This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Tue Dec 1 1:56:08 2020 / +0000 GMT

1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid



Paulus spreek vervolgens twee verdere etiese kwessies aan: hoe om kleiner onderlinge verskille te hanteer, en hoe om seksueel onberispelik te lewe. Die hoofsaak in die eerste is om onreg te vermy, en in die tweede om onsedelikheid te vermy.

Paulus werk met die uitgangspunt dat die regstelsel van daardie tyd nie geestelik van aard is nie, en volgens menslike regsreëls gewerk het.  In die lig van die feit dat ware wysheid van God af kom (vgl hfst. 1:18-31) en gebaseer is op 'n kruis-evangelie (2:1-5; ook vers 6-16), moet gelowiges nie van die regstelsel verwag om uitspraak te gee in sake wat primêr binne die gemeenskap van gelowiges hoort nie.  Hy noem die mense binne die regstelsel letterlik “onregverdiges” teenoor die gelowiges wat hy “heiliges” noem.  Omdat laasgenoemde weet wat God wil hê, moet hulle vertrou word om uitspraak in geskille te lewer, 'n funksie wat selfs in die hiernamaals aan gelowiges toevertrou sal word (vgl ook Open 20:4).

Hy pas die kruisevangelie ook toe op dié wat onreg ly, dat hulle liewer self te kort skiet as wat hulle optrede ander 'n onreg aandoen.  Daarmee gee hy natuurlik ook vir ons die sleutel om die lysie van “onregverdiges” te verstaan, want dit is oor die onreg wat onsedelikes, egbrekers, diewe en kwaadpraters, aan ander doen, wat hulle nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (vgl ook Gal 5:19-22 waar hierdie tipe onreg met die vrug van die Gees gekontrasteer word).

Let op hoe Paulus die eerste perikoop afsluit met 'n verwysing na vryspraak, en dan direk oorgaan na die verkeerde idee wat die Korintiërs het oor vryheid, asof dit geen perke het nie.  Die vryheid in Christus is onderhewig aan die beginsel vraag of iets jou verhouding met God en die gemeenskap sal bevorder of belemmer, en of dit jou sal verslaaf of nie.

Hy pas dit dan toe op die seksuele lewe – hy sonder dit uit onder die lysie van sondes in vers 9-10 – en skiet die idee af dat seks op dieselfde vlak as eet lê.  Die Korintiërs het die spreekwoord: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos” ook op die liggaam en seks toegepas: “Seks is vir die liggaam, en die liggaam vir seks.”  Die vernaamste rede waarom so 'n seksuele losbandige houding verkeerd is, is omdat gelowiges 'n intieme verhouding met God het, en seksuele onsedelikheid en losbandigheid God deel sou maak daarvan.  En dit kan tog nie, sê Paulus.  Ons liggame is daar vir die Here.  Dit geld alle seksuele verhoudings, wat nie binne die huwelik plaasvind nie, soos hy in die volgende hoofstuk uitspel.

Net soos die Gees die korporatiewe liggaam van die gelowiges as 'n tempel gebruik (3:16-17), gebruik Hy ook die persoonlike liggaam van individuele gelowiges as tempel (6:19).  Ons behoort dus nie aan onsself nie, en moet God ook in ons liggaam verheerlik deur nie onsedelik te lewe nie.

Wat baie duidelik is, is dat Paulus 'n baie hoë sedelike standaard daar stel waaraan gelowiges hulleself moet meet.  Omdat God deur sy Gees in ons woon, behoort ons nie aan onsself nie, kan ons nie net maak wat ons wil nie, kan ons nie eers op onreg reageer soos wat die wêreld dit doen nie, maar is ons gebonde aan 'n ander stel reëls wat met omgee en opoffering te make het.  En daarvan is en was Jesus die uitnemende voorbeeld.  En dit is Sy voorbeeld wat ons moet navolg.

Opmerkings oor selfdegeslagverhoudings

1 Korintiërs 6:9-11 - So was sommige van julle ook, maar julle is gewas en geheilig

Opsomming - So was sommige van julle ook, maar julle is gewas en geheilig – waar Paulus die kontra-kulturele en kontra-geestelik moraal van die Christelike gemeenskap teken as radikaal anders as die onsedelike een waaruit hulle verlos is, onder andere deur na malakoi en arsenokoitai te verwys, die “passiewe” en “aktiewe” vennote in selfdegeslagverhoudings.

Die konteks in Korinte

In hierdie brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.  Dat dit nodig was, spruit onder andere uit die voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.

Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Hy spreek dinge aan soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11), prostitusie (6:12-20), en die nagmaalviering (11:17-34).

1 Korintiërs 6:9-11

Daarom praat Paulus so skerp in hierdie gedeelte oor dié dinge wat nie maar net onvanpas was nie, maar hulle ewige bestemming in gevaar gestel het.  Hy sê in 1:9-11 die volgende:

9 Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, 10 of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie. 11 So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (BDV)

Vir Paulus, soos ons reeds kennis geneem het, was seksuele getrouheid tussen man en vrou ononderhandelbaar.  Dit was die OT ideaal selfs terwyl daar ook talle OT verhale van gebroke seksualiteit was: ontrouheid, poligamie, onsedelikheid, verkragting ensomeer.  “The fact remains that the Bible's core ideal is sexual fidelity between husband and wife.” (William Loader)

Enige ander tipe seksuele gedrag was “buite orde”.  Daarom teken Paulus hier in sy brief aan die Korintiërs ‘n kontra-kultuur, ‘n moraal wat anders is as die onsedelike een waarvandaan hulle kom.  Die tipe moraal wat in die Romeins-Griekse wêreld geheers het, ook en veral in Korinte, was besoedelend in sy oë en iets wat hulle aktief moes teëstaan, iets waaraan hulle glad nie moes deelneem nie.

Dit gaan dus nie in hierdie “sondelysie” in Korintiërs soseer oor insluiting en uitsluiting nie, maar as ‘n skets van die tipe kultuur waarvandaan hulle kom en wat hulle met alle mag en mening moet vermy: “11 So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek …”

Vir ons onderwerp is die volgende twee elemente in die “sondelysie” belangrik: “manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer”.  Die twee Griekse woorde wat hier gebruik word is  malakoi – wat letterlik “sagtes” beteken – en arsenokoitai – letterlik die meervoud van arsenokoitês, 'n samestelling uit arsen (manlik) en koité (slaap/lê), dus “manneslapers” of soos die BDV dit vertaal: “mans wat met mans intiem verkeer”.

Ons hanteer eers die woord arsenokoitai. Die woord arsenokoitai, wat Paulus ook in sy brief aan Timoteus gebruik, moet heel waarskynlik met Levitikus 18-20 se verbod op selfdegeslag seks verbind word.  Die woord is immers nooit voorheen in enige Griekse teks gebruik nie, wat beteken dat Paulus dit heel waarskynlik nuut geskep het.

Die LXX vertaal die relevante Hebreeuse gedeeltes in Levitikus 18-20: “mishkav zakur”, met: “meta arsenos koit n gynaikos”.  In Afrikaans lui dit: “met ‘n man lê soos met ‘n vrou”.  Die frase “mishkav zakur” word daarna ook in die Talmoed gebruik vir homoseksuele omgang – tussen volwassenes sowel as tussen volwassenes en jongmense – aan die hand van dié teks (Scroggs, Gagnon).

Daar kan dus min twyfel wees dat arsenokoitai 'n ondubbelsinnige manier was om van selfdegeslag seks te praat. Die woord is letterlik ‘n transkripsie van die Griekse vertaling van die Hebreeuse “mishkav zakur”.

Die tweede woord malakoi dui in die konteks op die passiewe volwasse party in selfdegeslag seksuele gedrag, soos dit die geval is in ‘n hele paar ander tale, waar die aktiewe en passiewe party met verskillende woorde aangedui word.  Dit is omdat die twee woorde, malakoi en arsenkoitai, waar dit saam gebruik word, semanties as passiewe en aktiewe selfdegeslag partye geïnterpreteer kan word: “It is possible that ἀρσενοκοίτης in certain contexts refers to the active male partner in homosexual intercourse in contrast with μαλακός, the passive male partner.”  (Louw & Nida, Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains).

William Loader stem saam daarmee en sê: “...the words are best understood as referring to the active and passive partners in same-sex intercourse, ‘male-bedders' and ‘softies', a term used also more widely of effeminacy”.

Die vertaling van die BDV  malakoi is daarom net ‘n interpretasie dat dit oor prostitusie gaan en sal waarskynlik beter vertaal kan word soos die geval is in die Lexham English Bible (LEB): “nor passive homosexual partners, nor dominant homosexual partners”.  Selfdegeslag prostitusie sou uiteraard ook deur dié uitspraak van Paulus ondervang geword het, maar is nie beperk daartoe nie.

Dit word geëggo deur ‘n redelike breë konsensus onder die meeste Nuwe Testamentici dat malakoi en arsenokoitai verwys na mans wat selfdegeslag seks beoefen. Selfs Andrie du Toit wat pleit vir monogame standvastige homoseksuele verhoudings sê die volgende (aangehaal uit die 2007 verslag): “Nevertheless it was also used for males, often youths, occupying the passive role in a homosexual relationship. Already Plato used malakia with this connotation. Because arsenokoitai is most probably a coinage from Lev. 18:22 and 20:13, it can hardly indicate something other than the active male participants in a homosexual relationship. The co-occurrence of arsenokoitai in 1 Cor 6:9 would therefore denote the passive and active partners in such a relationship (2002:94, 106)”.

Dit is daarom ook direk in kontras met Brownson se idee dat min of meer alle literatuur uit daardie tyd net van selfdegeslagverhoudings in die betekenis van pederastie gepraat het.  Hy skryf "Most scholars recognize that the presence of these two words reflects widespread assumptions throughout the ancient world about male-male homosexual activity: almost all the documents discussing male same-sex eroticism assume a distinction between active older men (commonly referred to in Greek as erastai ) and passive younger males (commonly referred to as er ō menoi ) in other words, the practice of pederasty. The malakoi (“softies”) are the younger, passive er ō menoi, and the arsenokoitai (“man-bedders”) are the older, active erastai." (Brownson, J.W. Bible, gender, sexuality. Reframing the Church's Debate on Same-Sex Relationships)

Daar is egter vier probleme met sy interpretasie:

 

 


Post date: 2010-08-18 00:00:06
Post date GMT: 2010-08-17 22:00:06
Post modified date: 2016-08-19 12:45:46
Post modified date GMT: 2016-08-19 10:45:46

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com