Bybelskool
https://bybelskool.com/die-ontstaan-van-die-bybel-2/
Export date: Fri Dec 6 12:49:36 2019 / +0000 GMT

Die ontstaan van die Bybel


  • Die skrif stelling van die Bybelse verhale kom van baie vroeg af.  Die Bybel self skryf daaroor alreeds in die verhale van Moses, Josua en Samuel.  In Eksodus lees ons dat Moses daarmee besig was (Eks. 24:4), dat sy skryfwerk deur die Leviete bewaar is (Deut 31:9), deur hulle en die leiers bestudeer is, en die boek raak wat Josua sy eie maak (Jos 1:7).  Die skryfwerk word ook later deur Josua aangevul (Jos 24:26).  Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan.  Dan lees ons onder andere ook nog van die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat 'n lied van Dawid daarin opgeteken is).
  • Ons sien dus hier die begin van 'n kern-kanon, die begin van die Bybel, wat veral met die berg Sinai verbind word.  Later sou Samuel ook regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam 10:25) en saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar.  Van tyd tot tyd is die verhale van Josua opgedateer (van die stede in Jos. 15 het moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom) om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.  Ons lees ook van die Annale van Salomo (1 Kon 11:41).
  • Uit die ontdekking van die Dooie See rolle in 1948 kom ons agter dat in die latere biblioteke veral op drie tipe boeke gekonsentreer is, die Bybelse tekste self, kommentare op die Bybel en teologiese geskrifte.
  • Die meeste Jode van die eerste eeu n.C. was geletterd en kon lees en skryf.  Hulle kon ook meer as een taal verstaan, ten minste Aramees (spreektaal) en Hebreeus (OT).  Baie kon ook Grieks, die wêreldtaal van die tyd, verstaan en het dit in die alledaagse kommunikasie gebruik.  Die Griekse vertaling van die OT, die LXX of Septuagint, was ook baie gewild.
  • Shorthand is baie keer gebruik, weens die skaarsheid en prys van papier (papirus of leer [perkament]).  Matteus, die belastinggaarder, was heel moontlik vaardig daarmee, en kan verklaar hoe hy die bergrede so volledig kon weergee in Matteus 5-7.
  • Daar was van die begin af ‘n hele paar mense wat verhale oor Jesus neergeskrywe het (Luk 1:1-2), wat gedien het as bronne vir die evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes.  Johannes skryf selfs met ‘n tikkie humor daaroor (Joh 21:25).  En Paulus het skryf as ‘n baie belangrike deel van sy bediening gesien (2 Tim 4:13: “[bring] die boeke, veral die perkamente [saam].”)
  • Hierdie belangstelling in boeke en literêre werke het beteken dat tekste met groot sorg hanteer is en in biblioteke en argiewe opgeneem en bewaar is.
  • As ‘n mens natuurlik meer kopieë wou hê, moes dit natuurlik telkens met die hand oorgeskryf word.
Post date: 2009-11-29 14:32:03
Post date GMT: 2009-11-29 12:32:03

Post modified date: 2009-11-29 14:32:03
Post modified date GMT: 2009-11-29 12:32:03

Export date: Fri Dec 6 12:49:36 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com