Skip to main content

2 Samuel 17

God werk agter alles sy wil uit in die doen en late van mense

Agitofel volg sy raad aan Absalom om by Dawid se vroue te slaap as simbool van sy oorname van die koningskap op met die aanbod om self dadelik uit te trek en Dawid dood te maak. Gusai kry dit reg om egter hierdie tweede plan van Agitofel te verydel en Dawid kans te gee om deur die Jordaan te kom en Maganajim te bereik, die plek waar Jakob die Here ontmoet het.

Teks en konteks

Dawid het reeds gebid dat Agitofel se raad verydel sal word, en hier sien ons hoe dit inderdaad gebeur.

Agitofel het voorgestel dat hyself met twaalfduisend man Dawid daardie nag nog agternasit en hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Selfs die oudstes het met Agitofel saamgestem. Dit was goeie raad.

Gusai saai egter baie diplomaties en met baie woorde twyfei in Absalom se gemoed oor wat die beste optrede sou wees, veral in die lig van Dawid se bewese vaardigheid in oorlog: “Hulle is helde, en hulle is so omgekrap soos ‘n beer in die veld wat van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader ‘n krygsman; hy sal nie by die mense slaap nie.” Hy streel selfs Absalom se ego deur voor te stel dat Absalom self teen Dawid opruk, en slaag daarin om só Agitofel se raad te verydel.

Gusai maak selfs in die geheim voorsiening vir in geval sy raad nie gevolg word nie deur die twee priesterseuns opdrag te gee om Dawid deur die Jordaan te laat trek.

Gusai kry dus dit reg om tyd te wen vir Dawid om deur die Jordaan te trek en só ‘n allerbelangrike afstand tussen hom en Absalom te kry, sodat hy sy mense in beskerming kon laat, en sy manskappe kon monster om die aanval die hoof te bied.

Die kort opmerking in 2 Samuel 17:14 gee ons egter die dieper perspektief op die verloop van sake: “Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.”

God is dus agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense.

Toe Agitofel sien dat sy raad nie gevolg word nie, het hy homself opgehang, want hy het geweet dat Absalom nie ‘n kat se kans sou staan om Dawid te oorwin as dié eers sy troepe kon monster nie. Sy selfmoord is een van sewe gevalle in die Bybel (sommige met hulp). Agimeleg (Rigt 9:54), Simson (Rigt 16:30), Saul (1 Sam 31:4), Saul se wapendraer (1 Sam 31:5), Simri (1 Kon 16:18) en Judas (Matt 27:5) is die ander ses gevalle.

Dawid het in Maganajim aangekom – die plek waar Jakob die Here toentertyd ontmoet het met sy terugkoms na Kanaän. Ook net betyds, want Absalom was kort op sy hakke deur die Jordaan. Daar kon Dawid sy mense in beskerming laat, en hulle almal toelaat om genoeg te kry om hulle honger en dors te stil, ’n bietjie te rus, voordat hulle die volgende dag die wapens sou moes opneem vir die oorlog wat op hande was.

Let op dat God vir Dawid by Mahanaim ook op ander maniere voorsien. Drie manne word spesifiek genoem. Sobi, ’n ander seun van Nagas, wat ’n ander houding oor Dawid gehad het as sy broer, Ganun, teen wie Joab steeds oorlog gevoer het. Ook Magir, die seun van Ammiël van Lo-debar, wat vroeër vir Mefiboset gesorg het, en vir  Dawid hier eer omdat hy sy belofte aan Saul en Jonatan nagekom het om Mefiboset onder sy vlerk te neem. En ook Barsillai, die Gileadiet, ‘n bejaarde man van groot rykdom, wat voorrade vir Dawid en dié saam met hom gebring het. Ons sal later meer oor hom in hoofstuk 19 lees.

Dit is hoe God voorsien!

Boodskap en betekenis

Dit is eintlik net ongelooflik hoe God vir Dawid hier sorg. Aan die een kant deur sy vyande se planne in die wiele te ry sodat Dawid genoeg spasie het om reg te maak vir die dreigende oorlog. Aan die ander kant om die regte vriende op te roep om vir hom voorrade, selfs beddegoed te voorsien, sodat hy die moed sou kry om op te staan teen die rebellie van sy seun, Absalom, en nie onder die druk daarvan te vou nie.

God werk agter alles, en in en deur die besluite van vyande en vriende, om sy wil vir Dawid se lewe te laat gebeur. Eenvoudig verstommend.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan
  • Chris van Wyk on Psalm 11Dankie, Jenny. Ek het self weer baie moed uit dié Psalm 11 gekry. Veral uit die feit dat ons nie baie beheer het oor die fondamente nie, maar op God kan vertrou wat opregtes suiwer en goddeloses skroei, soos dit in die laaste deel van die Psalm uitgespel word. God kan oneindig meer doen as wat ons k…
  • Jenny on Psalm 11Baie dankie vir die boodskap wat weereens soos vorige boodskappe my help om deur baie swaar tye te kan kom. Die laaste jaar is daar so baie berge wat my toesak dat ek net kan vasklou aan God se woord en U maak dit makliker om sekere dinge beter te verstaan en net aan te hou glo en vertrou. Baie dank…
  • Chris van Wyk on Die Twaalf Kleiner ProfeteDankie Johan, waardeer.
  • Johan v Zyl on Die Twaalf Kleiner ProfeteHi Chris net so baie dankie vir die enorme werk wat jy in Bybelskool doen. Ek gebruik dit elke dag in my bediening hier in Lichtenburg Klipkerk. Ek het op 60 die Bybel herontdek met nuwe passie . Jesusliefde Johan v Zyl
  • Chris van Wyk on Salwing in die BybelEk is bly, Stoffie, dat ek kon help. Die waarhede in die Skrif is ons diepste en enigste beskerming teen dwaling.
  • Stoffie Van Dyk on Salwing in die BybelEk het die afgelope Sondag 'n diens bygewoon wat my baie ontstem het - mense in die gehoor is gesalf deur 'n "profetes", en snaakse dinge het gebeur. Hierdie hele skrywe oor die salfgebruik, en van die antwoorde op vrae was vir my baie leersaam omdat dit vir my Skriftuurlik is. Baie dankie
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 18Dankie Lesley, waardeer.
  • Lesley Barnard on 2 Samuel 18Pragtig, ñ mooi toepaslike verduideliking.
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 17Hi Hettie. Daar is twee letters in Hebreeus wat amper dieselfde geskryf word, maar verskillend uitgespreek word. Daar is die normale h wat uitgespreek word soos ons dit normaalweg doen. Dan is daar egter ook die letter ḥ (geskryf met 'n h met 'n punt onder) wat anders uitgespreek word. Die uitspraak…
  • Hettie Swart on 2 Samuel 17Baie dankie vir die oopbreek van die Woord. Ek sien dat my Bybel 35 vertaling na Husai verwys en nie Gusai soos in die Bybelstudie aangetoon word nie. Is dit verskillende uitsprake vir dieselfde mens? Help my reg asseblief.
  • Chris van Wyk on Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe👍