Bybelskool
https://bybelskool.com/die-boodskap-van-die-twaalf-kleiner-profete/
Export date: Thu Jun 20 15:57:48 2019 / +0000 GMT

Die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete


prayer-shawlTeologiese kernboodskap – verhoudings word gefundeer in die liefde van die Here

Sommige geleerdes reken dat die eerste ses Kleiner Profete rondom die tema van die problematiek van ongeregtigheid (iniquity) saamgestel is, en die laaste ses Kleiner Profete rondom die tema van die verskillende antwoorde daarop (Coggins). Ander weer vind ‘n tematiese samehang rondom die “dag van die Here” en ‘n fokus op Jerusalem wat in die meeste van die Kleiner Profete voorkom (Sweeney).

Die lyk vir my uit my eie lees van die twaalf boeke dat die teologiese kern van dié boodskap in die liefde van die Here gevind kan word, die konsep wat veral deur Hosea aangeroer word. Dit is vir my die sleutel om nie net die samehang van die Kleiner Profete se boeke te verstaan nie, maar nog dieper, om God se genade en sy oordeel te kan begryp.

Die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete is dat God se oordeel sowel as sy genade in sy liefde en dít binne verhoudings gefundeer word – binne Israel sowel as daarbuite in sy verhouding met die nasies.

Die bydrae van elke afsonderlike boek

Ek wil die bydrae wat die onderskeie twaalf boeke dus maak om dié boodskap te ondersteun as volg uitlê. Dít sal jou help om die onderskeie hoofstukke van die Kleiner Profete profete soos ons dit daagliks lees in konteks te plaas en die boodskap daarvan binne die groter geheel te kan onderskei.

  1. Hosea – God volhard altyd in sy liefde


In die OT ordening van die twaalf boeke word Hosea, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Amos, eerste geplaas om die problematiese verhouding tussen God en Israel in huweliksterme te beskrywe. God se volhardende liefde word só in Hosea op onvergelyklike manier geteken. Maleagi word weer laaste geplaas, nie net omdat dit kronologies waarskynlik die laaste kan wees nie, maar om dié boodskap af te rond deur die volk op te roep om nie net fisiese egskeiding te haat nie – soos God dit inderdaad doen – maar veral Hom nie te minag deur ‘n verhouding van halfhartige gehoorsaamheid nie.  Hulle moet God navolg in sy lojale liefde.

Dié twee boeke gee dus ‘n verbondsraamwerk vir die boodskap van die twaalf boeke, uitgespel in terme van die liefde wat hoort in die metaforiese huweliksverhouding tussen God en die volk. Die verdere boodskap van God se ingrype in die lewe van die volk en die nasies beide in terme van verwoesting en oordeel as in voorspoed en herstel, kan dus hierbinne deur die res van die boeke uitgespel word.

Die betekenis hiervan is dat God se oordeel en genade daarmee in sy liefde en binne verhoudings gefundeer word.

  1. Joël – God se dag bring verwoesting en voorspoed


Die boek Joël, waarskynlik ‘n tydgenoot van Jeremia, Obadja en Habakuk, net ná Sefanja en Nahum, en net voor Esegiël, word tweede in die reeks van Kleiner Profete geplaas, nie net omdat dit inhoudelik saamhang met verskillende uitsprake in die volgende boek, Amos, nie, maar omdat dit die boek is wat die “dag van die Here” die helderste op die tafel sit.

Joël verwoord dus op noodsaaklike wyse een van die sentrale temas van die Kleiner Profete – die koms van die “dag van die Here”, al het hy lank ná Hosea eers op die toneel verskyn. Ook die besondere plek wat die verwante tema van die beskerming van Jerusalem in die boek inneem, word verder uitgebrei in die ander profete wat volg.

Dié boek het daarby ook duidelike eskatologiese trekke waaraan die NT uitstorting van die Heilige Gees verbind word, en waarvan sommige van die kosmiese oordeelsbeskrywings daarin ook met die Openbaring van Johannes verbind kan word.

  1. Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid


Die boek Amos, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Hosea volg dan, derde in die ry, om die wydverspreide problematiek van ongeregtigheid aan te roer, sowel as om die Noordelike tienstamme ryk op te roep tot hereniging met die Suidelike tweestamme ryk van Juda, gemotiveer met die belofte van die herstelde Dawidiese koninkryk met Jerusalem as sentrum.

Amos se onverskrokke ontbloting van sosiaal-polities onreg (verdrukking, uitbuiting, afpersing en mishandeling van armes en weerloses tot eie voordeel; onsedelikheid; geweldadigheid; verontregting en omkopery in die regstelsel; ongebreidelde geldgierigheid) sowel as geestelik-godsdienstig onreg (sinkretistiese afgodediens) is een van die beste beskrywings van hoe ‘n samelewing kan ontspoor.

  1. Obadja – God straf verwaandheid en afsydigheid


Die boek Obadja, waarskynlik ‘n tydgenoot van Jeremia en Habakuk, net voor Esegiël, vierde in die ry, verwoord dieselfde boodskap van oordeel as Amos, net dié keer gerig aan die Edomiete (Bybels gesproke die nageslag van Esau, broer van Jakob-Israel) vanweë hulle verwaandheid teenoor die Here en hulle afsydigheid teenoor Juda (moontlik met verwysing na gebeure met die wegvoering in ballingskap uit Jerusalem in 586 v.C.).

Die maatstaf van die Godsverhouding wat ten alle koste in stand gehou moet word, sowel as dié van die handhawing van goeie menseverhoudinge (hier uitgespel in terme van die verhoudinge tussen nasies) word dus as die hoogste prioriteit uitgespel. ‘n Mens hoor die opsomming van die dubbele liefdesgebod, die liefde vir God en die liefde vir die naaste, hier helder weerklink!

  1. Jona – God ontferm Hom oor Nineve


Die boek Jona, tydgenoot van Jesaja, Hosea, Miga en Amos, vyfde in die ry, versag die boodskap van oordeel oor die nasies en verkondig die ontferming van die Here oor diégene wat hulle tot Hom bekeer, selfs as die profeet dit nie wil hê nie! Daarmee word God se oordeel en genade weereens as ‘n integrale deel van sy nabye verhouding met mense en ook selfs die natuur uitgespel.

Terloops, die historisiteit van Jona se verhaal al dan nie, verander nie wesenlik aan die boodskap van die boek nie. Die boodskap van God se deernisvolle hantering van mense bly dieselfde, onafhanklik van die hantering van die boek Jona as historiese óf as voorbeeldverhaal (Deist). Ek sal uitvoerig in ‘n spesiale ekskursus uitbrei hieroor wanneer ons die boek lees.

  1. Miga – God heers nou en vir altyd


Die boek Miga, tydgenoot van Jesaja, Jona, Hosea en Amos, sesde in die ry, spel egter die noodsaak uit om dié God se heerskappy te erken, want dieselfde oordeel wat Jona oor Nineve uitgespreek het, sal ook oor Israel en Juda voltrek word, as hulle hul nie tot die Here bekeer nie. Wat vra die Here immers anders van hulle: “as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?” (Mig. 6:8).

Wat die eerste ses Kleiner Profete dus tot dusver gesamentlik gesê het, is dat wat in die Godsverhouding tussen Hom en mense gebeur, het ‘n impak op hulle voorspoed en selfs voortbestaan – ten goede of ten kwade. Aan Hom moet hulle lojaal wees en bly in hulle liefde. Na Hom moet hulle begeerte wees. Aan Hom moet hulle in alles gehoorsaam bly.

Maar wat hierdie profete net so sterk op die tafel sit, is dat dié verhouding medebepaal word deur die wyse waarop mense in die gemeenskap teenoor mekaar optree. Sosiale geregtigheid en deernis met die weerloses is onafskeidbaar deel van die Godsverhouding. Trouens, dit is ook nie net van toepassing op die Godsvolk alleen nie. God verwag van alle mense om te doen wat reg is, troue liefde aan mekaar te bewys terwyl hulle noulettend die pad saam met God loop.

  1. Nahum – God voltrek sy oordeel oor Nineve


Daarom dat die sewende boek in die ry, Nahum, tydgenoot van Jeremia en Sefanja, só ‘n grusaam-helder boodskap van God se finale oordeel oor Nineve bevat. Omdat Nineve se bekering óf halfhartig was óf nie vir lank gehou het nie (volgens Joodse geskiedskrywing – vgl. verwysings in die Tobit en die Talmoed – hier is skakels na die onderskeie Engelse tekste by Ebible 1 en CDL 2), het die oordeel van Jona, al het hy nie gelewe om dit te aanskou nie, wel in vervulling gegaan.

  1. Habakuk – Nogtans sal ek in die Here jubel


Die agste boek, Habakuk, tydgenoot van Jeremia en Obadja, worstel in opvolg daarvan met die vrae wat Nahum op die tafel sit. As God só streng en grusaaam kan oordeel oor die nasies, wat dan van die onderdrukkende werklikheid die Galdeërs wat die Jode se voortbestaan bedreig? En hoe lank sal die onreg en geweld selfs onder die Godsvolk die oorhand hê? Waarop die Here hom oortuig dat al lyk dit op die oog af asof alles ten gronde gaan, God sal die regverdiges nie versaak nie. Op God se verlossing moet hulle wag, selfs al lyk dit asof dit talm.

Daarom kan Habakuk sê dat al lyk dinge op die oog af asof dit nie regkom nie, en eerder vererger: “nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag.” (Hab. 3:18-19). God versaak nie dié wat hulle toevlug tot Hom neem nie. Habakuk is dus op ‘n besondere manier ‘n boek van hoop, al het die ballingskap uiteindelik wel gekom.

  1. Sefanja – Ruk julle reg voor die toorn van die Here julle tref


Die negende boek, Sefanja, ook ‘n tydgenoot van Jeremia sowel as Nahum, waarsku egter dat dié belydenis van God se hulp net vervulling kan vind in die nougesette terugkeer na en bekering tot die Here, anders sal sy toorn hulle net so seker tref as wat dit Nineve getref het. Die dag van die Here sluit nie net genade in nie, maar ook oordeel. Sonder bekering sal die oordeel van die Here die volk verwoes, soos inderdaad met die wegvoering in ballingskap gebeur het.

  1. Haggai – Herstel die tempel, want Ek is by julle


Die tiende boek, Haggai, kan ná die boodskap van Sefanja daarom wel ‘n boodskap van bemoediging aan die leiers, Josua en Serubbabel, en die priesters sowel as aan die volk rig met die herbou van die tempel. Hulle kan volhard met hulle werk, want die Here het belowe dat Hy met hulle is. Hy sal dinge laat uitwerk as hulle net naby Hom bly en aan Hom gehoorsaam bly. Haggai help hulle dus om hulle prioriteite in lyn met God s'n te kry.

  1. Sagaria – Berei julle voor op die koms van die Messias-Koning


Die elfde boek, Sagaria, fokus die gedagtes van die volk, en veral die leiers Josua en Serubbabel – met agt geïnterpreteerde visioene – op die herstel wat God bring en in terme van die herbou van die tempel en stad deur die leiers uitgevoer moet word. Die visie is dat die gehoorsaamheid van die volk aan God ‘n inspirerende invloed op die nasies sal hê en hulle na Hom toe sal trek (hft. 1-8).

Maar, Sagaria versit ook die horison van sy verwagting verder na die Lydende Messiaanse Koning wat sal kom, en nie net God se mense met Hom sal verenig nie, maar ook God se finale koninkryk sal vestig. Dán sal God erken word as die koning, nie net in Jerusalem deur sy volk nie, maar ook deur die nasies, ‘n boodskap wat in die NT weerklank vind (hfst. 9-14).

  1. Maleagi – Bekeer julle van geestelike minagting


Die twaalfde boek, Maleagi, waarskynlik geskryf in die tyd van Nehemia, rond die boodskap van die Twaafl Kleiner Profete af deur die volk op te roep om die verbondsverhouding met God heelhartig te handhaaf deur Hom nie te minag nie. God handhaaf sy liefde ten spyte van hulle liefdeloosheid. God handhaaf ook die reg ten spyte van hulle ongeregtigheid. God sal altyd sy kant van die verbond handhaaf. Daarop kan hulle staatmaak.

Maleagi berei hulle ook voor om die deurlugtige, maar nog toekomstige, “dag van die Here” te verwag, wanneer die lankverwagte Messias te voorskyn sal kom wat versoening in die gemeenskap sal bring. Dan sal: “die son van redding deurbreek met genesing in sy strale.” (4:2).

‘n Gepaste noot om die hele OT af te sluit in afwagting van die vervulling van die NT se boodskap van die Messias wat die “dag van die Here” in vervulling laat gaan het.

Die boodskap vir vandag

Hierdie twaalf Kleiner Profete help ons dus om God in sy volhardende liefde (Hosea) en omvattende en universele ontferming (Jona) raak te sien. Deur hulle oë kry ons dit aan die een kant reg om God se boodskap van oordeel oor verwaandheid, geestelike afsydigheid en minagting van God se liefde te begryp (Obadja, Nahum, Sefanja, Maleagi). Hy soek immers geregtigheid in alle sfere van die lewe (Amos) en ‘n dankbare erkenning van sy heerskappy in en oor alles (Miga).

Tegelykertyd leer ons aan die ander kant by hulle hoe ‘n mens ten spyte van teenspoed, verdiend of onverdiend, steeds kan jubel in God en die hoop kan behou (Habakuk), jou kan verheug in die teenwoordigheid van die Here en jou hele lewe op die verhouding met Hom kan bou (Miga, Haggai) terwyl daar op die koms van die Messias-Koning en sy heerskappy gewag word (Joël, Sagaria, Maleagi). Hy sal ‘n omvattende verlossing bring wat sy vrede regoor die wêreld in geregtigheid sal vestig.
Links:
  1. http://ebible.org/kjv/Tobit.htm
  2. https://archive.org/stream/talmudofjerusale00schwr ich/talmudofjerusale00schwrich_djvu.txt
Post date: 2015-01-25 17:00:31
Post date GMT: 2015-01-25 15:00:31

Post modified date: 2015-01-20 11:42:02
Post modified date GMT: 2015-01-20 09:42:02

Export date: Thu Jun 20 15:57:48 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com