Skip to main content

1 Samuel 3

Ek gaan ‘n ding doen wat ore sal laat tuit

Twee geestelike leiers word hier in kontras met mekaar geskets, die bejaarde Eli en die seun Samuel. Eli het in sy bediening horende doof en siende blind geword. Die minagting van sy kinders vir God is deur hom oorgesien en die ongeregtigheid waarvan hy bewus was, het geen aksie by hom ontlok nie. Samuel daarenteen dien van kleins af die Here, en hoor hier nie net die eerste keer die stem van die Here nie, maar tree in lyn daarmee op.

Teks en konteks

Samuel begin as die jong vakleerling wat by Eli, sy mentor, geleer en aan hom onderworpe was. Maar, onmiddellik kom ons agter dat daar ‘n probleem was. Die volk en inderdaad ook die priesters het nie naby die Here geleef nie. Daarom was die woord van die Here skaars.

Eli se swak oë het beteken dat Samuel in die tempel moes slaap om te sorg dat die lamp wat regdeur die nag aan die brand gehou moes word (Eks 27:21) nie uitgedoof sou word nie.

Dit is duidelik dat Eli se onderskeidingsvermoë ernstig afgeneem het. Hy was nie net fisies swaksiende nie. Sy geestelike oë was ook dof.

Maar, die feit dat die lamp van God nog nie dood was nie, het ook ‘n dieper betekenis. Dit is nie asof God nie wou praat nie. Dit is ‘n geval dat daar nie iemand was wat wou luister nie. En hier is nou iemand wat “by die Here” gelewe het. En al was Samuel jonk skep dit die geleentheid dat God sy openbaring kan bring.

Samuel het nie persoonlike ondervinding gehad om die Here se stem te herken nie, want hy was nog nie blootgestel daaraan nie. Hy het geen voorbeelde gehad rondom hom van mense wat die stem van die Here geken het nie.

Dit sê baie vir Samuel se selfdissipline en onderdanigheid aan Eli dat hy drie keer in die vroeë oggendure opgestaan het in reaksie op wat hy gedink het Eli se oproep was. Sy bereidheid om gehoorsaam te wees aan Eli het hom voorberei om God se woord te ontvang.

Let op dat die Here in ‘n sigbare vorm verskyn en dat Samuel nie net iets hoor nie, maar ook iets sien. Later praat hy van die “verskyning” van die Here. Miskien was die Here aan die ander kant van die gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het.

Ten spyte van die vrees wat die eerste woorde by hom ontlok, vertel Samuel vir Eli wat God gesê het. Dit is ‘n boodskap wat ‘n amper ondraaglike oordeel oor Samuel se mentor, Eli, ingehou het. As hoof van die huis was dit sy verantwoordelikheid om toe te sien dat die godslastering van sy seuns aangespreek word. Hy het egter nagelaat om hulle te dissiplineer. Dit hou tragiese gevolge in vir sy hele familie wat hier van hulle priesterskap ontneem word.

Die boodskap van oordeel is in lyn met wat die man van God ook onlangs vir Eli gesê het, en hy aanvaar dit gelate. Die wet het wel voorsiening gemaak vir offers wat die sonde van die priesters kon versoen. Sondes wat egter met ’n “hoë hand” gepleeg is – in opsetlike verontagsaming van God se wet – soos wat Eli se seuns gepleeg het, kon nie deur enige offer hanteer word nie.

Die woorde wat God vir Samuel gee, gaan van die begin af in vervulling – letterlik, nie een van sy woorde het op die grond geval nie (vers 19) – sodat die volk hom hierna as betroubare profeet kon eer. Die resultaat was dat God se woord weer gehoor kon word in Israel.

Wat ‘n mens tref, is dat hierdie eerste woord aan Samuel ‘n kras en harde woord was, ‘n woord wat die ore sal laat tuit, soos die Here sê. Maar, wat ‘n mens ook moet raaksien, is dat hoewel die woorde leed en smaad in die kleiner kring oor Eli en sy huis bring, bring dit lewe in Israel in die breër gemeenskap.

Woorde van bestraffing is dus ook woorde van bevryding.

Die Woord van God het egter ook skeiding gebring tussen Eli en Samuel, want van dié punt af was Samuel die betroubare profeet. Die verhaal word opgesom met die mededeling: “Die Here het daarna weer in Silo verskyn; ja, die Here het Hom in Silo deur sy woord aan Samuel geopenbaar.”

Samuel word hiermee die begin van beide die profeteskool beweging sowel as die monargie in Israel met sy salwing as koning eers van Saul, en later van Dawid.

Boodskap en betekenis

Twee mense speel aanvanklik ‘n deurslaggewende rol in Samuel se lewe. Hanna en Eli. Hulle is per definisie voorbeelde vir ons van hoe ons ook met ons eie en met ander mense se kinders moet werk. Hanna het haar geestelike rol in die lewe van haar eie kind gespeel. Eli het sy geestelike rol in die lewe van iemand anders se kind gespeel. Dink ‘n bietjie aan jou eie kinders en watter geestelike rol jy nog kan speel in hulle lewens, soos ‘n Hanna. En miskien is daar iemand vir wie jy ‘n Eli moet wees.

Ons moet ook onthou dat opsetlike sondes van altyd af op ‘n heel ander manier hanteer is as dié wat onopsetlik gepleeg is, en waarvoor daar ‘n hele reeks brand- en skuldoffers voorsien is. Die rede is dat opsetlike sondes vergifnis fundamenteel in gedrang gebring het. Dit is sondes wat ten diepste teen God gepleeg is, waar sy wil doelbewus, moedswillig, hardkoppig en opsetlik oortree is. Dit is die woorde wat die Bybel daarvoor gebruik.

Daarom, wanneer jy iemand onopsetlik doodgemaak het, was daar reëlings om genade te ontvang, maar nie in die geval van opsetlike moord nie. Daar was geen genade vir sulke moordenaars in die wet nie (Eks. 21:14).

Soos Samuel later die volk in Saul se tyd waarsku: “Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.” (1 Sam 12:24-25).

Daar was uitsonderings in die OT op hierdie harde reël, soos met die genade wat iemand soos Dawid van die Here ontvang het met sy sonde met Batseba, hoewel die genade teen ‘n geweldige prys gekom het, vir hom en sy volk (2 Sam 12).

En hoewel dit presies hierdie prys is wat in die NT met die kruisdood van die Here Jesus betaal is, sodat daar vergifnis en reiniging kon kom vir dié wat hulle op die genade van die Here Jesus verlaat het, selfs in die geval van moordenaars – soos Jesus aan die kruis geïllustreer het met die genade aan die moordenaar wat saam met Hom gehang het – weerklink die waarskuwing oor opsetlike sondes steeds helder in die NT.

Hebreërs sê:

26Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ‘n offer vir ons sondes oor nie, 27maar wel ‘n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. 28Wanneer iemand die Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. 29Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? 30Want ons ken Hom wat gesê het:

“Aan My behoort die wraak;

Ek sal vergeld.”

en ook:

“Die Here sal sy volk oordeel.”

31Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God! (Hebreërs 10:26-29)

‘n Verskriklike boodskap, maar ‘n noodsaaklike een. Die openbaring van God kan net herstel word in die gemeenskap van gelowiges as hulle gereinig word van dié dinge wat skeiding maak tussen hulle en God.

Iets wat ons as kerk ook moet hoor. Waar sonde – soos God dit in sy Woord beskryf – goedgepraat word, kom dieselfde oordeel oor ons. Eers raak die Woord van God stil. En allerlei ander stemme word dan as woorde oor God aangebied. Tot iemand die moeite doen om naby die Here te lewe en Hom toe te laat om sy Woord, dws Homself, aan ons te openbaar. Dit is hoe herlewings altyd gebeur het in die verlede.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar