This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Wed Jun 16 17:26:22 2021 / +0000 GMT

Deuteronomium 11 – Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf



https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses sluit die eerste deel van sy tweede preek af met ‘n opsomming van drie vereistes in hulle verhouding met Hom wat hy telkens baseer op voorbeelde uit hulle geskiedenis met God sowel as op beloftes vir die toekoms.

  1. Hulle moet die Here God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam (Deut. 11:1-7).
  2. Hulle moet alles gehoorsaam wat God beveel, sodat hulle sterk kan optree (Deut. 11:8-12).
  3. As hulle die Here God liefhet en gehoorsaam, sal hulle vrugbaarheid in die land beleef (Deut. 11:13-17).

Die wil van die Here vir die lewe moet hulle hele lewe volmaak (Deut. 11:18-25).  Gehoorsaamheid sal die seën van die Here oor hulle bring. Ongehoorsaamheid sal die straf van die Here oor hulle bring (Deut. 11:26-32).

1.  Julle moet die Here God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam – Deut. 11:1-7

Die eerste vereiste wat Moses beklemtoon, is dat hulle die Here God moet liefhê.  Sy opdragte moet altyd gehoorsaam word.  Dit sluit al sy voorskrifte en bepalings en gebooie in.

Hy baseer die vereiste positief op ‘n oorsig van die hele gebeure van die Uittog uit Egipte af, die trek deur die Rietsee, en regdeur die woestyn tot waar hulle vandag voor die Intog in die beloofde land staan.  Deur dit alles het hulle telkens God se grootheid, magtige dade en tekens beleef.

Hy baseer die vereiste ook negatief op ‘n verwysing na die verset van Datan en Abiram wat die straf van die Here op die lyf geloop het.  Interessant genoeg laat hy Korag se naam hier uit, waarskynlik omdat sy seuns nie meegedoen het aan die sonde van hulle pa nie.  Lees meer daaroor in my bydrae Numeri 16 – Verset lei tot veroordeling wat net getroef word deur voorbidding en versoening.

2.  Julle moet alles gehoorsaam wat God beveel, sodat julle sterk kan optree – Deut. 11:8-12

Die tweede vereiste wat Moses beklemtoon is ‘n uitbreiding van die eerste, met die klem op die gevolge wat dit vir hulle sal hê.  “Julle moet alles gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat julle sterk kan optree en die land wat julle gaan verower, kan binnegaan en in besit neem.

Hy baseer dit op die feit dat gehoorsaamheid altyd gevolge het.  Gehoorsaamheid sal twee gevolge hê.  Die eerste gevolg sal wees dat die belofte van die tweede gebod (geen afbeeldings van God) in vervulling sal gaan in die geslagte, dat hulle baie lank sal kan bly woon in die land van die belofte.  Daarmee word die Abrahamitiese verbond en die Mosaïese verbond aan mekaar verbind.  Gehoorsaamheid verseker vir hulle die vervulling van die verbond aan Abraham.  Die tweede gevolg sal wees dat die Here vir hulle sal sorg, want anders as in Egipte waar hulle van besproeiing afhanklik was, sal hulle in Kanaän afhanklik wees van die reënwater wat God gee.

Dit beteken dus dat Moses hulle afhanklikheid van die Here onderstreep.  Daar is eintlik nie ‘n ander manier om die gawe van God te kan geniet nie.  As die land afhanklik is van God se sorg, dan sal hulle net daar kan leef as hulle afhanklik bly van God se sorg.  Hulle gehoorsaamheid sal hulle dus nie net sterk maak om te doen wat die Here van hulle gaan vra met die Intog nie.  Dit sal ook die manier wees waarop hulle die Here se belofte van sy seën kan bly verseker, want dit is Hy wat van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe ononderbroke sy oog daaroor hou.

3.  As julle die Here liefhet en gehoorsaam, sal julle vrugbaarheid beleef – Deut. 11:13-17

Met sy derde vereiste trek Moses die liefde vir die Here – met hart en siel – en die nougesette gehoorsaamheid aan die gebooie van die Here saam as voorwaarde vir die vrugbaarheid wat die Here vir hulle sal gee.

Hy baseer dit op twee kenmerke van God.

  1. God het die vermoë om reën te gee op die regte tyd. Hulle sal dus goeie oeste van hulle landbou kan geniet en goeie weiding vir hulle veeteelt hê, as hulle God liefhet en gehoorsaam.  Daardeur sal Hy hulle dankbaarheid leer.
  2. God het ook die vermoë om reën terug te hou. As hulle ander gode dien en vereer, sal die toorn van die Here teen hulle ontvlam en hulle die genot van die grondgebied ontsê.  Daardeur sal Hy hulle afhanklikheid leer.

Elia sou eeue later dié deel van Deuteronomium gebruik in sy gebed om droogte, sodat Agab en Israel hulle afhanklikheid van God sou kon besef.  Ná drie jaar het hy gebid om reën, sodat Agab en Israel tot dankbaarheid teenoor God beweeg kon word (vgl. my bydrae daaroor: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking).

Dat dít tevergeefs was, gegewe die afvalligheid en onsedelikheid van koningin Isebel, en die volk uiteindelik in ballingskap moes gaan, neem nie weg dat dit God se bedoeling was met sy beheer van die natuur nie.

Lees meer hieroor aan die einde van hierdie bydrae, veral hoe dié kenmerke van God in die NT hanteer word.

Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul – Deut. 11:18-25

Moses trek nou die basiese geestelike beginsel wat vir Israel in alles moet geld.  Die woorde van die Here moet hulle hele lewe vul.  Hulle dade (hande) en denke (voorkoppe) moet daaruit voortvloei.  Hulle moet in die privaatheid van hulle huise nie ophou om met hulle kinders daaroor te praat en dit vir hulle voor te leef nie. Hulle moet in die publieke ruimtes van die gemeenskap nie ophou om daaroor te praat en dit in alles as die maatstaf vir dade en denke te gebruik nie.  Dan sal dit met hulle goed gaan in die beloofde land.

Trouens, dit sal nooit ophou nie, so lank as wat die hemel en die aarde bestaan!  Hulle vyande sal voor hulle verdryf word en hulle sal selfs ander grondgebiede kan inneem: “Elke plek waar julle kom, sal julle s'n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees. Niemand sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, 'n skrik en angs vir julle oor die land laat kom.

Dit laat ‘n mens dink aan Jesus wat baie spesifiek klem gelê het daarop dat sy woorde in ons moet bly (talle plekke in Joh. 14-17; Openb. 22:7; vgl. Paulus in Hand. 20:35 en 2 Tim. 1:13).  Sy belofte is: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” (Joh. 15:7).

Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf – Deut. 11:26-32

Moses hou daarmee die pad van die lewe en die pad van die dood aan hulle voor, soos hy later weer sal herhaal in hoofstuk 28.  Die pad van die lewe lê in gehoorsaamheid.  Die seën van die Here sal kom as hulle Hom gehoorsaam.  Die pad van die dood lê in ongehoorsaamheid.  Die straf van die Here sal kom as hulle aan sy gebooie ongehoorsaam is.

Dit is duidelik dat dit nie ‘n rigiede wettiese nakoming van God se wil beoog het nie, eerder ‘n pad wat hulle saam met Hom moes bewandel.  Só sou hulle die volheid van God se belofte kon beleef:

Moses' role was not that of a great legalist or jurist, but was that of a man deeply concerned that the people who were under his charge should enter into the fullness of life that was potential in the covenant relationship with God.” (Craigie, The Book of Deuteronomy)

Simbolies moet hulle met die Intog die seën gaan afkondig op Gerisimberg en die straf op Ebalberg, soos hulle inderdaad gedoen het (Jos. 8:33).  Die twee berge het oorkant mekaar net wes van die Jordaan gelê, regoor Gilgal,  waar hulle die uitgestelde verbond van die besnydenis sou voltrek, die eerste paasfees in die land sou vier, en die eerste veldslag teen Jerigo sou onderneem (Jos. 5).

God gebruik die natuur om Homself aan mense te openbaar

Die vraag is natuurlik of hierdie kenmerke van God – dat Hy seën en straf, dat Hy die natuur gebruik in sy handelinge met mense – vandag nog geld.  Die wyse waarop die NT hieroor praat, dui aan dat God op dieselfde manier werk in die NT.  Hy gebruik steeds die natuur om Homself aan mense te openbaar.  Dieselfde doel kan daaragter bespeur word.  Wanneer dit goed gaan, wil God mense tot dankbaarheid beweeg.  Wanneer dit sleg gaan, wil God mense tot afhanklikheid beweeg.

Oorweeg die volgende paar opmerkings en laat my weet hoe julle hieroor dink.

DANKBAARHEID

Jesus beklemtoon die een kant van God se manier van doen – dat Hy seën en dit wys in die natuur – en sê in die Bergrede dat God dit laat reën oor slegtes en goeies (Matt. 5:45), soos Paulus dit ook op sy eerste sendingreis in Listra beklemtoon om hulle te evangeliseer (Hand. 14:17).  Dit is deel van God se algemene genade wat aan alle mense ten toon gestel word as getuienis van sy almag en genade.

En dit is deel van die  boodskap wat ons aan hierdie wêreld moet verkondig.  God se goedheid wys in sy gawes van reën en vrugbaarheid en is bedoel om ‘n mens tot eerbied en aanbidding van Hom te begelei.  Hy wil ons tot dankbaarheid aan Hom beweeg.

Maar, daar is ook ‘n ander kant van ons boodskap.

AFHANKLIKHEID

Jakobus, die een broer van Jesus, beklemtoon die ander kant daarvan – dat God straf en dit wys in die natuur – en haal die voorbeeld van Elia aan wat staatgemaak het in sy gebed op God se beheer van die natuur as boodskap aan die volk van Agab se tyd.  Eers het hy gebid vir droogte, in opdrag van die Here, en dit was droog.  Ná drie jaar het hy gebid vir reën, weer in opdrag van die Here, en dit het gereën (Jak. 5:17-18; vgl. 1 Kon. 17-18).

Die droogte in Israel het dus God se almag geïllustreer soos die oorvloed van reën wat ná drie jaar weer gekom het – ná die konfrontasie met die Baälprofete op die berg Karmel – dit ook gedoen het.

Jakobus gebruik dan dié voorbeeld om ons op te roep tot dieselfde tipe gebede, ook as gelowiges van die nuwe bedeling.  Hy help ons verstaan dat Elia: “'n mens net soos ons” was; dat Elia vurig gebid het vir die weer; dat God hom telkens geantwoord het.  Jakobus se gevolgtrekking?  “Die gebed van ‘n regverdige is kragtig en effektief.” ‘n Voorbeeld wat ons kán, trouens, móét navolg (vgl. my skrywe oor Jakobus 5 – Volhard in gebed).

In Jesus se Openbaring aan Johannes word dieselfde werklikheid onderstreep.  Die sesde trompet van Openbaring (9:13-11:14) – wat verwoesting saai onder mense – het ten doel om die mensdom van hulle aanbidding van lewelose afgode (die oortreding van die tweede gebod) te bekeer, alhoewel dit ook grotendeels as tevergeefs beskryf word.  Die mense gaan steeds voort om boosheid te bedryf, al gaan dit op allerhande maniere swaar met hulle.

‘n Mens sal dit eintlik as ‘n selfvernietigingsdrang kan beskryf, so hartseer is dit.  Mense – leiers en gewone mense – sien eenvoudig nie die waarheid in wat hulle kan vrymaak nie.  Trouens, hulle is in aktiewe verset daarteen (vgl. my bydrae daaroor: Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie).

VERLOSSING EN OORDEEL

Dit beteken dus dat die kerk nie kan ophou om dié boodskap te verkondig nie – die seën en die straf, die verlossing en die oordeel.  Die algemene en besondere genade van God moet verkondig word, soos Jesus en Paulus dit onder andere gedoen het, sowel as die feit van sy oordeel, soos Jesus, Jakobus en Johannes dit gedoen het (vgl. my bydrae daaroor: Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig).

In dié verband is Openbaring 11 vir my insiggewend.  Jesus fokus daar in die openbaring aan Johannes onder andere op die inhoud van die getuienis van die kerk deur leierskap en die verkondiging van die Woord (die simboliek van die twee getuies – vgl. my bydrae daaroor: Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis).  En Hy lewer getuienis daar af dat die kerk die mag het oor die weer en ander manifestasies van God se almag:

Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.” (Openb. 11:6).

Uiteraard onder God se bevel.

Met watter doel?  Dit alles geskied ter wille van die boodskap aan ‘n verlore gaande wêreld, om hulle afhanklikheid en dankbaarheid te leer.

Jesus fokus gelukkig ook in die hoofstuk op die bevestiging en beskerming van gelowiges as God se eiendom (gesimboliseer deur die tel van die aanbidders in die tempel) hoewel dit nie martelaarskap uitsluit nie.  Ook dié boodskap moet almal hoor wat Jesus in dié verband wil navolg.  Daar is ‘n prys te betaal vir absolute gehoorsaamheid aan God.

 

 


Post date: 2017-10-26 04:00:59
Post date GMT: 2017-10-26 02:00:59
Post modified date: 2017-10-25 11:35:24
Post modified date GMT: 2017-10-25 09:35:24

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com