Engels, aangesien daar nie 'n Afrikaanse blom is hiervoor nie!):

T - Total Depravity (Totale [Volkome] Verdorwenheid)

U - Unconditional Election (Onvoorwaardelike [Soewereine] Uitverkiesing)

L - Limited Atonement (Beperkte [Spesifieke] Versoening)

I - Irresistable Grace (Onweerstaanbare [Effektiewe] Genade)

P - Preservation of the Saints (Volharding [Bewaring] van die Heiliges)

Hierdie is nie die volgorde soos dit in die Dordtse Leerreëls uiteengesit word nie. Die Leerreëls hanteer dit as volg:

Hoofstuk 1 - Goddelike uitverkiesing en verwerping (U)

Hoofstuk 2 - Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood (L)

Hoofstuk 3,4 - Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (T, I)

Hoofstuk 5 - Die volharding van die heiliges (P)

Terloops, hoofstuk 3 en 4 word saam genoem, omdat die Remonstrante se artikel 3 sin maak as dit op sy eie geneem word, maar juis in die kombinasie met artikel 4 'n dwaalleer verkondig.  Daarom word hoofstuk 3 en 4 saam genoem ook in die Dordtse Leerreëls.

1.1      Totale Verdorwenheid (hfst. 3)

Hierdie leer handel oor wat ook algemeen bekend is as die “Erfsonde”. Die uitgangspunt is dat na die val van die eerste mens in sonde, die hele menslike ras daarna met 'n sondige natuur gebore word. Dit verwys dus na die gevolge van die sonde van Adam vir die hele mensdom (Rom. 5).

In die Gereformeerde Teologie word hierdie verdorwenheid gesien as 'n totaliteit, met ander woorde, die mens is in so 'n mate geskend deur die effek van die sondeval, dat hulle as geestelik dood beskou moet word. Selfs hulle beste pogings om die goeie te doen, word hiervolgens gesien as in vyandskap met God.

Totaal Verdorwe beteken glad nie dat die mens tot in die uiterste mate korrup is nie, met ander woorde dat die mens gebore word as die opperste moordenaar en krimineel nie. Dit beteken hulle wese en natuur is in die geheel aangeraak deur die sondigheid. Die effek raak hulle liggame (vandaar siekte en dood); dit raak hulle innerlike mens sodat die mens se wil, gees, siel, hart, alles wat die menslike bestaan opmaak, as geheel deur die sonde gedood is.

Die Pelagianisme het dit ontken en Augustinus het teenoor Pelagius die totale verdorwenheid van die mens geleer en verdedig. Die Semi-Pelagianisme het die verdorwenheid tot 'n mate aanvaar, maar geleer dat daar tog 'n deel is, die vermoë om te kan kies, wat ongeskonde gelaat is in die mens. Die Reformatore, in navolging van hul voorgangers, het egter die totale verdorwenheid van die mens herbevestig en Dordt het in hulle voetspore gevolg.

1.2      Onvoorwaardelike of Soewereine Uitverkiesing (hfst. 1)

Die essensie van hierdie leer in die Gereformeerde Teologie is dat God die mens kies sonder enige vooruitgesiene kwaliteite of werke aan die kant van die mens. Daar was dus by God geen voorwaardes op grond waarvan Hy die mens gekies het om gered te word in Christus nie. Die voorneme van God om iemand te red, berus uitsluitlik in die soewereiniteit van God self, sodat die motivering vir die uitverkiesing en gevolglike redding geheel en al by God lê en niks daarvan by die mens nie. Hy is die Pottebakker en ons die klei.  Hy besluit onafhanklik en selfstandig oor sy skepping en die mens.

Hierdie deel van die leerstuk is waarskynlik die een waarmee mense die meeste probleme het, want hoekom sou God sommige mense uitkies en nuut maak en ander in hulle sonde laat om verlore te gaan?  'n Paar opmerkings om die in perspektief te stel:

1.3      Beperkte of Spesifieke Versoening (hfst. 2)

Hierdie leer het alles te make met die doel van die lewe en kruisdood van Christus en die reikwydte hiervan. Dit is gemik op die dwaalleer van die Remonstrante wat in hulle tweede artikel voorhou: “dat in ooreenstemming daarmee [voorwaardelike uitverkiesing], Jesus Christus die Verlosser van die wêreld, vir alle mense en elke mens gesterf het, sodat Hy vir almal deur sy dood aan die kruis die versoening van sonde verwerf het.”  Met ander woorde, die versoeningswerk van Christus in die konsepsie van die Remonstrante was universeel en sonder inperking.

Hierteenoor het Dordt die standpunt bevestig dat Christus se versoening wel “beperk” is, hoewel dit ook só is dat die woord “beperk” nie in die Dordtse Leerreëls voorkom nie. Dit is daarom belangrik om te besef dat hierdie “beperking” nie in krag, genoegsaamheid en effektiwiteit is nie, maar beperk in die sin dat dit vir die uitverkorenes bedoel is (Joh. 17; Ef. 1).  Miskien is dit daarom beter om te praat van die “spesifiek” versoening van die Here Jesus, dit wil sê, dat dit ‘n versoening is wat afgestem is op dié wat uitverkore is.

Hoe dit ook al sy, hierdie versoening is gewortel in die identiteit van Christus as die offer vir die sonde, maar op só 'n manier dat die versoening spesifiek is (eerder as beperk) deurdat dit afgestem is op die uitverkorenes van God - die skape, nie die bokke nie, by wyse van spreke.

Die volgende vier stellings, bevestig deur aanhalings uit die Dordtse Leerreëls, sal dit helder maak:

  1. Jesus se kruisdood is genoegsaam vir die sondes van die hele wêreld

Dordtse Leerreëls sê in hfst. 2.1.3: "Die dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen."

  1. Elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, sal nie verlore gaan nie

Dordtse Leerreëls sê in hfst. 2.1.5: "Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die  evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof."

  1. Baie wat die boodskap hoor, glo dit egter nie

Dordtse Leerreëls sê in hfst. 2.1.6: "Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld."

  1. Dié wat wel glo, ontvang hierdie versoening slegs uit die genade van God

Dordtse Leerreëls sê in hfst. 2.1.7: "Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is."

Dit is hoe die versoening van Christus werk.  Dit is voldoende vir alle mense.  Dit word aan almal verkondig.  Maar, die effektiwiteit daarvan is net vir die uitverkorenes, dié vir wie God spesifiek uit genade wederbaar om dit te aanvaar.

1.4      Onweerstaanbare of Effektiewe Genade (hfst. 4: oor die bekering tot God)

Hierdie leer moet verstaan word teen die agtergrond van die totale verdorwenheid van die mens.  Die mens is so totaal verdorwe dat hulle nie in staat is om hulleself te red nie, selfs nie om uit vrye wil – wat ook getref is deur die doodsheid van die sonde – die versoening aan te neem of te kies in geloof nie.

Dit is in hierdie sin dat die Gereformeerde Teologie die wedergeboorte en bekering beskou. Die mens kan hulleself nie bring tot vernuwing nie, maar in sy genade maak God die mens nuut in hulle gees en skenk aan hulle die geloof as genadegawe wat die vermoë insluit om te kan glo en tot bekering te kom. Daarom is die redding wat God gee, die wedergeboorte, monergisties.  Met ander woorde, wedergeboorte en geloof is 'n genadewerk deur God alleen.

God bewerk nie die wedergeboorte tot op 'n punt waar jy self kan kies om die volgende stap te neem nie (soos die Remonstrante en Semi-Pelagianisme sou leer). God neem volledig verantwoordelikheid vir die vernuwing sodat die volle effek van die versoening vir die uitverkorenes waar word. Dus, Hy maak nuut, skenk geloof en maak regverdig, bring tot bekering – alles op grond van sy genade.  Hy skenk selfs die heiligmaking, hoewel ons daarin saamwerk met God (Fil. 2:12-13).

Sy genade is dus onweerstaanbaar in sy effektiwiteit, soos ons dit bv. in die verhaal van Paulus op die pad na Damaskus sien.  Paulus word van ‘n vervolger van Jesus verander in ‘n volgeling van Jesus.  Dit is die onweerstaanbare of effektiewe genade van God.  Iets wat ‘n mens verstom en verwonder!

1.5      Volharding of Bewaring van die Heiliges (hfst. 5)

Die logiese eenheid van al vyf die punte wat Dordt uiteensit, word gesien in die laaste punt, naamlik die volharding of bewaring van die heiliges. In Filippense 1:6 spreek Paulus die vertroue uit dat God die gelowiges sal bewaar tot op die dag van sy Seun.  Hierdie tema kom telkens in die Skrif na vore, beide Ou en Nuwe Testament (vgl. Jesus in Joh. 17).

Die Remonstrante het die volharding in die hand van die “gelowige” geplaas (Artikel 1). Hulle was selfs onseker oor die volharding van die heiliges (Artikel 5). Dordt het 'n sterk posisie ingeneem dat God nie die werke van sy hande laat vaar nie.

Dit is egter duidelik dat die volharding nie in die hande van die mens lê nie, anders sou niemand die poorte van die hemel eers kon bereik nie. Daarvoor is die mens te geneig om hulle eie voordeel te soek. Dit is alleen die werk van God, op grond van die Here Jesus Christus se versoening, toegepas deur die Heilige Gees. Daarom is dit dalk beter om te dink hieraan as die bewaring van die heiliges wat volhard tot die einde omdat God hulle in Christus deur sy Gees bewaar.

Dit is duidelik dat hierdie vyf punte nie los gelees en verstaan moet word wanneer oor die volle uitwerking van die verlossingsplan van God gedink word nie. Dit is 'n geheel en moet so gelees word.

1.6      Vyf sekerhede en vyf solas

Ek hou daarvan om hierdie vyf punte as die vyf sekerhede van my geloof te beskou en wat daarom as volg met die vyf solas van die Reformasie verband hou:

  1. Ek is totaal sondig en kan myself nie red nie.  Ek verdien die ewige dood.  Dit is wat die Skrif en die wet my leer – sola scriptura.
  2. God het my egter onvoorwaardelik in Christus uitverkies sonder dat ek dit enigsins verdien het.  Ek kan Hom net uit my hart uit dank daarvoor – soli Deo gloria.
  3. God het my met Homself versoen deur Christus se kruisdood alleen.  Dit is die grootste geskenk wat ek ooit gekry het.  En dit is vir ewig – solus Christus.
  4. God het my gered deur die wedergeboorte en geloof in Hom geskenk.  Sy genade is onweerstaanbaar.  Ek hoef nie meer op my eie werke staat te maak om God se guns te verdien nie – sola gratia.
  5. God sal my laat volhard tot die einde toe.  Ek kan Hom volledig daarvoor vertrou en met alles in my gehoorsaam – sola fide.

2       Oor die mense en bewegings wat in die Dordtse Leerreëls genoem word

'n Paar opmerkings oor van die mense en bewegings wat in die Dordtse Leerreëls genoem word.

2.1      Stoïsyne

3de eeu v.C. (Zeno)

Hulle was Griekse filosowe wat panteïste was en God net as immanent, nie transendent, beskou het nie.  Paulus kruis met hulle swaarde in Handelinge 17:16-18 en bestry hulle dwalinge in sy briewe.

2.2      Manicheïsme

3de eeu n.C.

Dit was 'n Persiese of Iranese filosofie van die profeet Mani.  Hy wou die leringe van Boeddha en Jesus aanvul en verbeter.  Hulle het aan drie gode geglo, en Jesus se mensheid ontken.  Jesus se kruis was oëverblindery.  God was nie almagtig nie en in 'n stryd tussen goed en kwaad gewikkel, 'n sterk dualistiese godsdiens.

2.3      Arius

3de-4de eeu n.C. in Alexandrië

Arius het Jesus se goddelikheid bevraagteken.  Athanatius het hom teengestaan en 'n stryd vir 50 jaar gevoer - contra mundum (teen die hele wêreld) - vir Jesus as homoousios (dieselfde wese as God) teenoor net homoiousios (soortgelyke wese as God).  Die gevolg was ons twee ekumeniese geloofsbelydenisse, dié van Nicea en Athanatius, wat Arius se dwaalleringe teengestaan het.  Arius is beïnvloed deur Origines (2de eeu n.C.), ook 'n dwaalleraar wat mettertyd die universalisme voorgestaan het en deur die kerk teengestaan is.  Arius se moderne navolgers is die Jehova's.

2.4      Pelagius

4de-5de eeu n.C. in Ierland

Pelagius het sterk teenstand gebied teen die uitverkiesing en die vrye wil van die mens voorgestaan en 'n groot aanhang geniet.  Hy het geleer dat daar geen erfsonde was nie.  Dat die mens 'n vrye wil het en vir of teen God kan kies.  Hy is sterk teengestaan deur Augustinus en later deur Luther en Calvyn.

2.5      Libertyne

Navolgers van Pelagius

Hulle is aanhangers van die leer van die vrye wil van die mens, en teenstanders van die idee van die uitverkiesing, soos dit bv. deur hulle groot eksponent, Arminius, en die Remonstrante geleer is in die 16de eeu n.C.  Die Dordtse Leerreëls is spesifiek teen Arminius se leringe opgestel.

2.6      Socinianisme

16de eeu n.C. juis in die tyd wat die Dordtse Leerreëls geskrywe is

Dit was 'n Poolse Christelike beweging wat nie-Trinitaries en universalisties was.  Hulle was dus navolgers van Arius wat die goddelikheid van Jesus sowel as die erfsonde bevraagteken het.  Dit is begin in Italië deur Lelio Sozzini en voortgesit in Poland deur sy neef Fausto Sozzini.  Die Nederlanders het hulle van as Socinus vertaal.

2.7      Moslems

6de eeu n.C. 

Dit begin met Mohammed in Mekka wat ook soos die profeet Mani wou verbeter op die leringe van beide die Jode as Jesus.  Ontken Jesus se Godheid sowel as sy kruisdood (hoewel hy ook van sy opstanding praat - verwarrend!), maar beskou Hom wel as 'n groot profeet.

 

 


Post date: 2017-07-19 08:49:02
Post date GMT: 2017-07-19 06:49:02
Post modified date: 2017-07-19 08:59:42
Post modified date GMT: 2017-07-19 06:59:42

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com