Bybelskool
https://bybelskool.com/1-konings-8-9-die-tempel-n-huis-van-gebed/
Export date: Sun Jun 16 18:52:34 2019 / +0000 GMT

1 Konings 8-9 - Die tempel 'n huis van gebed


Met die ark se skuif binne die tempel in, vul die wolk van die Here, sy magtige teenwoordigheid, die huis van die Here, sodat die priesters nie hulle werk behoorlik kan doen nie (vgl 2 Kron 5:2-14 waar meer inligting oor die priesters gegee word).  Salomo spreek dan die volk toe waarna hy 'n roerende gebed bid, die langste opgetekende gebed in die Bybel.  In sy toespraak fokus hy op die belofte wat die Here teenoor Dawid nagekom het in terme van die bevestiging van Salomo se koningskap.  In sy gebed fokus hy op die transformatiewe krag wat gebed sal hê, selfs van vreemdelinge af.  Oral waar mense die Here dien en sy aangesig soek, sal Hy ontvanklik wees vir hulle gebede.  Laat 'n mens dink aan Jesus wat van die tempel as 'n huis van gebed gepraat het (Mark 11:17 en Jes 65:7). Hiermee het Salomo die godsdiensbeoefening van Israel verenig waarmee die Intog in Kanaän uiteindelik afgehandel is.  Wat my egter tref van sy gebed is dat dit wel fokus op die tempel en God se teenwoordigheid daar, maar dat dit nie tot 'n verheerliking van die tempel as sodanig lei nie.  Jy hoef nie eers by die tempel te wees om te bid nie,  Jy kan op enige plek bid na die God wie sy teenwoordigheid deur die tempel bevestig word, en geantwoord word.  Salomo is ook baie duidelik daaroor dat God nie beperk word deur die tempel nie: “selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie.” (1 Kon 8:27) Nadat Salomo die volk geseën het, is daar 14 dae lank fees gevier met 'n geweldige hoeveelheid beeste en kleinvee. Die tempelwyding word afgesluit met 'n waarskuwing van die Here dat Hy gehoorsaamheid wil hê, anders sal Hy sy beskermende hand terugtrek van die volk.  Dit demp 'n bietjie die uitbundige atmosfeer wat in die vorige hoofstuk geskep is.  Die hoogtepunt van Salomo se regering, die bou van die tempel, word immers in hoofstuk 11 gevolg deur sy laagtepunt, die dien van afgode. Hoofstuk 9 sluit af met 'n paar mededelings oor Hiram van Tirus en die farao van Egipte wat Salomo se “standing” in die koninklike geledere bevestig.  Let ook op na die formalisering van 'n (dwang)arbeidersklas uit die oorblyfsels van die Kanaänitiese volkere, waarskynlik die punt waaruit baie van die moderne konflik tussen die Palestyne en die Jode spruit.
Post date: 2010-04-27 00:00:17
Post date GMT: 2010-04-26 22:00:17

Post modified date: 2010-04-27 00:00:17
Post modified date GMT: 2010-04-26 22:00:17

Export date: Sun Jun 16 18:52:34 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com