Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is

Ek onthou steeds baie helder die effek wat vers 16 op my gehad het in my standerd 5 jaar.  My ma het by huisgodsdiens Romeine 8 gelees.  Toe sy vers 16 lees: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is,” het ek in trane uitgebars.  Ek was diep geraak deur die feit dat God binne in ons die sekerheid bring dat ons sy kinders is en dat dit by uitstek die werk van die Heilige Gees is.

Baie jare later sou my ma my vertel dat sy daardie dag geweet het dat ek predikant sou word.  Ek moes egter ’n lang pad loop voor die oortuiging aan die einde van my skoolloopbaan tot my gekom het.

Maar ek sal nooit die vertroosting van God se aanraking daardie aand vergeet nie.

En dit is uiteindelik die boodskap van Paulus in dié hoofstuk.  Daar is net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees.  Geen wonder Hy word 20 keer genoem in hierdie hoofstuk nie!

’n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie, daarvoor is ons sondige vlees te swak.  Dit kan net wees deur ’n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ’n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (8:13). ’n Mens kan selfs sê soos Paulus dat daar ’n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees (8:2).

Hiermee sluit Paulus aan by ’n hele paar OT profete wat reeds ’n paar 100 jaar tevore verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom.  Jeremia het daaroor gepreek in Jer 31:31-34, Esegiël het dit aan die ballinge verkondig in Eseg 11:19-20, en Jesaja laat ook van hom hoor in Jes 65:17-25.

Let op hoe Paulus dit as ’n geestelike werklikheid skets (8:9), maar ook as ’n fisiese konkrete werklikheid: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11).  Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.

Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie.  Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.

Romeine 7 – Die Gees is die agent van verandering, nie die wet nie

Dit help baie om die volgende in gedagte te hou om sin te maak uit Paulus se gedagtegang in hoofstuk 7-8:

  • Let op dat Paulus in die eerste perikoop 7:1-6 van die gemeenskap van gelowiges praat in die meervoud (julle, ons).  Hy kontrasteer hier die mens onder die wet met die mens onder beheer van die Gees wat ’n inleiding is op wat gaan volg.
  • In die tweede perikoop 7:7-25 praat hy van homself (outobiografies) in die enkelvoud as voorbeeld van ‘n mens onder die wet (ek).
  • In 8:1-3 gebruik hy ook aanvanklik die enkelvoud (jou) om te korrespondeer met 7:7-25 en te wys dat die wet van die Gees jou (hom) vrygemaak het van die wet van sonde en die dood.  Hy is nou onder beheer van die Gees.
  • Daarna praat hy in 8:4-17 verder in die meervoud, waar hy van die effek van die heerskappy van die Gees op die gemeenskap van gelowiges (julle, ons) praat.

Die tweede perikoop 7:7-25 is dus ’n beskrywing van die ongelukkige posisie van iemand wat nog onder die wet lewe, dws voordat die verlossing in Christus en die heerskappy van die Gees ’n totale verandering bring.  En hoofstuk 8 skryf oor die gelukkige posisie van iemand wat in Christus en onder die heerskappy van die Gees lewe.

Ek kies hier in 7:7-21 vir die meer outobiografiese standpunt – Paulus wat van sy lewenstryd teen die sonde praat – teenoor die ander twee breë standpunte wat dit sien as ’n beskrywing van 1) die onverloste mens en sy verslawing aan die sonde en 2) die reeds verloste mens en sy stryd teen die sonde is.  Maar aldrie standpunte kan met reg gemotiveer word.

Sommige sê daarom dat die gedeelte eintlik die effek van die wet op mense beskryf, en dat dit van toepassing bly op elkeen wat nog verslaaf is aan die sonde, sowel as almal wat reeds die Here leer ken het, maar steeds volgens die wet probeer leef.  Daarteenoor word die vryheid van die heerskappy van die Gees beskryf wat vir beide groepe ’n verlossing sal wees.

’n Paar ander opmerkings:

  • Paulus werk in die eerste perikoop met die beginsel van die wet van Moses wat gesag het oor ’n mens terwyl jy lewe.
  • Hy gebruik ’n voorbeeld uit die huwelikslewe – ’n vrou is gebonde aan haar man terwyl hy lewe.  Met sy dood is sy vry om aan ’n ander te behoort.
  • Met sy toepassing van hierdie voorbeeld op ons verbintenis met Christus (6:3-4), draai hy egter die beeldspraak om, en beskryf ons (die vrou) as dood vir die wet (die man) en lewend vir God (Christus as die nuwe eggenoot).  Dit is ’n gedagte wat Paulus al vroeër gebruik het in die brief aan die Korintiërs (2 Kor 11:2) en verder op sal uitbrei in sy brief aan die Efesiërs (5:25).
  • Dit plaas ons onder ’n verpligting om ’n vrugbare lewe in diens van God te voer.
  • Ons kan nou dien in die nuwe bedeling van die Gees waarop hy in hoofstuk 8 verder sal uitbrei.
  • In die tweede perikoop wil Paulus keer dat die wet as minderwaardig of selfs sondig gesien word.  Die wet wys die sonde onomwonde uit.  Anders sou ’n mens nie weet wat alles sonde sou wees en watter nie.  Maar, in die nuwe bedeling word daardie funksie nou deur die Gees vervul.
  • Die skuld vir die oortredinge wat mense begaan lê in die “sonde-siekte”, nie in die wet nie.  Die skrikwekkendheid van die sonde kom juis na vore dat ten spyte van die goeie aard van die wet, die wet weens die “sonde-siekte” eintlik sonde aanblaas.  Die wil om die goeie te doen is nie genoeg nie.  En die wet kan nie daarmee help nie.  Iets meer is nodig.  Jesus Christus moet ’n mens verlos, waarop hoofstuk 8 nou gaan uitbrei.

Wat my tref is dat dié gedeelte baie helder sê dat die Gees die wet vervang het as die agent van verandering.  Die wet kon in elk geval nooit slaag nie, weens my sondige aard.  Maar die Gees sal slaag omdat Hy die sonde binne my kom oorwin.  Hy word dus die stem van God binne my, waar die wet altyd die stem van God buite my sou bly.

Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie

Paulus werk nou met twee waarhede in hierdie hoofstuk wat voortspruit uit die feit dat ons vrygespreek is en daar nou vrede is tussen ons en God en ons vrye toegang tot Hom het:

1.      Ons is dood vir die sonde en die mag daarvan.

2.      Ons is lewend vir God.

God en die sonde word as’t ware as twee magte of kragvelde geteken wat teenoor mekaar staan.  Ons is uit die kragveld van die sonde geneem en geplaas in die kragveld van God.  En dit is waar ons moet lewe, in die kragveld van God.

Dit is waarhede wat ons daagliks vir onsself moet toereken: “Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (6:11).

Die beginpunt of oorsaak daarvan is ook tweërlei:

1.      Ons het deur die doop deel gekry aan Christus se kruisdood.

2.      Ons het deur die opstanding deel gekry aan die lewe vir God.

Dit is ons eenheid met Christus wat ons ’n aandeel gee aan die sondedood (of die genesing van ons “sonde-siekte”) en die opstandingslewe.  En dit is ook net in ’n verhouding met Jesus Christus wat dit vir ons waar is en bly.

Dit het twee implikasies vir ons daaglikse lewe:

1.      Ons kan nie meer in die sonde voortlewe nie.

2.      Ons is nou in diens van wat God wil.

Daarom moet ons elke deel van ons liggame – en let spesifiek op dat hy hier nie net van ons siel of gees praat nie – in diens van God stel om heilig te lewe; dws om nie sedelik onrein te lewe nie, nie sonder enige riglyne te lewe nie (wetteloos), en nie losbandig te lewe nie (6:19 – let op hoe hy terugverwys na hoofstuk 1).  Dit mond uit in die ewige lewe.

Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang

Hoofstuk 5-8 spel nou die gevolge van God se vryspraak in ons lewe uit.  Daar is nou vrede tussen ons en vrye toegang (Heb 10:19) tot God.  Let op hoe hy nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle.    Let ook op hoe hy weer van die drietal: geloof (x2), hoop (x3) en liefde (x2) praat, maar dus die klem hier meer op die hoop laat val.

5:1-11: Die eerste perikoop van hoofstuk 5 is ’n lofsang en geloofsbelydenis oor die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het op grond van sy vryspraak.

Let op hoe hierdie genadegawe alles verander: aan die een kant bring dit die hoop dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self.  Aan die ander kant kan ons ons ook verheug in ervarings van swaarkry, want dit bring volharding, wat lei tot egtheid (beproefdheid) van geloof, wat net soseer as die  ervaring van genade lei tot hoop.

Wat dit vir my in ’n afgeleide sin sê en beteken is dat ek my kan verheug oor God se voorsiening, want dit skep hoop by my.  Maar ek kan my ook verheug oor swaarkry omdat dit net soseer hoop by my skep deur die vrug wat dit bring in terme van volharding en egtheid.

Dit alles is moontlik omdat God se liefde in my hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat my oortuig dat Hy in my woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.

5:12-21: Paulus keer terug na die onderwerp van die sonde, maar sit vir die eerste keer Adam op die tafel om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer.

Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer.  In Adam se sonde as die simboliese beginpunt van die menslike geslag het alle mense deel.  Adam se sonde het die dood gebring vir alle mense.

Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense.  Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe mensheid laat voortspruit.  En deur Hom voer die genade nou heerskappy eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.

Beoefen vandag Lectio Divina

Vanoggend wil ek voorstel dat jy ‘n teks kies uit die vier hoofstukke van Romeine wat ons klaar gelees het en wat vir jou die meeste beteken het.  Die teks wat vir my die meeste beteken het, was:

Rom 4:18: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte.”

Gebruik nou die Lectio Divina metode om die teks te lees wat jou die meeste getref het:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar in gebed die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te lewe – sit gemaklik en spandeer 3-5 minute hieraan.
  2. Lectio – lees die teks hardop 2 of 3 keer en fokus op die vers of selfs net ‘n gedagte wat jou daarin tref – gee ruim tyd hiervoor.
  3. Meditatio – oordink die praktiese impak daarvan op jou lewe
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat – probeer om 3-5 minute net stil te wees voor die Here
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê – laat die teks jou deur die dag begelei.

Onlangse kommentaar