Bybelskool
https://bybelskool.com/2-konings-13-die-here-se-genade-seevier-telkens-oor-sy-oordeel/
Export date: Mon Mar 25 7:50:09 2019 / +0000 GMT

2 Konings 13 - Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel


Die verhaal van Joahas en Israel se wel en wee word in hierdie hoofstuk ietwat vreemd vertel met vers 10-13 wat bes moontlik beter aan die einde van die hoofstuk sou pas, en die verhaal van die redder wat nie regtig goed inpas in die lewe van Joahas self nie, eerder in die lewe van Joas, sy seun, of Jerobeam II, sy kleinseun. Dit is onduidelik wie die redder was en wanneer die uitkoms gekom het.  Dit kan wees dat verwys word na Elisa se profesie aan Joahas se seun Joas, wat inderdaad teen die Arameërs geveg het en drie oorwinnings behaal en 'n paar stede teruggewen het van Ben-Hadad, seun van Gasael, af.   Dit kan ook Jerobeam II wees, Joas se seun, wat hy na sy oupagrootjie vernoem, waarvan ons spesifiek lees dat hy Israel gered het (hfst. 14).  Ander geleerdes dink dat na die opkomende Assiriese mag verwys word wat die Arameërs se mag begin inperk het. Hoe dit ook al sy: beide Israel en Juda (hfst. 12) lei in hierdie tyd onder Gasael van die Arameërs, soos Elisa voorspel het.  Maar Joahas, ten spyte daarvan dat hy nie afgewyk het om sonde te doen nie, smeek die Here om genade.  En die Here verhoor sy gebed en gee 'n redder.  Tog word steeds negatief oor sy lewe geoordeel, omdat hy in die weë van Jerobeam gewandel het, en, wil dit voorkom, weer 'n Asjerabeeld in Samaria opgerig het, nadat Jehu dit verwoes het. Anders as Elia word Elisa soos 'n gewone mens siek en sterf.  Op sy sterfbed is daar 'n roerende en tegelykertyd onthutsende ontmoeting met Joas, waar Joas Elisa as die militêre fundi van Israel eer (“u was vir Israel die strydwa met sy ruiters”), en Elisa vir hom kwaad word omdat hy die simboliese aksie wat Elisa hom beveel swak uitvoer. Let op hoe Elisa selfs in sy dood wonderwerke doen, met 'n lyk wat weer lewend word toe dit aan sy bene raak.  Sy sterflikheid word ironies genoeg daardeur beklemtoon, want hy staan nie self op nie.  Let ook op hoe die Here steeds die verbond met Abraham, Isak en Jakob in gedagte hou in sy genadige redding van Israel, ten spyte van die sondes van die koning.
Post date: 2010-05-21 00:00:27
Post date GMT: 2010-05-20 22:00:27

Post modified date: 2010-05-21 00:00:27
Post modified date GMT: 2010-05-20 22:00:27

Export date: Mon Mar 25 7:50:09 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com