Bybelskool
https://bybelskool.com/1-korintiers-2-god-oortuig-deur-getuienisse/
Export date: Tue Jul 27 4:31:10 2021 / +0000 GMT

1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse


Daar is altyd die gevaar dat 'n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk.  Paulus herinner ons daaraan dat 'n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is.  'n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar. Daarom het Paulus – en onthou sy ervaring op die Areopagus in Atene, waar hy argumentatief gewerk het en min sukses gehad het (Hand 17:16 vv), hoewel daar geleerdes is wat hiervan verskil – hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister. Dit herinner my net weer daaraan dat 'n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers: “geheimnisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van 'n openbaring van God se Gees.  Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges. Dat Paulus hier op Jesus as die gekruisigde fokus het te make met van die probleme wat hy met die gemeente ervaar, spesifiek dat hulle nie hul eie voorkeure in terme van leiers kruisig en die eenheid in Christus belangriker ag as hulle eie “wysheid” nie.  Tog kan hy nie anders as om later voluit te praat oor die opstanding en ook die wederkoms nie (hfts 15), omdat dit die kruis in perspektief plaas en die sentrum van ons hoop vorm. Dit is interessant dat sy bewussyn van sy swakheid, nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir God om Sy krag te demonstreer.  Dit is juis hier waar hy die gesig gekry het van God wat hom aanmoedig om aan te hou met die bediening (Hand 18:9).  En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (die doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9).  Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10). “Heersers van hierdie wêreld” dui waarskynlik hier die politieke leiers van sy tyd aan (dieselfde woord word gebruik as in Rom 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat 'n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfst 6).
Post date: 2010-08-13 00:00:35
Post date GMT: 2010-08-12 22:00:35

Post modified date: 2010-08-13 00:00:35
Post modified date GMT: 2010-08-12 22:00:35

Export date: Tue Jul 27 4:31:10 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com