Skip to main content

2 Konings 6:1-23

God kan in alles vertrou word om uitkoms te gee

Die verhaal van Elisa as wonderwerker word voortgesit, waarin hy ‘n arme profeet help om ‘n bylkop weer te vind, sowel as om in internasionale konflik die Arameërs se bedreiging ‘n paar keer af te weer eers deur insig in hulle planne, en dan deur die blindheid waarmee hulle geslaan word. Elisa se vermoë om die Aramese strooptogte op Israel te stop, onderstreep weereens die krag en gesag waarmee die Here hom geseën het. Hy weet wat ander agter geslote deure beplan, en sien selfs bonatuurlike wesens wat vir ander mense onsigbaar is.

Teks en konteks

Met die uitbreiding van die profetegroep beplan hulle ‘n gesamentlike woonplek wat dit waarskynlik meer koste effektief sou maak as dat elkeen in sy eie plek bly (vgl die weduwee van die profeet wat in haar eie huis bly – 1 Kon 4; dieselfde is waar in Samuel se tyd waar van woonkwartiere in die meervoud gepraat word – 1 Sam 19:18).

Hulle nooi vir Elisa saam na die Jordaan waar hulle hout vir die bouwerk bymekaar gemaak het. Toe een van hulle ‘n geleende bylkop van yster in die water verloor, gooi Elisa ‘n stukkie hout in die water wat die kop op wonderbaarlike manier laat dryf sodat die profeet nie in die verleentheid kom nie. Yster was baie duur in daardie tyd en die profeet sou moontlik ‘n slaaf moes word om met sy arbeid daarvoor te betaal. Elisa red hom dus van ‘n slawebestaan.

Die verhaal van God se hulp aan ‘n profeet word opgevolg met ‘n verhaal van sy hulp aan die hele Noordryk. Die tydperk van hierdie oorloë tussen die Arameërs en die Israeliete word egter nie presies gedefinieer nie, en ook nie hulle konings nie.

Op bonatuurlike wyse kan Elisa die koning van Israel help om ‘n paar keer die aanvalle van die koning van Aram die hoof te bied, omdat hy presies vir die koning kan sê waar die aanvalle sou plaasvind.

Elisa se nabyheid aan die Here laat die Arameërs later dink dat Elisa alomteenwoordig is, en weet wat selfs in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!

Die koning van Aram trek egter teen Elisa op en omsingel die dorp Dotan toe hy ‘n keer daar was. Toe sy dienaar – waarskynlik Gehasi – radeloos vra wat hulle teen die oormag kan doen, vra Elisa dat sy oë oop gemaak word vir die leërskare van die Here wat beskikbaar is om hulle te help.

Elisa bid met die naderkom van die Arameërs dat die Here hulle met blindheid moet slaan waarna hy hulle na Samaria toe neem en in die mag van die koning van Israel oorhandig.

Let op hoe die Here se barmhartigheid geïllustreer word met die ete wat die Arameërs in Samaria te beurt val, eerder as die dood. Dit het ‘n verposing gebring in die konstante aanvalle van die Arameërs.

Boodskap en betekenis

Die kombinasie van die verhaal van die drywende byl en die gasvryheid vir die blinde vyande gee vir ons ’n visie op God wat ’n mens met alles kan vertrou, omdat Hy nie net besorgd is oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop. Die welsyn van sy getroue diensknegte is vir die Here belangrik.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar