This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Tue Dec 1 5:08:01 2020 / +0000 GMT

Die nagmaal as gemeenskap met die Here Jesus – Lukas 22:7-23



Die drama rondom Jesus verhoog al hoe meer in intensiteit in die laaste week van sy aardse lewe.  Want, terwyl Hy nog vol in die bediening staan, en die volk gretig na sy woorde luister, word Jesus se dood deur die Joodse leiers beplan.

'n Gulde geleentheid doen hom voor vir die Joodse leiers met die Satan wat in Judas vaar en hom laat aanbied om Jesus te verraai.  Judas doen dit waarskynlik omdat hy op een of ander manier teleurgestel is in Jesus; die Satan omdat hy onbewus was van God se plan met Jesus se kruisdood en opstanding.

Op die Donderdag, die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, of te wel die Paasfees, stuur Jesus twee van die binnekring dissipels, Petrus en Johannes, om alles reg te kry.  Waarskynlik doen Hy dit so sodat Judas nie vooraf van die plek te wete sou kom nie, en Hy die Paasmaaltyd met sy dissipels sou kon eet, sonder inmenging van die Joodse leiers.

Sommige geleerdes dink dat die bokamer wat gereedgemaak is, die huis van Maria was, die ma van Johannes Markus, waarvan ons later in Handelinge lees (12:12).

14En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. 17En toe Hy 'n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. 18Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. 19Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. 21Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. 22Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! 23Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.

1. Let op dat Lukas die dissipels hier apostels noem – dit beteken gestuurdes – een van 5 keer wat hy dit doen (die ander kere is: Luk 6:13 – albei titels reg aan die begin met hulle verkiesing; 9:10 – met hulle eerste volwaardige sending; 17:5 – terwyl hulle op reis is na Jerusalem; 24:10 – na die opstanding).

Dat dit by die pasga-nagmaal is, is betekenisvol, omdat dit iets sê van die feit dat die nagmaal nie net dié samebindende teken van Christelike gemeenskap reg oor die wêreld is nie, maar dat die nagmaal ons almal ook gestuurdes maak.

2. Dit is ook opmerklik dat dit Jesus is wat praat van sy sterk verlange om die pasga saam met hulle te eet: “voordat Ek ly.” Die bemoediging wat die gemeenskap rondom die tafel gee, mag ‘n mens nooit onderskat nie. Dit is iets wat selfs Jesus nodig gehad het.

3. By die paasmaaltyd is daar vier keer wyn gedrink as deel van die seremonie, waarvan Lukas hier twee spesifiek noem, waarskynlik die tweede en derde onderskeidelik (die derde was “die beker van danksegging” waarvan ons in 1 Kor 10:16 lees).   

Met die eerste teug uit die beker het Hy God gedank daarvoor en dit uitgedeel onder die dissipels. Hy het heel spesifiek die gemeenskap wat onder hulle tot stand kom deur die maaltyd beklemtoon.

4. Jesus sê daarby ook iets besonders. Sy oë is nie net op die lyding wat Hy binnekort moet ondergaan nie. Dit waarvan die slag van die lam as plaasvervangende offer praat nie.

Sy oë is ook op die heerlikheid wat kom. Dit is waarom Hy sê: “Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.“ Sy oë was op die bruilofsmaaltyd wat Hy saam met die gelowiges uiteindelik in die hemel sal geniet (Openb 19). Hy rig daarmee ook die oë van die dissipels op die heerlikheid wat beskikbaar is anderkant die lyding.

5. Daarop neem Jesus brood, en nadat Hy God ook daarvoor gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle as ‘n verdere stuk gemeenskap. Hierdie keer nie net met mekaar nie, maar met Homself.

“Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.”

Dit is die diepste sin en betekenis van die nagmaal, die gemeenskap met die Lam van God wat die vrug van sy lyding en opstanding aan ons bied, die vreugde van die ewige lewe.

6. Met die volgende beker – ná die breek van die brood en die maaltyd van die lam – verklaar Hy dat hierdie pasga-nagmaal nou ‘n nuwe verbond is, die nuwe testament wat met sy gestorte bloed geteken en gewaarmerk is.

7. Uiteraard is dit ook die plek waar die skeiding kom tussen dié wat Jesus aanvaar en dié wat Hom verraai.

Let op dat Judas deel het aan die nagmaal, maar dat dit hom nie keer om Jesus te verraai nie – hoe tragies! Soos Jesus sê: “Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.”

Jesus verklaar die verraad op ‘n dubbele manier. Aan die een kant gaan die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is. Dws God se hand is duidelik sigbaar in die offer wat nou gelewer gaan word.

Maar, aan die ander kant is dit ook doodgewoon Judas se verraad. En dié daad sou ook Judas se lewe kos. Die een dood lei tot verlossing – die van Jesus. Die ander dood lei tot verdoemenis – die van Judas.

8. Die boodskap bly – dié wat die nagmaal gebruik as gemeenskap met die Here Jesus ontvang die ewige lewe en kan uitsien na die bruilofsmaaltyd van die Lam. Vier dit vandag as herinnering aan wat gegee is, en as verwagting op dit wat nog kom.

 

 


Post date: 2019-11-10 04:00:16
Post date GMT: 2019-11-10 02:00:16
Post modified date: 2019-10-19 07:16:08
Post modified date GMT: 2019-10-19 05:16:08

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com