1 Samuel 17

Van skaapwagter tot soldaat

Dawid beweeg hier van skaapwagter tot soldaat deur sy dapper konfrontasie met die Filistynse reus, Goliat. Hy demonstreer daarmee dat hy geskik sal wees om Israel se volgende koning te word. Dawid verslaan Goliat in die Naam van die Here met die toerusting van ‘n skaapwagter en neem Goliat se wapenrusting in besit as teken van die deurslaggewende oorwinning van Israel oor die Filistyne. Dit was Israel se eerste oorwinning met Dawid as leier en soldaat.

Teks en konteks

Die Filistyne en Israeliete het weerskante van die Ela-vallei wes van Bethlehem stelling ingeneem met Goliat, ’n enorme Filistynse baasvegter uit Gat, ’n Filistynse stad, wat een van die Israeliete uitgedaag het tot ’n tweegeveg wat die oorlog sou beslis vir almal. Goliat kan moontlik ‘n titel wees wat hom as magtige kryger beskryf. Die Hebreeuse teks gee sy lengte as ongeveer 3 meter weer (die Griekse vertaling, die LXX, het 2 meter). Hy was tot die tande toe gewapen. Sy harnas alleen het ongeveer 100 kg en sy vegspies ongeveer 8 kg geweeg as ’n mens die gewig omskakel na moderne ekwivalente.

Sy dreigemente oor ’n tydperk van veertig dae het die Israelitiese soldate paniekbevange en baie bang gemaak. In dieselfde tyd het Isai sy jongste seun, Dawid, as ’n tussenganger gebruik om heen en weer te beweeg om kos vir hulle te bring en nuus oor die oorlog terug te neem, ook om Saul met sy musiek te kalmeer (vgl vers 15).

Dawid het dus die lasterlike dinge gehoor wat Goliat die Israeliete toesnou en onmiddellik die kloutjie by die oor gesit: “dat hy ‘n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God.”

Ten spyte van sy broer Eliab se minagtende teenstand doen Dawid navraag na watter voordeel daar is vir iemand wat Goliat sou verslaan. Saul het dit te hore gekom en hom laat roep. Waarop Dawid vir Saul moed inpraat dat hy bereid is om teen Goliat te veg. Dawid brei uit oor die wyse waarop hy sy pa se kleinvee van leeus en bere beskerm het om Saul te oortuig om hom toe te laat om teen die “onbesnede Filistyn”wat God uitdaag, te gaan veg. Hy het ‘n vaste vertroue gehad dat God hom sal red uit die hand van hierdie Filistyn.

Saul stem in en probeer hom toerus met wapenrusting, maar dit sou Dawid se planne in die wiele ry. Daarom weier hy dit en gaan met dieselfde toerusting wat hy as skaapwagter teen die ongediertes sou gebruik die Filistyn tegemoet.

Ook Goliat het Dawid geminag en hom vervloek by sy gode. Maar Dawid het hom beroep op die Here, die Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, wat aan almal sal bewys dat Hy God is deur Dawid se oorwinning oor Goliat.

Dit is dan ook presies wat gebeur met Dawid wat Goliat met een van die vyf gladde rivierklippies uit sy slingervel neervel en die doodslag toedien deur sy kop met sy eie swaard af te kap. “Die oorlog behoort aan die Here.” Dit is immers ‘n heilige oorlog.

Dit breek die mag van die Filistyne en Israel kon ‘n groot oorwinning oor hulle behaal. Dawid het die kop van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring. Die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:9).

Dawid word só ‘n bevelvoerder in Saul se leër. Dit is onduidelik waarom Saul aan die einde van hierdie hoofstuk na meer inligting oor Dawid vra, aangesien ons uit 1 Samuel 16 weet dat hulle mekaar reeds geken het (vergelyk ook 1 Samuel 17:15 wat wys dat Dawid reeds ‘n paar keer by Saul was). Dit kan wees dat Dawid se dapperheid by hierdie geleentheid veroorsaak het dat Saul meer aktief in hom belang begin stel het as wat hy voorheen gedoen het. Vandaar die vraag.

Boodskap en betekenis

Daar is opvallende ooreenkomste tussen die verhale van Dawid en Josef. Hulle was albei jonger as die ander broers – Dawid die jongste, en Josef die tweede jongste. Hulle word gestuur om kos te bring vir hulle broers en te hoor hoe dit gaan. Die broers minag hulle vermoëns. Hulle word egter as leier saangestel bo hulle broers. Hulle red die broers en die volk uit gevaar. Albei se sukses word aan God toegeskryf.

Ons leer dus uit hierdie verhaal dat Dawid se geheim gelê het in sy onwrikbare geloof in ‘n lewende Here. Hy weier om te buig voor die uitdaging van Goliat. Dit is dié Here wat hom gered het uit die kloue van die leeu en die beer. Dit is dié Here wat hom ook sal red in die geveg met Goliat.

Vir die dieperdelwers: in 2 Samuel 21:19 word ‘n Elganan genoem wat vir Goliat doodgemaak het. Dit is egter nie in konflik met hoofstuk 17 se verhaal van Dawid wat Goliat verslaan het nie, want in 1 Kronieke 20:5 word gesê Elganan Goliat se broer doodgemaak het.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: