Bybelskool

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Hi Francois, daar is baie konflik in die breë Christelike kerk oor die interpretasie van hierdie gedeelte. Ek wil my nie uitlaat oor NT Wright se siening of oor die NGK s’n nie. Wat ek wel gee, is ‘n verdere refleksie hieroor uit my boek oor Paulus wat ek verlede jaar in die gemeente aangebied het:

      Mans en vroue in die erediens – 1 Timoteus 2:8-15

      Steeds in die konteks van gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen. Vir vroue is Paulus se raad dat hulle publieke gebede op soortgelyke wyse met waardigheid, beskeie en ingetoë (dit kan seksueel geïnterpreteer word, d.w.s. nie uitlokkend nie) gedoen moet word. Vroue se versiering moet daarom eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere. Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge in die geloofsgemeenskap nie, maar oor die innerlike karakter wat van hulle moet uitstraal. Dit beteken nie dat mooi klere verkeerd is nie, maar dat ‘n mooi karakter belangriker is.

      Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie. En let op dat dit in die konteks van hulle saamstaan in gebed uitgespel word. Gebede in die geloofsgemeenskap word deur mans en vroue gelewer (vgl. 1 Kor. 11).

      Dan gaan Paulus verder om ‘n spesifieke probleem rondom vroue in die erediens aan te spreek.

      • Dit kan volgens sommige geleerdes wees dat van die vroue in Efese die vryheid misbruik het wat hulle gekry het in die kerk (Gal. 3:29) – anders as in die Joodse sinagoge waar hulle moes stilbly – om oor te vat in die Christelike erediens op ‘n onordelike wyse.
      • Dit kan volgens ander geleerdes wees dat van die vroue boonop ‘n vals lering aangehang het dat vroue ‘n voorrang bó mans het vanuit die perspektiewe van ‘n moeder-god kultus (Kroeger & Kroeger). Dit word verbind aan die moontlikheid dat daar ‘n groep ryk vroue was wat die Bybelse lering oor die skepping verwerp het en geleer het dat Adam uit Eva gebore is, en daarby van huis tot huis dit aan gemeentelede verkondig het (1 Tim. 5:13). Die groep – moontlik selfs ‘n spesifieke vrou – het dus nie net geleer dat vroue op ’n gelyke voet hanteer moet word soos Paulus dit in sy briewe geskrywe het nie. Hulle/sy wou vroue ‘n groter rol in die gemeente as mans laat speel.

      Daar is baie geskrywe hieroor en dit is moeilik om die kaf van die koring te skei. Wat my help om Paulus se uitsprake hier te interpreteer, is die verskillende getuienisse in die NT oor die aktiewe rol van vroue in die geloofsgemeenskap, sowel as Paulus se ander lering oor vroue in sy briewe.

      • Onthou bv. dat daar baie vroue was wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 gelees het. Daar was ook vroue as huiskerk leiers/eienaars, soos onder andere Lidia (Hand. 16:40), Maria (Hand. 12:12), Priscilla (Hand. 18:26) en Nimfa (Kol. 4:15).
      • Onthou ook dat die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, deur Priscilla, ’n vrou, en Akwila onderrig is (Hand. 18:24-26). Priscilla word nie net op gelyke voet met haar man Akwila gereken nie, maar word meer kere eerste genoem waar hulle as egpaar vermeld word.
      • Paulus erken ook eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim. 1:5; 3:14-15).
      • In sy vorige brief aan Korinte het Paulus baie duidelik geleer dat vroue saam met die mans mag bid en profeteer – die Woord uitlê – in die gemeente (1 Kor. 11:5). Hy sal ná hierdie brief aan Timoteus ‘n brief skryf aan Titus in Kreta met die spesifieke opdrag dat vroue (ten minste) ander vroue kan onderrig (Tit. 2:3-5).

      Die “swyg”-verbod kan dus in hierdie teks nie ‘n verbod op bid, profeteer of lering wees nie, maar eerder ‘n verbod op onordelike gepratery in die gemeente – soos in 1 Korintiërs 11 – óf ‘n verbod op ‘n vals lering oor die voorrang van die vrou bo die man.

      As ‘n mens laasgenoemde interpretasie aanvaar, is die uitsprake oor Adam en Eva dan moontlik gemik teen die vals lering van die moeder-god kultus wat Eva die oermens gemaak het waaruit die menslike geslag uitgespruit het.

      Die uitsprake oor geboorte aan die einde van die gedeelte was weer moontlik gemik op ’n ander valse lering dat vroue in die Christelike geloofsgemeenskap vrygestel was van die rol as moeders in die huwelik (vgl. 1 Kor. 7 waar sommige hulle van seks onthou het selfs in die huwelik).

      Paulus moedig daarenteen vroue aan om nie te huiwer om in die huwelik moederskap as ‘n Godgegewe rol te aanvaar nie, terwyl hulle soos elke ander gelowige geestelik groei in geloof, liefde, heiligmaking en selfbeheersing.

      Reply

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Wonderlik Marietjie, ek word telkens bemoedig deur mense wat – soos ek – vreugde in God se Woord vind. En ek is bly ek kan bydrae om die Woord oop te sluit, ook vir jou.

  • Avatar

    Marietjie van Niekerk

    |

    Ek het laas jaar met lockdown begin om die Bybel deur te lees. Maar eers tydens die 12 klein profete die Bybelskool ontdek. Watter wonderlike skat en diep onrdekking.
    Ds Chris, baie dankie vir jou omvattende bybelstudie. Ek begin vandag die Nuwe Testament en vertrou sit gaan n reis wees tot groot insig en diepte. Groete van Jeffreysbaai

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie, en jy is reg. Daardie boodskap moet ook in die lig van die hele boodskap van die Bybel uitgelê word.

  • Avatar

    Francois

    |

    Baie dankie Ds Chris vir jou refleksie oor 1 Timoteus 2:8-15. Dit bring perspektief en onderstreep dat dit gaan oor die Boodskap en nie die debat nie.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Jaco, ja, ons raak deel van die ware Israel, soos Paulus daaroor skrywe in Romeine 9-11.

  • Avatar

    Jaco

    |

    Wat beteken dit vir ons as die skrif sê: dat die nuwe verbond met die huis van Juda en die huis van Israel gesluit word en dat die wette nou in hulle harte gesit word. Beteken dit dat ons deel van die huis van Juda en Israel is.

  • Avatar

    Carel Smith

    |

    Baie dankie vir die vars insigte wat jy opdiep uit hierdie eeueoue juweel in ons Here se Woord!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Bertie, emosies is baie keer deel van die proses van bekering. Soms ‘n intense hartseer en berou oor jou sonde, soms ‘n groot verligting en blydskap dat jou sondes vergewe is. Maar, sonder dat daar vrug in ‘n mens se lewe is – ‘n afstand doen van sonde, ‘n liefde vir die Here en sy Woord, ‘n liefde vir God se mense, ‘n commitment om die Here in hierdie wêreld te dien – kan ‘n bekering oppervlakkig wees (Hand 26:20; 2 Kor 12:21). Maar, die enigste sekerheid wat ons het, lê in die Here Jesus en sy barmhartigheid en vergifnis opgesluit. Lees weer 1 Johannes 5 deeglik en vind jou sekerheid in die Here Jesus Christus.