This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Tue Mar 9 0:32:04 2021 / +0000 GMT

WEEK 5: 2 Samuel 1 – hoe het die helde geval



Dit tref my dat Dawid so geroer is deur die dood van Saul.  Oor Jonatan sou ek dit nog kon verstaan, maar oor Saul, die een wat verantwoordelik was vir soveel van Dawid se ontberinge?  Dawid teken egter weereens vir Saul as die gesalfde van die Here.  Sy respek vir die amp van Saul is dus ten diepste respek vir die Here.  En dié grens sou hy nooit oorsteek nie, om die reg in eie hande te neem, die gesalfde van die Here te vernietig, selfs al bedreig hy Dawid se lewe. Die Amalekiet se weergawe van hoe Saul dood is, verskil van die gegewens in 1 Samuel 31.  Moontlik wou die Amalekiet sy eie aandeel in die dood van Saul vergroot ter wille van een of ander beloning, daarom dat hy sê dat hy Saul doodgemaak het.  Dat die Amalekiet dit, anders as wat hy verwag het, moet ontgeld, is grusaam, maar tekenend van Dawid se integriteit en lojaliteit.  Onthou ook dat dit die Amalekiete was wat net tevore Dawid se mense in Siklag ontvoer het.  En dit was teen die Amalekiete wat Saul die bevel van die Here oortree het en sy koningskap verloor het (1 Samuel 15).  Hier is dit dan 'n Amalekiet wat sê dat hy Saul om die lewe gebring het.  Veel later sou dit die nageslag van Agag, ook 'n Amalekiet, wees wat in die persoon van Haman (verhaal van Ester) die Israeliete sou bedreig. Niemand mag egter, in die oë van Dawid, hulle hand aan die lewe van die gesalfde van die Here slaan nie.  Selfs nie aan sy familie nie, sal ons later in hoofstuk 4 lees.  Dawid neem ook later Mefiboset, seun van Jonatan in sy sorg (hoofstuk 9), hoewel daar egter ook nog die grusame verhaal van die seuns van Rispa en Merab sou kom (hoofstuk 21). Dawid treur in sy treffende klaaglied roerend oor die verwoesting van die trots van Israel, Saul en Jonatan.  Drie keer verwoord hy sy pyn met die frase: hoe het die helde geval.  Veral oor Jonatan, die een na aan Dawid se hart, is sy hartseer groot.  Dawid sing dié lied dus met 'n waarderende gesindheid.  Hy verlekker hom nie in die ongeluk wat Saul oor sy swakhede en booshede getref het nie, maar laat die volk die goeie oor Saul en Jonatan onthou.  Interessant dat die lied in die Boek van die Opregte opgeteken is (vgl ook Jos 10:13) en aan die volk geleer is.

 

 


Post date: 2009-11-19 00:00:07
Post date GMT: 2009-11-18 22:00:07
Post modified date: 2009-11-19 00:00:07
Post modified date GMT: 2009-11-18 22:00:07

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com