This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Apr 16 7:12:06 2021 / +0000 GMT

Die sonde teen die Heilige Gees



Die sonde teen die Heilige Gees is om Hom te laster, om sy invloed op die werk van Jesus aan die Satan toe te skryf, soos die Fariseërs gedoen het. Dit lei tot 'n onberoulike, morele en geestelike opstand teen God waarmee jy jou eie gewete verkrag en toeskroei. Dit is 'n "deliberate, open-eyed rejection of the known truth." (John Stott). Dit is om die duisternis liewer te hê as die lig. En daarin te volhard. Tot die einde toe. Tot die dood toe.

Om God te laster

Markus verwoord dit so:

"Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel — omdat hulle gesê het: Hy het 'n onreine gees." (Mark 3:28-30).

Matteus verwoord dit so:

"Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.” (Matt 12:31-32).

Lukas gebruik nie die term in sy weergawe van dié gesprek nie (Luk 11:14-23).

Johannes laat dié verhaal uit in sy evangelie, maar verwys na 'n sonde tot die dood wat waarskynlik hiermee verband hou, waarop ek hieronder sal uitbrei.

Sonde tot die dood

Die "sonde teen die Heilige Gees" is per definisie deel van wat Paulus en Jakobus die sonde noem wat tot die dood lei (Rom 6:16; Jak 1:15). Hierdie tipe sonde word gepleeg deur iemand wat in die sonde volhard – enige sonde – nooit die Here om vergifnis vra nie, nooit tot geloof en bekering kom nie, en sterf sonder enige verandering.

Só iemand sal die ewige lewe nooit sien nie, sê die Hebreërskrywer:

Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebr 6:4-6).

Ek hou van die manier waarop William Lane dit sê: "If those who have enjoyed a full and authentic Christian experience should then fall away, a renewal to repentance is impossible" (Word kommentaar).  Let op die “"should", want die skrywer dink nie só iets is regtig moontlik vir sy gehoor nie.

Hoekom sou hierdie afvalligheid só erg wees, as 'n mens ter wille van die argument sou bedink?  Want dit sou beteken dat die lewende God aktief teengestaan word.  Presies wat bedoel word met die sonde teen die Heilige Gees.

Johannes praat ook van 'n sonde wat tot die dood lei wat hiermee verband hou en nog helderder aan die sonde teen die Heilige Gees verbind kan word as in Paulus en Jakobus se geval.

Johannes sê: "As iemand sy broeder 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie 'n sonde tot die dood doen nie. Daar is 'n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie." (1 Joh 5:16-17).

Daar is drie verklarings hiervan, waarvan al drie vir my van toepassing is, maar die derde een die meer waarskynlike is:

1. Sommige verbind hierdie sonde tot die dood aan die sondes wat volgens die wet van Moses met die dood gestraf moes word. Hulle verwys na Lev 18-20 met die lyste van seksuele sondes waarby Romeine 1:18-32 aansluit en dit duidelik in die laaste vers stel: "Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen." 'n Belangrike waarskuwing.

Dit kan ook miskien verwys na "opsetlike sondes" wat volgens die OT wet onvergeefbaar was (bv opsetlike moord Eks 21:14). Dit geld egter enige sonde waarvan nie tot inkeer gekom word nie, soos Samuel die volk gewaarsku het dat as hulle nie tot bekering kom van hulle sondes nie, en opsetlik aangaan daarmee, hulle uitgewis sal word (1 Sam 12:25).

Dawid bid roerend dat hy beskerm sal word teen opsetlike sondes, want dit sal 'n streep trek deur God se vergifnis (Ps 19:13). Dieselfde geld ook die NT gelowiges soos die Hebreërskrywer ons ook waarsku: "As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie." (Hebr 10:26).

2. Ander verbind dit aan 'n totale afvalligheid waarin afgode gedien word, soos Johannes self teen waarsku aan die einde van die perikoop: "Bewaar julleself van afgode." (1 Joh 5:21).

3. Die verklaring wat vir my die meeste sin maak, maar met veral in die ooreenkoms met die wyse waarop die ander evangelies daaroor skryf, is dat Johannes ook hier skrywe oor die sonde of lastering teen die Heilige Gees.

Bedroef en weerstaan

Daar is ander plekke waar gepraat word van die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30) of weerstaan (Hand 7:51), maar dit op sigself is nog nie die sonde teen die Heilige Gees nie, tensy dit natuurlik sy volle loop neem in só ‘n persoon se lewe.

 

 


Post date: 2018-05-23 12:59:09
Post date GMT: 2018-05-23 10:59:09
Post modified date: 2018-05-23 13:03:39
Post modified date GMT: 2018-05-23 11:03:39

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com