This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Mon Jul 23 8:05:05 2018 / +0000 GMT

1 Korintiërs 1:1-9 – Dit is Hy wat julle enduit sal laat vas staan



Eerste Sondag in Advent – boodskap vir Bybelskool.com lede

Dit is reeds die tweede brief wat Paulus aan die gemeente in Korinte skryf (1 Kor. 5:9 – die eerste brief het verlore geraak).  Dit is drie jaar ná die gemeente in 51 n.C. deur Paulus in Griekeland gestig is (1 Kor. 4:15).  Paulus skryf vanuit Efese in Turkye op sy derde sendingreis en reageer op ‘n klomp vrae wat die gemeente aan hom in ‘n skrywe gestel het (1 Kor. 16:8).

1 Korintiërs 1:1-9

Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om 'n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Prediking

Drie aspekte van die aanhef van Paulus se brief in vers 1-3 val ‘n mens op.

1.  Deur die wil van God geroep as apostel

Paulus begin sy brief eerstens met 'n helder verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming in sy briewe begin gebruik.  Hy begrond hierdie apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met "God se gemeente" in Korinte in gesprek te tree.

Dié boodskap dat Paulus met God se gesag praat, is nie terloops nie.  Paulus onderstreep dit doelbewus, want sy geloofwaardigheid is op die spel onder ‘n deel van die gemeente.  Hy word om raad gevra vir die geestelike lewe, maar sommige twyfel aan sy gesag.  Hulle wil weet oor die huwelik, oor die eet van afgodsoffers, oor die beoefening van geestelike gawes, oor die opstanding uit die dood, oor hofsake tussen gelowiges, oor die nagmaal.  En hy gaan hulle antwoord.  Deeglik antwoord.  Maar, hy moet eers sy geloofwaardigheid bevestig, want hulle wil weet: “op wie se gesag sê jy wat jy sê?

Paulus sê dus reeds aan die begin dat die dinge wat hy gaan kwytraak oor die praktiese geestelike lewe is nie sommer maar net so nie. Dit is nie uit die lug uit gegryp nie.  Hy sê dit op gesag van God self.  Dit is God wat aan “sy gemeente” die praktiese riglyne van die geestelike lewe bring.  Paulus is sy gestuurde, sy apostel, die een wat dit aan hulle moet bring.  Maar sy gesag lê in God self, nie in homself nie.

Dié boodskap is ook vir ons nie maar terloops nie.  Die gemeente in Korinte is nie die enigste wat hierdie woorde van Paulus as gesagvol aanvaar het nie.  Dit is gou saam met sy ander briewe in ‘n versameling aan ander gemeentes gestuur as gesagvolle woord van God.  So praat Petrus bv. daaroor in sy brief aan die gemeentes in die noorde van Turkye wat toe alreeds Paulus se briewe gelees het as gesagvol hanteer het (2 Pet. 3:15-16).  En Petrus noem Paulus se briewe in dieselfde asem as die Skrif self, al is dele daarvan “moeilik om te verstaan”, sê Petrus!

Dit is waarom Paulus se briewe ingesluit is in die NT kanon en as gesagvolle Woord van God hanteer is.  Dit is waarom dit deel vorm van ons Bybel, want dit dra die stempel van God se goedkeuring, van God se gesag.  Ons hoor God se Woord as ons hierdie brief van Paulus lees.  En daarom het wat Paulus gaan sê oor die huwelik en oor die nagmaal en oor die lewe na die dood gesag in ons lewens.  Dit kom van God af.

Trouens, dit is ook die enigste gesag wat ek as prediker het, om so getrou as moontlik die woorde van Paulus uit te lê, sodat wat hy sê duidelik kan oorkom, nie wat ek sê nie.  Ook my gesag lê dus in die ooreenstemming met Paulus se woorde, soos sy woorde in ooreenstemming is met die boodskap wat God aan die gemeente bring.

2.  Van die broer Sostenes

Paulus noem in die tweede plek ook baie spesifiek die naam van Sostenes in die aanhef van die brief, want die Korintiërs het hom goed geken.  Hy was waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand 18:17), maar nou 'n gelowige en medebedienaar van die Woord.  Trouens, hy het nie net saam met Paulus die brief geskryf nie, maar dit lyk asof Paulus dit aan hom as sekretaris gedikteer het (1 Kor 16:21).

Paulus wil daarmee die band wat hulle het met die gemeente beklemtoon.  Sostenes is ‘n lewende getuie van die krag van die evangelie van die Here Jesus Christus, iemand wat deeglik opgelei is in die Joodse godsdiens, wat leiding gegee het in Korinte, maar omgekeer is deur die genade wat die Here Jesus Christus aan hom bewys het, en nou in diens staan van God self.

Paulus sê hiermee dat hy nie uit die hoogte na hulle kom nie, maar as een van hulle.  Die gemeente van Korinte is eintlik saam met Paulus besig om die wêreld te bereik deurdat Sostenes saam met hom die evangelie verkondig.  Hulle is dus intiem as ‘n geloofsgemeenskap aan mekaar verbind.  Hulle is een met mekaar in die Here Jesus.  Hulle is saam die “gemeente van God”.

3.  Verder aan almal

Daarmee sluit Paulus in die derde plek natuurlik ook vir ons in, want ons is ook broers en susters in die “gemeente van God”, nou wel nie in Korinte of Efese nie, maar waar ons ons ook al mag bevind.  En wat God vir dié gemeentes aan die Middellandse See gesê het lank terug, is ook woorde wat Hy vandag aan ons bring.

Ons is ook vir God: “in Christus Jesus afgesonder en geroep om aan Hom te behoort”.  Trouens, Paulus sluit ons doelbewus in as hy praat van: “verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

Die boodskap van: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” is ook vir ons bedoel.

Hierdie Woord wat ons dus gelees het vandag is gesagvol.  Dit kom van God af.  Jy kan daarop vertrou.  Jy kan dit glo en jy kan dit leef.  Dit is bedoel vir jou.  Trouens, jy is ingesluit in die gehoor.  Jy is deel van die “gemeente van God”.

Wat is Paulus se boodskap dan vir hulle en vir ons?

Paulus lê op drie gawes van God klem in hierdie 6 verse (1 Kor. 1:4-9).

  1. Op die genade wat God in Christus Jesus aan hulle geskenk het, veral die gawes van woord en kennis. Hulle is goed gevestig in die boodskap van Christus.  Hulle ontbreek nie ‘n enkele genadegawe van die Gees nie.
  2. Op die verwagting wat daar in hulle is dat die Here Jesus Christus weer sal kom. Want, dit is omdat hulle na sy verskyning – sy “openbaring” – uitsien dat hulle die moed het om op Hom te vertrou om hulle enduit te laat vasstaan, sodat niemand ‘n vinger na hulle sal kan wys, dié dag dat die Here Jesus weer kom nie.  Hulle is geroep om met Hom verenig te lewe en God is getrou om hulle standvastig te maak tot die einde toe.
  3. Op die verklaring van God self: “Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan.” Ons is nie aan onsself oorgelewer nie. Ons hoef nie op ons eie krag of vermoëns staat te maak nie.  HY sal sorg dat  daar geen aanklag teen ons sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie.  God is getrou.  Hy het ons geroep om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Dit is die drie gawes van God wat jy vir jouself kan toeëien vandag.  Die een lê in die verlede en vorm jou identiteit vandag as kind van God.  Die ander lê in die toekoms, in die openbaring van die Here Jesus, wat ons aan die einde van die tyd verwag wat jou gedrag vandag bepaal.  En die laaste lê in die hede, in die verklaring van God dat Hy jou enduit sal laat vas staan.

1.  Hulle is geseën met God se genade in Christus Jesus

Paulus beklemtoon in die eerste plek dat God in sy wese wonderlik goed is, dat Hy genadig is, dat Hy nog altyd so was, en dat Hy altyd só sal bly, sonder dat hulle dit verdien, sonder dat hulle God eers moet oorhaal daartoe.

God se genade het in Christus Jesus ons deel geword.  En ons hele lewe word daardeur beïnvloed.  Ons dink nie net aan onsself as sondaars nie, maar as sondaars wat genade ontvang het.  Ons dink nie net aan onsself as mense wat gebreke het nie, maar as mense wat deur God geheilig is.

Paulus beklemtoon dit om die moedeloses onder hulle en ons op te beur, dié wat meer bewus is van die foute in hulleself en van dié van die gemeente en van die uitdaging van die omgewing ... as wat hulle van God se seën en sy genade bewus is.

Ons móét realisties wees en die dinge in ons en rondom ons in ag neem, en nie ‘n meer rooskleurige prentjie skets as wat dit in werklikheid is nie. Maar, dan moet ons óók kennis neem van God se genade wat alles verander, wat hoop bring, wat ‘n vreugde in ons laat losbars wat dinge nie net anders laat lyk nie, maar dinge inderdaad anders maak. In onsself, in ander, in die gemeente, selfs in die wêreld daarbuite.

God se genade is ‘n krag wat redding bring.  God se genade is ‘n krag wat heiligheid bring. God se genade is ‘n krag wat gehoorsaamheid bring.  God se genade is ‘n krag wat in gawes tot sy volle werking kom.

Paulus noem hier spesifiek dat die gemeente van Korinte "verryk" is in God, in "alle woorde" (logos) en "alle kennis" (gnosis). Dit is die einste gawes waaroor later harder woorde gepraat sal word, omdat hulle verkeerd daarmee gewerk het, sonder die liefde, ter wille van hulle eie eer, om onderskeid te maak tussen dié wat in tel is en dié wat nie in tel is nie (1 Kor 12-14).  Maar, dit is steeds genadegawes, gawes wat God se genade loslaat in ons lewe en wat ons en ander verryk.

Dit is die eerste gawe van God wat ons vandag weer moet omarm.  Elkeen van ons het ‘n gawe van God ontvang.  Elkeen van ons deel in die genade van God.  Sommige het ‘n gawe van diens ontvang, en kan hierdie lewe daarmee verryk.  Sommige het ‘n gawe van leierskap ontvang, en kan eweneens die lewe daarmee verryk.  Die een is nie belangriker as die ander nie.  Die een is nie meer noodsaaklik as die ander nie.  So is dit met wysheid, en barmhartigheid, en bemoediging, en kreatiewe gawes.

2.  Hulle sien met verwagting uit na Christus Jesus se verskyning

Juis daarom, in dieselfde asem, is hier in die tweede plek egter ook 'n waarskuwing teenwoordig.  Hierdie goedheid en genade van God wat Hy in genadegawes aan ons gee, plaas 'n verantwoordelikheid op ons om sy genade nie net te gebruik nie, maar om sy genade in te span om "onberispelik" of "vlekkeloos" te wees tot op "die dag van ons Here, Jesus Christus".  Want dít is ons verwagting, dat Hy weer in al sy glorie sal kom.

Genadegawes moet dus met omsigtigheid hanteer word, want dit kan die goeie of die kwade tot gevolg hê. Veral omdat ons bewus is en die verwagting het dat die Here Jesus weer kom.

3.  Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan

Ons geloof in Christus is gebaseer in die derde plek op die verklaring van God self: “Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan.” Ons is nie aan onsself oorgelewer nie.  Ons hoef nie op ons eie krag of vermoëns staat te maak nie.  Die belofte wat God ons gee is dat Hyself sal sorg dat  daar geen aanklag teen ons sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie.  Dit is hierdie God wat getrou is.  Dit is hierdie God wat ons geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.  En Hy sal sorg dat ons dit enduit sal kan regkry, dat ons enduit sal vas staan.

Dit is die boodskap van Advent

Hierdie eerste Adventsondag is eintlik die Christelike Nuwejaarsdag, die eerste dag van die nuwe kerklike jaar waarin ons die goedheid van die Here in die geskiedenis deur verskeie geestelike seisoene vier.

Maar, dit is ook die viering van ons toekomsverwagting.  Ons dink terug aan Jesus se eerste koms, én ons dink vooruit aan sy tweede koms.

Terwyl ons steeds gekonfronteer bly met ons eie sondigheid en ons gebrokenheid, leef die verlangende uitsien na die volmaakte herstel van alle dinge ook in ons harte. Ons is geseën met God se genade in die Here Jesus Christus.  Ons het die verwagting dat die Here Jesus weer sal kom.  En ons het die verklaring van God self.  Hy sal sorg dat ons enduit vas sal staan.

Advent hou hierdie boodskap lewend.

Geseënde Christusfees!

 

 


Post date: 2017-12-03 07:04:47
Post date GMT: 2017-12-03 05:04:47
Post modified date: 2017-12-03 07:06:18
Post modified date GMT: 2017-12-03 05:06:18

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com