This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Dec 6 13:43:23 2019 / +0000 GMT

1 Samuel 30-31 - God bewaar ons nie VAN gevaar nie, maar IN gevaar



Dawid se stryd verdiep.  Dit is nie net Saul wat hom agtervolg nie, ook nie net die Filistyne wat hom wantrou nie, sy eie volgelinge draai teen hom met die gebeure in Siklag, waar die dorpie geplunder is en hulle vrouens en kinders weggevoer is. Ek dink die Godsbeeld wat dit vir ons teken, is 'n baie belangrike een.  God bewaar Dawid nie van die agtervolging, wantroue en plundering nie.  Maar Hy laat Hom ken as die een wat BINNE die krisis bereikbaar is, en uitkoms gee. Let op hoe Dawid nie eers dink daaraan om die Here te verkwalik vir die slegte goed wat met hom en sy mense gebeur nie.  Terwyl die manne dink daaraan om hom met klippe dood te gooi, raadpleeg hy die Here deur Abjatar en doen wat hy hoor. Op pad is die eerste voorsiening die Egiptiese slaaf wat hulle na die bende lei.  En hulle verslaan die Amalekiete en kry al hulle mense terug (soos Abraham lank tevore met die wegvoering van Lot - Gen 14).  Let op met hoeveel deernis Dawid die manne hanteer wat die pas nie kon volhou nie (in navolging van Num 31:25-27 en Jos 22:8), en hoe strategies hy die buit hanteer deur daarmee vriende te maak met die leiers van Juda.  Daarmee wys hy onomwonde dat hy anders is as Nabal en Saul.  Hy is sterk in slegte omstandighede en vrygewig in oorwinning. Hoe tragies sluit die verhaal van Saul nie af in hoofstuk 31 nie.  Saul en sy seuns sterwe in die oorlog, en word vernederend vasgespyker teen 'n muur. 'n Koning met baie potensiaal wat nie die mas kon opkom nie, omdat hy nie bereid was om na God te luister nie. Die pad is nou oop vir Dawid om deur die volk as koning bevestig te word.  Die mense van Jabes in Gilead se verbintenis aan Saul, vir wie hy in hoofstuk 11 bevry het, beweeg hulle om in sy dood 'n laaste eer aan hom en sy seuns te bewys.

 

 


Post date: 2009-11-18 00:00:45
Post date GMT: 2009-11-17 22:00:45
Post modified date: 2009-11-18 00:00:45
Post modified date GMT: 2009-11-17 22:00:45

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com