Bybelskool

Stiltetyd

PrintIn die derde kwartaal 2016 fokus ons gemeente op LUISTER.  Ons gaan weer soos in die verlede die ekumeniese RCL (Revised Common Lectionary) leesrooster volg.  Dit gee vir elke week vier teksgedeeltes: twee uit die OT en die Psalms, en twee uit die evangelies en die res van die NT.
STILTETYD: Lidmate word uitgenooi om die vier tekste vir die week in hulle stiltetyd te gebruik.  Ons gee vir elke teks die skakel na die ooreenstemmende bydrae op Bybelskool.com.  Die skakels met die bydraes is aan die onderkant van hierdie bydrae.  Jy kan dit direk daar lees elke oggend of al die skakels aflaai en vanaf jou rekenaar bereik.  Ons sal ’n boekie voorberei vir dié wat ’n gedrukte kopie verkies.  Jy kan by die kerkkantoor navraag doen.
KLEINGROEPE: Kleingroepe word uitgenooi om die fokusteks te gebruik wat ook vir die volgende erediens gebruik sal word.  Dit sal die vorige Sondag op die aankondigings verskyn.  ’n Voorlopige lys is hieronder ingesluit.  As metodiek stel ons voor dat die RUS, HOOR, LEEF luistersiklus gebruik word.  10 boekies met ’n leiersgids is beskikbaar by die kerkkantoor teen R50.
EREDIENSWERKGROEP: Lidmate word uitgenooi om Dinsdagaande 18:00 deel van ’n eredienswerkgroep te word vir hierdie kwartaal.  Ons gebruik die fokusteks om saam te luister en onderskei wat die Here se Woord vir ons as gemeente is.  Die vergadering vir die toepassingsgeleentheid vir ons kinders skuif na Woensdagoggend 08:30.
GAWES EN GEWOONTES: Lidmate word uitgenooi om Woensdagaande 18:00 by Ontdek jou Gawes (6 geleenthede) en daarna by die Bybelskool (bybelskool.com) oor Genesis in te skakel.  Daar word ook ’n nuwe Reisgenote (reisgenote.co.za) proses beplan waar ons geloofsgewoontes gaan inoefen op Dinsdagaande 19:00.
FOKUSTEKSTE: Die voorgestelde preektekste kom uit Kolossense, Jesaja, Jeremia, Lukas en 1 Timoteus.  Die res van die begeleidende tekste kom uit Hosea, Hebreërs, Filemon, en Lukas.  Daar is soos altyd 10 Psalms vir dieselfde tyd.
  1. 24 Julie 2016 Kolossense 2:6-15, (16-19); Hosea 1:2-10; Psalm 85; Lukas 11:1-13
  2. 31 Julie 2016 (Sendingweek) Kolossense 3:1-11; Hosea 11:1-11; Psalm 107:1-9, 43; Lukas 12:13-21
  3. 07 Augustus 2016 Jesaja 1:1, 10-20; Psalm 50:1-8, 22-23; Hebreërs 11:1-3, 8-16; Lukas 12: 32-40
  4. 14 Augustus 2016 Jesaja 5:1-7; Psalm 80:1-2, 8-19; Hebreërs 11:29-12:2; Lukas 12:49-56
  5. 21 Augustus 2016 Jeremia 1:4-10; Psalm 71:1-6; Hebreërs 12:18-29; Lukas 13: 10-17
  6. 28 Augustus 2016 (Barmhartigheidsondag) Lukas 14:1, 7-14; Jeremia 2:4-13; Psalm 81:1, 10-16; Hebreërs 13: 1-8, 15-16
  7. 04 September 2016 Lukas 14:25-33; Jeremia 18:1-11; Psalm 139:1-6, 13-18; Filemon 1-21
  8. 11 September 2016 1 Timoteus 1:12-17; Jeremia 4:11-12, 22-28; Psalm 14; Lukas 15:1-10
  9. 18 September 2016 1 Timoteus 2:1-7; Jeremia 8:18 – 9:1; Psalm 79:1-9; Lukas 16:1-13
  10. 25 September 2016 1 Timoteus 6:6-19; Jeremia 32:1-3a, 6-15; Psalm 91:1-6, 14-16; Luk 16:19-31

Stiltetyd skakels

Hier is die skakels na die stiltetyd gedeeltes.  Jy kan die hele lys hier aflaai: Stiltetyd skakels

Week 1: 17-24 Julie 2016

Week 2: 25-31 Julie 2016

Week 3: 01-07 Augustus 2016

Week 4: 08-14 Augustus 2016

Week 5: 15-21 Augustus 2016

Week 6: 22-28 Augustus 2016

Week 7: 29 Augustus-04 September 2016

Week 8: 05-11 September 2016

Week 9: 12-18 September 2016

Week 10: 19-25 September 2016

Jy kan ook meer lees oor die Bybelboeke wat ons dié kwartaal behandel by dié skakels:

  1. Kolossense;
  2. Jesaja as boek;
    1. Jesaja die profeet;
    2. Indeling van die boek Jesaja;
  3. Oorsig van die boek van die profeet Jeremia;
    1. Inleiding op die boek Jeremia;
    2. Jeremia as priester-profeet;
    3. Jeremia as mens;
    4. Die konteks van Jeremia;
    5. Verwysings na Jeremia in die Bybel;
    6. Die boek Jeremia;
    7. Indeling van die boek Jeremia;
    8. Tentatiewe kronologie van die interaksie tussen Jeremia, Jojakim, Jojagin en Sedekia;
  4. Die evangelies se unieke Jesus portrette;
    1. Lukas as een van die drie Sinoptiese evangelies;
    2. Oorsig van Lukas;
  5. 1 en 2 Timoteus;
  6. Hosea – God volhard altyd in sy liefde;
  7. Inleiding op Hebreërs;
  8. Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers;
  9. Inleiding op die Psalms – God is die sin en betekenis van die lewe;
    1. Psalms ingedeel in vyf Psalmboeke;
    2. Historiese raamwerk;
    3. Teologiese temas, soorte Psalms en Jesus en die Psalms;
    4. Samestelling van Psalms 1-41;
    5. Digterlike taal;
    6. Psalms vir die lewe;
    7. Oor die liedere wat ons sing in die kerk;
    8. Die 2de Psalmboek (42-72): Bedaar en erken dat Ek God is;
    9. Opbou van Psalms 42-72 – digters en temas;
    10. Inleiding op die 3de Psalmboek: Psalms 73-89;
    11. Indeling van die 3de Psalmboek;
    12. Hoe om die Psalms te lees;
    13. Inleiding op die 4de Psalmboek: Psalms 90-106;
    14. Die praktiese waarde van die Psalms;
    15. Inleiding op die vyfde Psalmboek (107-150).
     

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ja, Petrus sê: “Hy is geduldig met julle (gemeente), omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9). God se wens is dus bekering van almal wat deel is van die geloofsgemeenskap en dat dit nie uiteindelik blyk dat sommige die pad byster geraak het omdat hulle hulle nie in geloof en bekering aan God verbind het nie.

  • Avatar

    anna makwatie

    |

    Baie dankie vir die brood wat my siel voed, soos dit in Ps 23 staan. God wil ook nie he dat een mens(Sy beeld) verlore moet gaan nie. Die bybel getuig van Sy liefde vir die mensdom, soos dit staan in Miga 6 vers 8. Nogmaals dankie!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Jesus het ons geleer dat mense óf gered word om in die koninkryk van God in te gaan óf in die hel (gehenna) gegooi te word (Matt. 10:28; Luk. 13:28). Op soortgelyke wyse verkondig Hy aan die ongelowiges in Kapernaum dat hulle tot die doderyk (hades) verdoem sal word. Dieselfde geld mense wat in hulle sonde bly (Matt. 5:22, 29-30; 23:31-33). Hy beskryf hierdie plek weg van God se aangesig as ‘n ewige vuur (Matt. 25:41), ‘n plek van donkerte (Matt. 8:8-12), ‘n bodemlose afgrond (Luk. 8:31), waar mense in pyn verkeer weens die vuur van die doderyk (Luk. 16:23). Die vuur word nooit geblus nie en die wurm hou nooit op met vreet nie (Mar. 9:48).

    Paulus praat minder oor die hel en die doderyk, maar kontrasteer steeds die wonder van die koninkryk van God met die afgryse van die dood (2 Kor. 7:10) en die ewige verdoemenis waar God die mense wat nie vir Hom ken nie, sal straf (2 Tess. 1:6-10). Dit sluit dus alle mense in wat nie in Jesus glo nie, maak nie saak in watter godsdiens hulle hulle bevind nie.

    Dit wil voorkom of die vuur daar alreeds brand, want daar is alreeds engele wat daarheen verdoem is (2 Pet. 2:1-10). Dit is ‘n plek van gloeiende vuur waarin al die vyande van God uiteindelik gegooi sal word (Hebr. 10:26-27).

    Sommige interpreteer al bogenoemde beskrywings as metaforiese beskrywings. Ander interpreteer dit letterlik. Dit maak in wese nie saak watter roete ‘n mens met die interpretasie gaan nie, want selfs metafore het werklike referente. Die hel is dus ‘n plek waar God in sy toorn aanwesig is, en in sy genade afwesig. Dit is ‘n werklikheid van onbedenkbare leed.

    Johannes brei op dié temas uit in sy Openbaring en voeg nog twee belangrike elemente by. Een, dit is Jesus wat die mag het oor die doderyk (Openb. 1:18). Hy sluit dit oop vir die ongelowiges en Hy sluit dit toe vir die gelowiges. Twee, die doderyk (hades) word as sodanig uiteindelik in ‘n vuurpoel gegooi wat bedoel is vir almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie (Openb. 20:13-14). Die hel/doderyk beland dus uiteindelik in hierdie finale vuurpoel. Dit is ook die plek waar die duiwel vir ewig sal brand (Openb. 20:20) saam met al die ongelowiges.

  • Avatar

    Sonja Slater

    |

    Maw Jode, Moslems en ander gaan almal hel toe?

  • Avatar

    Natascha

    |

    Baie baie dankie vir die breedvoerige verduideliking. Ek waardeer dit opreg.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Mense wat nie Christus erken nie, is skepsels van God, maar nie kinders van God nie. Jy kan net ‘n kind van God word deur in Christus te glo (Joh. 1:12). Net hierdie kinders van God beërf die ewige lewe (Joh. 6:47).

  • Avatar

    Sonja Slater

    |

    Wat van ander gelowe wat nie Christus erken nie? Hulle is kinders van God maar nie Christene nie? Volgens wat ons glo gaan hulle dan nie Hemel toe nie omdat hulle nie in Christus glo nie?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hier is ‘n preek oor Handelinge 9:32-42 waarin ek onder andere oor Tabita die Woord van die Here gebring het:

    GOD SE GROOT DADE

    Handelinge is die verhaal van God se groot dade. Dit is die prentjie wat Lukas die dokter-skrywer by sy vriend Theofilus skilder. In die boek gebeur groot ingrypende dinge, soos Jesus se hemelvaart, die Gees se uitstorting, 3000 mense wat op een slag tot bekering kom, heidene wat begin glo en dan die grootste sending-uitreike ooit!

    God is besig om met groot kwashale die wêreldtoneel permanent te verander.

      God is met Petrus op pad.
      God is met sy kerk op pad.
      God is met die goeie boodskap van die opgestane Jesus Christus op pad na die hele wêreld toe.

    GOD GEE VIR GEWONE MENSE OM

    Binne hierdie Groot Storie is daar twee klein los storietjies wat eintlik nie so lekker inpas nie. Paulus, nog ‘n groot verhaal, is al op die toneel en eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene … en dan glip daar hierdie twee storietjies in. Een van Eneas in Lidda en die ander van Tabita in Joppe. Eneas was verlam en het geruime tyd (8jr) gelê. Tabita was siek en het dood gegaan.

    In hierdie twee klein storietjies word vertel dat die lewendmakende krag van God – in die Naam van Jesus – mense opwek, gesond en lewend maak.

    En laat ons mekaar herinner:

    Oral langs ons pad is daar klein liggies – helder maar klein.
    Met ‘n doel – wat hulle waarskynlik self nie eens begryp nie.
    Ons sien ‘n Eneas; ‘n Tabita; later die leerlooier, Simon, en so kan ons hulle opnoem . . . ‘n Willem en Sannie en Marie en wie ook al oor God se pad mag kom.
    Lukas laat ons stop en hy laat ons kyk – na die onopsigtelike mense, doodgewone mense, wat God aanraak, vir wie Hy omgee, en dan gebruik op die groot en belangrike pad wat Hy vir die evangelie – die goeie boodskap van die opgestane Here Jesus, oopmaak.

    Dit is die duidelike boodskap van dié twee stories:

    Geen mens – hoe gering ook al – is vir God onbelangrik nie. God gee om vir gewone mense.

    GOD GEE OM VIR TABITA

    Tabita – ‘n gewone vrou daar eenkant in ‘n klein dorpie wat goed doen en besonder mededeelsaam is – sterf.

      Sy word ‘n dissipel (Gr mathetria) genoem wat baie insiggewend is. Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor. Die NAV het dit ongelukkig wegvertaal en haar net ‘n “gelowige vrou” genoem.
      Sy was ‘altyd besig’ , ‘besig om goed te doen’ ‘die armes te help’. ‘n Besige by in die goeie sin van die woord.
      Eneas was relatief onaktief vir agt jaar omdat hy verlam was; Tabita daarteenoor, was weer besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges (:36).
      Ons kan ‘n groot groep hartseer mense hoor wat snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukkies wat sy al vir hulle gemaak het.
      ‘n Mens lei af dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en ‘n Griekse naam, Tabita en Dorkas, want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid ‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie!

    In Tabita gee Lukas ons dus ‘n model van Christelike omgee in ‘n gemarginaliseerde gemeenskap. Weduwees en weeskinders was immers die mees kwesbare mense in die destydse gemeenskappe. Daar was geen regeringsondersteuning of welsynsorganisasies om hulle te hulp te kom nie. Tabita het omgegee en gehelp. Sy het goed gedoen.

    En haar vriende en diegene wat sy gehelp het, weet dit … en hoor dan van Petrus, ‘n gestuurde, ‘n apostel van Jesus Christus.

    Jesus, wat self mense uit die dood opgewek het.
    Jesus, wat self uit die dood opgestaan het.
    Jesus, wat aan sy dissipels die mag gegee het om mense uit die dood op te wek.
    Hulle vra vir Petrus om dringend na hulle te kom.

    En Petrus kom ook hier tot stilstand, by die gewone mense.
    En hy buig voor die God wat mag het oor die dood.
    Petrus praat in geloof – praat sy Meester na – en beveel die gestorwe Tabita – klein wildsbokkie – om op te staan.
    En die dood moet wyk – sy maak haar oë oop.
    Wat ons moet raaksien is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita. Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak.

    Soos Heidi Petersen sê: “The widows would not be abandoned. God would not allow it.”[1]

    God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s en vele anonieme goed-doeners in die wêreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy juis in die kleintjies geïnteresseerd is … dié wat gewone mooi goed doen.

    Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.

    Soos Tom Wright sê:

    “Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place.”

    GOD IS OP PAD NA DIE HELE WÊRELD.

    Petrus het ‘n ongelooflike ding hier gedoen – net soos Jesus ‘n dooie mens opgewek in God se naam.

    Maar Petrus weet dis nie sy vermoë wat die dood oorwin het nie – en NB gaan bly by Simon die leerlooier. Die uitgestotene van die dorp. Die onrein man wat met dooie diere werk!

    Hierdie laaste feit is betekenisvol. Leerlooiery het by die Jode tot een van die veragte beroepe behoort. ‘n Rabbi het gesê: “It is impossible for the world to do without tanners; but woe to him who is a tanner.” ‘n Jodin kon ‘n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ‘n leerlooier.

    Dit was so, omdat ‘n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein geword het (Lev 11:39). ‘n Leerlooier se huis of werkplek moes daarom op die buitewyke van die dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Dit is heel moontlik waarom Simon se huis by die see was (10:6).

    Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet. Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10.

    Daarvandaan doen Petrus nou God se werk.
    God is op pad met Sy groot sending en met een van Sy groot apostels – en die pad loop deur die huis van die wildsbokkie en die leerlooier!
    So werk God – en so mag ons nooit die geringstes verby gaan nie.
    So mag ek ook nooit dink my stinkende huis is nie goed genoeg nie.
    Dalk moet die apostel daar kom oorbly.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit is nie ‘n stupid vraag nie. Eintlik is vrae per definisie nooit stupid nie, want dit bring die waarheid na vore. Solank dit eerlik en opreg is. Die antwoord is egter nie so eenvoudig nie. Wat beteken dat die vraag diep is!

    ‘n Christen is Bybelsgesproke iemand wat as ‘n gelowige en ‘n volgeling van Christus bekend is. Dit is wat die Griekse woord Christianos in die NT beteken. Louw en Nida beskryf die woord in hulle woordeboek as volg: “one who is identified as a believer in and follower of Christ.

    Dit word die eerste keer vir gelowiges gebruik in Antiogië (Hand. 11:26). Die gemeenskap sien in hulle lewe dat hulle met Christus identifiseer en Hom navolg. Dit is ook die hart van ons getuienis. Ons probeer mense oortuig om met Christus te identifiseer en Hom na te volg. Ons hoor bv. by koning Agrippa dat hy in Paulus se passievolle getuienis voor die hof probeer om hom te beweeg om ook ‘n Christianos te word, iemand wat glo in Christus en Hom navolg (Hand. 26:28). En Petrus moedig ons met dieselfde passie aan om as draers van die naam Christianos ons nie te skaam vir die lyding wat baie keer daarmee gepaard gaan nie, maar God te verheerlik as onbeskaamde Christianos.

    ‘n Christen is dus iemand wat in Christus glo en wat Hom volg. Hulle is dus ook kinders van God, want Johannes sê, elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, is ‘n kind van God (1 Joh. 5:1). Dit is die groot liefde wat God aan ons bewys het dat almal wat in Christus glo kinders van God genoem kan word (1 Joh. 3:1).

    Daar behoort dus nooit enige verskil te wees tussen iemand wat ‘n Christen is – ‘n Christianos soos die Bybel dit sê, iemand wat in Christus glo en Hom navolg – en ‘n kind van God nie.

    Die werklikheid is egter dat baie mense vandag hulleself Christene noem, omdat hulle óf biologies deel van die kerk is, óf hulleself nog as deel van die Westerse Christendom samelewing beskou wat aanvanklik op Christelike waardes gebou is, maar daardie Christelike basis lankal versaak en verlaat het. Dit wil sê, mense wat nie waarlik glo in Christus en Hom navolg nie, maar so identifiseer omdat hulle deel is van die kerk of die Westerse samelewing. Sulke mense is egter nie kinders van God nie, al dra hulle wel nog in die oë van die wêreld, asook in hulle eie beoordeling van hulleself, die naam Christen.

    Paulus waarsku ons in sy tweede brief aan Timoteus teen mense wat die krag van Christus in hulle lewe verloën deur ‘n gedaante van godsaligheid te hê (‘n breë identifisering met Christenwees), maar met hulle lewens te bewys dat hulle nie Christene is nie deurdat hulle Christus nie meer volg nie. Dit is mense wat selfsugtig is, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos, ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God, mense wat wel op die oog af godsdienstig lyk, maar wat die krag daarvan misken (2 Tim. 3:2-5). Van sulke mense moet ons wegbly, sê Paulus, terwyl hy ons waarsku dat dit swaar tye voorspel.

  • Avatar

    Rina

    |

    Goeiedag

    Ek wil graag meer inligting hê oor Tabita ( Dorkas )

    Dankie

    Rina

  • Avatar

    Natascha

    |

    More, more vertrou dat jul n wonderlike naweek agter die rug het. Chris, ek het n vraag?
    Kan jy asb. vir my se wat die verskil is tussen n Christen en n Kind van God? Ek weet ons almal is Christene, want ons glo tog is God, maar wat is die verskil?
    Dit klink dalk stupid, maar ek sal graag wil weet?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie! Ek leer natuurlik ook by die meesters van die eeue. Wonderlik om hierdie werk as ‘n lewensroeping te doen. Ek is my gemeente ewig dankbaar vir die geleentheid wat hulle my gun om ‘n deel van my tyd aan die Bybelskool af te staan.

  • Avatar

    Francois Conradie

    |

    Ds,
    Dankie vir die wonderlike reeks oor Levitikus. Dit is verbasend wat mens agterkom in ‘n Bybelboek geskryf is as jy deur ‘n kundige begelei word.
    Sterkte en seën.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie! ‘n Voorreg om só besig te wees met die Woord.

  • Avatar

    Francois Conradie

    |

    Ds van Wyk,
    U reeks oor Galasiërs is uit die boonste rakke. My verstaan van die vewantskap tussen net geloof, genade, die wet in die Nuwe Testament, sonde , vrygekoop, kindskap ens is op gehelder en dit help my op my pad van heiligmaking.
    Baie dankie
    FConradie , Kempton Park.
    Francois Conradie

%d bloggers like this: