Bybelskool
https://bybelskool.com/2-konings-16-17-hulle-het-agter-afgode-aangeloop-wat-niks-is-nie-en-so-het-hulle-self-niks-geword/
Export date: Sat Jul 24 10:44:54 2021 / +0000 GMT

2 Konings 16-17 - Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword


Agas word koning in Juda en volg nie die voorbeeld van sy pa, Jotam nie.  Hy loop die pad van die konings van Israel, nie net in terme van die afgodsoffers nie, maar selfs deur die offer van sy eie seun.  Hy gaan ook 'n verdrag met die opkomende Assiriërmag van Tiglat-Pileser III aan om die uitdaging van die Arameërs en die Noord-ryk af te weer, die sogenaamde Siro-Eframitiese oorlog (Jes 7), en dompel Juda nie net in die skuld daardeur nie, maar bring ook van die Aramese godsdiensgebruike terug na Jerusalem na 'n besoek aan Damaskus. Let op hoe die priesters saamwerk om die heiligdom van God te ontheilig en hoe Agas ter ere van homself offer.  Ten spyte van die profeet Jesaja se ernstige aandrang dat hy op die Here moet vertrou en nie op die Assiriërs nie, kan hy homself nie so ver kry om God te vertrou nie. Hoewel Hosea, die 19de koning van Israel, minder kras geoordeel word as die konings van Israel voor hom, ten spyte selfs van die feit dat hy Peka vermoor het om die troon te bestyg, is hy die laaste koning van Israel in wie se tyd die ballingskap uiteindelik 'n werklikheid word vir die 10 noordelike stamme in die jaar 722 vC.  Die genadetyd het uitgeloop vir Israel.  Hosea verbreek sy aanvanklike ooreenkoms met Salmaneser, koning van die Assiriërs, deur nie belasting te betaal nie, en by Egipte (koning So van die Nyldelta, nie die farao nie) hulp te soek, en word gevange geneem, en na drie jaar se beleg, word Samaria ingeneem en die Israeliete na Assirië weggevoer. Hierna volg 'n opsommende verklaring van die rede vir die ballingskap wat uiteraard in die eerste plek vir die ballinge self verduidelik waarom hulle in 'n benarde posisie in die vreemde sit.  Maar in die tweede plek is dit 'n aanduiding van wat God verwag van sy mense:
  1. dankbaarheid/verering vir God vir verlossing (17:7),
  2. 'n lewenstyl volgens sy wil en nie volgens die gangbare gebruike van die ander volke nie (17:8) en
  3. aanbidding van God alleen en volgens sy voorskrifte wat ander gode uitsluit (17:9-12).
Interessant dat die skrywers meld dat Israel dinge aan God toegedig het wat nie waar was nie.  Dit het begin met die goue kalwers wat Jerobeam in Dan en Bet-El opgerig het, wat tot verkeerde persepsies van God aanleiding gegee het, en daarom deur die volk en die konings nagevolg is.  Hoewel die Here oor eeue moeite gedoen het om die volk deur die profete en sieners te waarsku, en sy beeld te herstel, het die konings en die volk die waarskuwings in die wind geslaan en die gevolge gedra.  Hulle het mense van geen betekenis geword:
“hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword” (17:15)
Die ballingskap het egter 'n verdere nadraai gehad, immigrante van oral oor is deur die Assiriërs in die Noord-ryk se grondgebied kom vestig.  Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon.  Hieruit het die Samaritaanse volk ontstaan, uit die vermenging van Israeliete wat in die land agtergebly het, met die immigrante uit alle wêrelddele.  Selfs die terugbring van een van die priesters om die nasies te leer om die Here te vereer, na 'n plaag van leeus deur die Here gestuur is, het nie die situasie ooit heeltemal herstel nie.  Sinkretisme was aan die orde van die dag: die Here is vereer, EN 'n mengelmoes van eie afgodsbeelde.  Dit verklaar Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh 4:22).
Post date: 2010-05-26 00:00:07
Post date GMT: 2010-05-25 22:00:07

Post modified date: 2010-05-26 00:00:07
Post modified date GMT: 2010-05-25 22:00:07

Export date: Sat Jul 24 10:44:54 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com