1 Konings 11:1-43; 2 Kronieke 9:29-31
Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue
Salomo se aanbidding van ander gode in hoofstuk 11 word die teologiese rasionaal vir die verdeling van die koninkryk na sy dood. Salomo se liefde vir vreemde vroue en sy huweliksalliansies met ander nasies verteenwoordig die oorsaak van sy ontrouheid aan Jahwe. In reaksie op Salomo se ontrouheid rig God drie teëstanders teen hom op: Hadad uit die ooste, Reson uit die noorde, en Jerobeam uit een van Israel se eie stamme. Deur hierdie teëstanders destabiliseer God self die vrede wat Salomo beide binne Israel en buite haar grense gevestig het en lei dit tot die verdeling van die koninkryk.
Teks en konteks
Hoe ironies dat die skrywer in hoofstuk 11 vir ons vertel dat Salomo baie lief was vir uitlandse vroue. En dit is dié vroue wat hom verlei het – veral in sy ouderdom (middel-vyftigs!) – om ander gode te dien, sodat hy God nie meer met dieselfde toewyding gedien het soos Dawid nie.
Hy trou met Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese en Hetitiese vroue, almal vroue uit die nasies van wie die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag met hulle nie omgaan nie, en hulle mag met julle nie omgaan nie. Hulle sal beslis julle harte verlei om hulle gode te volg.”
Salomo beantwoord dus God se liefde vir hom met ’n liefde vir vreemde vroue en hulle gode wat lei tot die skeuring van sy ryk. Hy het selfs ’n hoogte gebou op die berg teenoor Jerusalem wat in direkte konflik met die tempeldiens gekom het. Sy “luisterende hart” was nie meer volkome by die Here sy God nie.
Die Here se toorn het oor hom ontvlam, omdat hy daardeur bewustelik sonde gepleeg het en doelbewus die verbond en vaste voorskrifte van die Here oortree het. Daarom het die Here die koningskap van hom afgeskeur en dit vir sy dienaar, Jerobeam, gegee.
Terloops, dit wil lyk asof die farao se dogter met minder argwaan deur Konings bejeën word as die vroue uit van die nasies waarmee Israel veral in sy beginjare baie konflik gehad het. Die Egiptiese gode was ook nooit so geredelik aanvaarbaar vir die Israeliete as van die ander Kanaänitiese gode van die omringende nasies nie vanweë die herinneringe aan die uittog uit Egipte. Milkom en Kemos was egter baie afskuwelike gode vir die Here, veral weens die kinderoffers wat met hulle godsdiens saamgegaan het.
Daarby het Salomo ’n groot klomp perde aangehou wat saam met sy liefde vir vroue (die byvroue was gewoonlik slavinne) ’n duidelike oortreding was van die voorskrifte vir konings wat ons vind in Deuteronomium 17:16-17. Die ideaal was dat ’n koning nie te veel perde of te veel vrouens moes hê nie, want anders sou hy weens die perde sy vertroue eerder op sy militêre mag as op die Here plaas, en weens die vroue verlei word om ontrou te wees aan die Here deur hulle afgode te dien.
Dit is ook ironies dat die eerste persoon wat die Here kies om in opstand te kom en die proses te begin om die ryk in twee te laat skeur, ’n Edomiet was, Hadad, ’n afstammeling van Esau, tweelingbroer van Jakob, die stamvader van Israel (vgl Gen 36:39 – Hadar was waarskynlik Hadad se voorouer).
Ook Reson uit Damaskus uit die noorde het hom verset teen Salomo. Uiteindelik is dit Jerobeam, ’n onderdaan van Salomo wat die seun van Salomo, Rehabeam, opponeer en die Noordelike stamme van Juda laat wegbreek.
Jerobeam was ‘n Efraimiet, uit die stam van Josef, wat Salomo met sy hardwerkendheid beïndruk het en aangestel is oor die dwangarbeiders. Agija, ‘n profeet uit Silo, kry die opdrag van die Here om Jerobeam oor die 10 stamme in die noorde aan te stel deur ‘n nuwe mantel in twaalf stukke te skeur en 10 daarvan vir Jerobeam te gee. Salomo se nageslag sou uit net 1 stam voortaan bestaan, Juda. Die 1 stam wat oorbly, is Levi, waaroor niks op hierdie stadium gesê word nie.
Die Here belowe ook vir Jerobeam dat hy hom sal seën “soos vir Dawid”, ‘n ware grootse belofte, as hy sal doen wat reg is in God se oë. As Jerobeam maar net geluister het… maar hy verhef homself uiteindelik ook self teen die Here. Hoe jammer!
Salomo het probeer om Jerobeam dood te maak, maar Jerobeam het asiel gesoek in Egipte en ná die dood van Salomo sy plek as koning van die noordryk ingeneem soos ons hierna gaan lees.
Beide 1 Konings 11 en 2 Kronieke 9 sluit met die dood van Salomo en die vermelding van die bronne waarin meer oor Salomo gelees kan word: 1) die Geskiedenis van Salomo (die bron wat Konings vermeld), 2) die Geskiedenis van Natan, 3) die Profesie van Agija en 4) die Visioen van die siener Jedi (drie bronne wat Kronieke vermeld). Dit is egter bronne wat ons ongelukkig nie meer vandag toegang tot het nie.
Boodskap en betekenis
Salomo is die derde koning van Israel. Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25).
Sy pad na die troon word bemoeilik deur Adonia wat met die afgesette leerowerste Joab en die invloedryke priester Abjatar saamsweer om self die troon te bestyg. Salomo het egter ook gedugte metgeselle, Benaja, wat sy oog het op die aanvoerdersrol, en Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word. Hulle mondstuk is die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, maar ook ‘n vertroueling van Dawid en Batseba.
Salomo is ook Dawid se keuse as koning wat hom mentor veral vir die bouwerk aan die tempel. Batseba, die koningmoeder, speel ook ‘n belangrike rol deurdat sy Dawid herinner aan sy beloftes.
Op vernuftige wyse hanteer Salomo uiteindelik as koning sy aanvanklike uitdagings deur ontslae te raak van al drie wat hom teëgestaan het: Joab, Adonia en Abjatar.
Salomo word hiermee die eerste dinastieke koning van Israel, dws ‘n seun wat sy pa opvolg. Saul en Dawid was charismatiese leiers wat deur God aangewys is en uit verskillende families gekom het, maar Salomo bestyg die troon omdat hy ‘n afstammeling van Dawid is, dws deel van sy dinastie.
Salomo word bekend vir sy wysheid, wat voortspruit uit sy gebed om ‘n “luisterende hart”. Sy tyd is ‘n tyd van vrede en ‘n hoogbloei beide in die stabilisering van die ryk, maar ook in bouwerk en literêre arbeid. Groot dele van Spreuke word aan hom toegeskryf, sowel as Prediker en Hooglied. Ook twee Psalms word aan hom toegeskryf: Psalm 72 (die regverdige koning) en Psalm 127 (pelgrimslied – “as die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs”).
Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse. Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word.
Hy staan bekend as ‘n ysterman, ‘n regeerder wat baie sterk leiding geneem en ‘n uitstekende staatsmasjinerie geskep het. Hy het gewerk met 12 administratiewe distrikte wat aan hom belasting betaal het. En hy het dwangarbeid ingestel, alles ter wille van sy groot bouprojekte.
In die proses het hy van sy mense vervreem, bv. deur 20 dorpe in Galilea vir Hiram van Tirus te gee (1 Kon 9:11). Nie dat Hiram baie tevrede daarmee was nie. Dit wil ook voorkom asof hy dit later teruggegee het (2 Kron 8:1-2).
Salomo was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het. Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker. Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs, maar bevorder so konflik onder die nasies deur die oorlogstuig waarmee hy handel gedryf het (1 Kon 10:28-29).
Farao se dogter was ‘n hoogtepunt in sy internasionale betrekkinge, ‘n ongehoorde ding tot op daardie stadium. In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie. En so het hy sy betrekkinge verstewig met huwelik na huwelik.
Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie. In sy latere jare word hy teengestaan deur Hadad, die Edomiet, Reson van die Arameërs en in sy eie land deur Jerobeam. En sy huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd begin navolg. En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.
As Nehemia ná die ballingskap terugkyk op hierdie groot koning, Salomo, gebruik hy hom, ten spyte van die feit dat hy die liefling van God was, as ‘n voorbeeld van sonde wat deur die Israeliete vermy moet word:
“Het Salomo, die koning van Israel, nie deur hulle gesondig nie? Alhoewel daar onder baie nasies nie ’n koning gewees het soos hy nie en hy ’n liefling van sy God was, sodat God hom as koning aangestel het oor die hele Israel, het die vreemde vroue hom tog sonde laat doen.” (Neh 13:26)
Jesus praat ook oor Salomo. Aan die een kant wys hy hoe die lelies van die veld meer heerlikheid het as Salomo om ons aan te moedig om die Here te vertrou met die alledaagse (Matt 6:29; Luk 12:27). Aan die ander kant wys Hy ook uit dat sy eie wysheid dié van Salomo oortref. Die koningin van Skeba sal dus in die oordeel opstaan en die geslag van Jesus oordeel, omdat sy op Salomo se wysheid gereageer het, en die Jode nie dieselfde gedoen het met Jesus nie (Matt 12:42; Luk 11:31).
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Chris van Zyl
Chris, sê asseblief iets meer oor die laaste sin van vandag se bydrae.
Groete
Chris van Wyk
Jesus wys in Matteus 12 en Lukas 11 uit dat sy eie wysheid dié van Salomo oortref. Die koningin van Skeba sal dus in die oordeel opstaan en die geslag van Jesus oordeel, omdat sy op Salomo se wysheid gereageer het, en die Jode nie dieselfde gedoen het met Jesus nie (Matt 12:42; Luk 11:31).
Die boodskap is dat elkeen van ons rekenskap sal gee van wat ons gemaak het met die boodskap van Jesus. Die koningin van Skeba het ver gereis om Salomo te ontmoet. Die Jode het ongelukkig die persoonlike openbaring van die Here Jesus Christus geïgnoreer en teengestaan. Die vraag is dus wat ons doen met die volle openbaring wat ons van Jesus ontvang het.