Bybelskool
https://bybelskool.com/1-samuel-20-21-mag-die-here-by-jou-wees-soos-hy-by-my-pa-was/
Export date: Mon Jul 22 23:03:50 2019 / +0000 GMT

1 Samuel 20-21 - Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was


Dit tref my in hoeveel detail hierdie laaste pleitdooi vir Dawid se lewe voor Saul vertel word.  En hoe ingewikkeld die kommunikasie tussen Jonatan en Dawid beplan word - die "wit"-leuen oor Dawid se leë plek by die fees en die beplanning rondom die skiet van die pyle.  Dit alles loop uit op 'n finale breuk tussen Saul en Dawid, waarin Jonatan deur Saul verkwalik word as 'n rebelse ellendeling vir sy verkiesing van Dawid. Saul is natuurlik reg oor Jonatan, want hy hét gekies vir Dawid, nie net weens sy liefde vir hom nie, maar ook vanweë sy erkenning van God se keuse.  Hoe roerend sê hy nie:
"Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was."
'n Tydperk van uiterste gevaar breek vir Dawid aan.  Hy is 'n uitgeworpene in die koningshuis, sonder sy wapens en kos, en op hierdie stadium sonder enige manskappe.  En Doëg, een van Saul se manne, hou Dawid dop, as hy in Nob aankom. Dan gebeur twee betekenisvolle goed, hy kry die swaard van Goliat en gewyde brood by die priester Agimelek.  En net hierna sou manskappe by hom aansluit, selfs sy broers.  Hy word hiermee dus toegerus vir die stryd wat kom.  Die Here is dus by hom, terwyl hy in gevaar verkeer.
Post date: 2009-11-10 00:00:27
Post date GMT: 2009-11-09 22:00:27

Post modified date: 2009-11-10 00:00:27
Post modified date GMT: 2009-11-09 22:00:27

Export date: Mon Jul 22 23:03:50 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com