This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Thu Dec 12 8:40:48 2019 / +0000 GMT

Bestry dwaalleer en bou julle lewe op julle heiligste geloof



'n Simbool vir die Trinitariese karakter van die Geloofsbelydenis van Nicea

Lees vandag die hele brief van Judas. Dit is ‘n kosbare verdediging van die oorgelewerde geloof, die enigste fondament van ‘n gesonde geloof.

Inleiding op Judas

Die brief van Judas word geskryf deur die: “dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus.” Daarmee kies Judas om sy geloofsbande met Jesus te beklemtoon eerder as sy familiebande.

Sy verwantskap met Jakobus maak dit egter tog duidelik dat hy familie van Jesus is. Saam met die brief van Jakobus het ons dus briewe van twee van Jesus se broers in die NT.

Judas se klem op temas uit die Joodse geskiedenis en sy aanvaarding dat dit bekend sal wees vir sy lesers, beteken dus waarskynlik dat hulle Joodse Christene was, anders as wat die geval was met die geloofsgemeenskap waaraan Petrus sy briewe gerig het.

Die verband tussen Judas en 2 Petrus 2

Daar is redelike verskil van mening oor hoe die verband tussen hoofstuk 2 van die 2de brief van Petrus en die brief van Judas verklaar moet word. Vyftien verse uit die brief van Judas se vyf en twintig verse kom in sy geheel of gedeeltelik ook in hierdie tweede hoofstuk van Petrus voor.

Die beste verklaring is waarskynlik dat Petrus en Judas onafhanklik van mekaar ‘n ander en gemeenskaplike bron gebruik, bv ‘n bestaande stuk kategetiese onderrigmateriaal, maar elkeen op sy eie manier.

Aanleiding

Judas val direk weg met die aanleidende rede van sy brief. Hy wil aan die een kant die leringe van dwaalleraars bestry wat verdeeldheid en onsekerheid onder hulle gesaai het. Aan die ander kant skryf hy om hulle op te roep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof.

Judas noem dié dwaalleraars goddeloses – praktiese ateïste, mense wat sê hulle glo in God, maar leef asof Hy nie bestaan nie – en losbandiges wat nie net God se genade misbruik het tot hulle eie voordeel nie, maar die gesag van die Here Jesus Christus verwerp het. Petrus noem hulle vals leraars – soortgelyk aan die vals profete van die OT – wat die Here Jesus verloën. Hy is ook duidelik daaroor dat dit tot hulle eie skade en ondergang is.

Bestryding van dwaalleer

Die leringe van die dwaalleraars word bestry met veral die uitleg van bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens ses OT temas: Eksodus, Vloedverhaal, Sodom en Gomorra, Kain, Bileam, Korag (Petrus gebruik nie die voorbeelde van die Eksodus, Kain en Korag nie), kan herken.

Daar is ook twee temas uit die pseudepigrafiese werke Henog 1:9 (Engelse vertaling – vers 14-15 – profesie van Henog – Petrus verwys nie hierna nie) en die Hemelvaart van Moses ((Engelse vertaling – vers 9 – stryd tussen Migael en die duiwel).

Ook nog verwysings na engele en hemelwesens uit twee ander werke: Testament van Naftali in vers 6 (Engelse weergawe) en die Testament van Aser in vers 8 (Engelse weergawe – Petrus verwys ook waarskynlik hierna).

Hierdie temas van die Joodse geskiedenis word later aangevul met die uitleg van ‘n tema uit die woorde van die apostels van die NT, sonder om die verwysing eksplisiet aan te dui (vers 18 – soos Petrus ook doen).

Judas gebruik die voorbeelde om die geloofsgemeenskap nie net te help om die dwaalleringe uit te ken nie, maar inderdaad versigtig te kan wees om nie op dieselfde wyse as hulle van die evangelie van Jesus Christus af te dwaal nie. Die voorbeelde uit die verlede is “waarskuwende voorbeelde” wat dien as afskrikmiddel weens die ellende wat hulle getref het.

1. Die eerste voorbeeld uit Eksodus (vers 5) herroep die eerste geslag in die woestyn wat nie op die Here vertrou het om hulle die land van Kanaän in te lei nie. Hulle is in die woestyn dood.

2. Die tweede voorbeeld kom uit die pseudepigrafiese werke Henog en die Testament van Naftali (vers 6) met verwysing ook na die verhaal in Genesis 6:1-4 oor die engele wat nie God se gesag oor hulle aanvaar het nie, en met mense vermeng het. Hulle het daardeur hulle posisie voor God verloor en word in bewaring gehou vir die einde van die tyd en die oordeel.

3. Die derde voorbeeld kom ook uit die verhaal van Genesis 19 (vers 7) en herroep die verhaal van Sodom en Gomorra en verbind dit aan die Genesis 6 verhaal. Dit is interessant dat dit nie die geweld van die beplande verkragting van Genesis 19 is wat hier in herinnering geroep word nie, maar die teen-natuurlike perverse karakter van die tipe seksuele omgang. Hulle is daarom deur God verwoes. Judas verwys anders as Petrus nie na Lot se ervarings nie.

4. Die vierde voorbeeld kom uit die Hemelvaart van Moses (vers 8-9) en haal die gesprek tussen Migael en die duiwel aan as veroordeling van die dwaalleraars wat nie dieselfde respek in hulle eie gesprekke oor hemelwesens as Migael betoon het nie.

5. – 7. Die vyfde tot sewende voorbeeld kom uit Genesis 4 (Kain), Numeri 22-24 (Bileam), en Numeri 16 (Korag). Daarmee word moord (6de gebod - Kain was nie net die eerste moordenaar nie, maar ook dié een wat hom téén God en sy broer verset het, en daarmee die dubbele liefdesgebod verbreek het), onsedelikheid en hebsug (7de en 10de gebod - vgl. Num. 31:16; Deut. 23:4-5; Openb. 2:14 vir meer inligting oor Bileam) sowel as die verwerping van godsdienstige gesag (5de gebod - Korag, Datan en Abiram het hulle teen Moses en Aäron se leiing verset en die tragiese gevolge gedra) veroordeel.

Judas beskryf hierdie dwaalleraars daarom as “skandvlekke”, mense wat skaamteloos net vir hulleself sorg. Met ses verskriklike metafore beskryf hy hulle as: “miswolke wat deur die winde voortgedryf word”, “bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan”, mense wat “twee maal dood” is – omdat hulle die lewe wat aan hulle voorgehou is, verloën het – “ontwortel”, “woeste seegolwe wat hulle eie skandes laat opskuim”, en “dwaalsterre” vir wie net die diepste duisternis voorlê (versus die drie metafore van Petrus).

8. – 9. Hy vervolg met nog twee voorbeelde, die agste een ‘n profesie uit Henog gemik teen die dwaalleraars se goddeloosheid (vers 14-16 – vgl. Gen. 5:4-20 vir sy geslagsregister), en die negende een uit die boodskap van die apostels gemik teen hulle gespottery (vers 17-18 – vgl. die volgende gedeeltes vir ‘n algemene tematiese ooreenstemming: 1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1; 4:3; selfs ook Mark. 13:6,22).

Opsommenderwys beskryf hy hulle ten slotte as “klaagsiekes”, “knorpotte”, mense wat hulle “eie drange uitleef, “grootmond” wat ander “vlei … vir eie gewin”. Meer negatief kan ‘n mens dit amper nie stel nie! Dit is hulle wat skeuring bring omdat hulle nie met die dinge van die Gees werk nie, maar net hulle eie begeerte, d.w.s. aardse dinge.

Oproep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof

Daarteenoor spel Judas uit hoe die geloofsgemeenskap moet optree. Dit is opvallend hoe Judas dié geloof op Trinitariese wyse uitspel:

  1. Bou julle lewe op julle heiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid.” Hulle geloof in God word hier direk gebind aan hulle gebed deur die Gees. ‘n Mens herroep die opdrag van Paulus dat die Gees ons juis in ons swakheid bystaan en vir ons pleit met sugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom. 8:26). Dit is iets wat ons altyd moet doen (Ef. 6:18).
  2. Bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag.” God se liefde is soos ‘n jas wat ons moet aantrek, sodat ons daarin kan bly en dit ons kan bewaar. En dit is iets wat nie net vir hierdie lewe betekenis het nie, maar ook vir die toekoms. Let op dat ons toekoms toegevou is in die ontferming van die Here Jesus Christus.

Dít is die wyse waarop ‘n mens jou lewe bou op jou heiligste geloof. Dit is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel. God se ontferming vir ons, moet ons ook tot ontferming vir ander aanspoor, maar met versigtigheid dat dit nie negatief impakteer op ons eie verhouding met die Here nie. Let op hoe mense wat “twyfel” van naby af omhels word, maar dié wat verder afgedwaal het, meer drastiese stappe verg: sommige moet ons: “red deur hulle uit die vuur te ruk” en ander moet ons baie versigtig ons oor ontferm. Die gevaar van besoedeling is groot.

Lofprysing

Judas sluit sy brief af met ‘n soortgelyke lofprysing op God se bewaring as wat Paulus in sy Romeinebrief doen (Rom. 16:25-27). Hy loof God dat Hy die mag het om hulle van struikeling te bewaar. Nie net dít nie, ook onberispelik en jubelend. Veral laasgenoemde verbly my hart! Hy loof God verder dat Hy ewig is: “van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid.” Dít is die God wat ons aanbidding en toewyding die moeite werd maak!

Boodskap

Judas herinner ons aan hoe maklik ‘n mens kan afdwaal weens losbandigheid en hebsug. Sy voorbeelde is bedoel om te skok en ons versigtig te maak aan die een kant vir dwaalleraars, maar aan die ander kant ook vir ons eie begeertes wat ‘n wig tussen ons en God kan indryf.

Maar die belangrikste boodskap bly die positiewe oproep om die verhouding met God ‘n absolute prioriteit te maak. Judas help ons verstaan dat dit ‘n drie-stap proses is:

  1. Bou julle lewe op julle heiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid.” Ons geloof in God word gebou op gebed deur die Gees. Dit is iets wat ons altyd en voortdurend moet doen.
  2. Bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag.” God se liefde is regtig soos ‘n jas wat ons moet aantrek, sodat ons daarin kan bly en dit ons kan bewaar. Dit is iets wat vir hierdie lewe betekenis het, asook vir die toekoms.
  3. Ontferm hulle ook oor diegene wat twyfel.” God se ontferming vir ons is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel. Ons moet dit versigtig doen, maar nooit terugdeins daarvan af nie.

 

 


Post date: 2019-04-07 04:00:55
Post date GMT: 2019-04-07 02:00:55
Post modified date: 2019-04-07 06:57:53
Post modified date GMT: 2019-04-07 04:57:53

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com