Selfopofferende versus selfbevredigende liefde

moral-codeEk het ’n navraag gekry oor Efesiërs 5:1-5 en die wyse waarop Paulus oor “onsedelikheid” skryf.  Ek het dit kortliks op Bybelskool geantwoord.  Ek het egter toe ’n bietjie verder gaan dink hieroor, veral in die lig van die onlangse Barna verslag wat ek gelees het oor die Amerikaanse samelewing wat nie meer met absolute morele kodes werk nie.
Ek dink Paulus help ons in sy brief aan die Efesiërs om dié uitdaging die hoof te bied.  Ek gee daarom dié paar opmerkings as stof vir julle eie nadenke hieroor:
Paulus kontrasteer in Efesiërs 5:1-5 selfopofferende liefde met selfbevredigende liefde.
Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.  Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.
Dit is duidelik dat die rigting van dié twee liefdes heeltemal teenoorgesteld is:
  • Selfopofferende liefde is geskoei op die liefde van Jesus wat Homself vir ons aan die kruis opgeoffer het. Dit het geen seksuele konnotasie nie.
  • Selfbevredigende liefde daarenteen is geskoei op die liefde vir jouself en die bevrediging van jou eie behoeftes. Dit het veral met seksuele begeertes te make.

Onsedelikheid in enige vorm”, soos die NAV dit hier vertaal, is in dié konteks dus om seksueel immoreel op te tree, d.w.s. sonder geestelike of morele waardes of norme.   Jy bepaal die norme vir jou lewe volgens jou eie begeerte.  God het daarin geen sê nie.

Onsedelikheid is hier verwant aan ontug, gierigheid en afgodery, d.w.s. ’n lewenstyl waarin jou behoeftes sentraal staan en jou lewe draai om die bevrediging daarvan.  En dit staan teenoor die liefde waarmee Christus ons liefgehad het en Homself vir ons geoffer het.

Dít is die tipe liefde, selfopofferende liefde, wat ons teenoor mekaar moet vertoon. Nie die liefde, selfbevredigende liefde, vir onsself soos dit in onsedelikheid, ontug, en gierigheid na vore kom nie.

Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “onsedelikheid” is “akatharsia” en word behalwe hier in Efesiërs 3:5 ook op die volgende plekke gebruik (min of meer in datumvolgorde aangehaal):

  • 1 Tessalonisense 4:7 – “onsedelik”.  Paulus kontrasteer ’n onsedelike lewe in sy eerste brief in die NT met ‘n heilige lewe waarin God se norme die deurslag gee.  Ons seksuele lewe moet coram Deo, gelewe word, voor God en volgens sy norme.
  • Galasiërs 5:19 – “onreinheid”.  Paulus gebruik hier “akatharsia” saam met ’n ander woord “porneia” soos hy dit gereeld in die NT doen, en kontrasteer dié lewe in die vlees wat gemik is op selfbevrediging, met ’n lewe in die Gees wat deur die vrug van onder andere die liefde, vreugde en vrede gekenmerk word, omdat dit op God gerig is en vanuit die verhouding met Hom geleef word.  Die Gees moet ons lewe bepaal, nie ons begeertes nie.
  • 2 Korintiërs 12:21 – “onreinheid”.  Paulus skryf hier in sy vierde brief aan die Korinte (ons 2 Korintiërs) met ’n stuk amper wanhopige verleentheid oor die feit dat hulle nie geluister het na hom in sy eerste drie briewe aan hulle dat hulle hulle sedelike lewe in lyn moet kry met die feit dat die Gees nou in hulle as sy tempel bly nie: “Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al ’n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie.” Onthou dat hy in sy tweede brief (dit is ons 1 Korintiërs; sy eerste brief het verlore geraak [1 Kor. 5:9]) hulle aangespreek het oor twee mense wat in bloedskande saamleef (1 Kor. 5) en uitgespel het dat hulle nie enige onsedelikheid moet toelaat nie (1 Kor. 6) en óf in die huwelik óf in die selibaat tot hulle reg moet kom ( 1 Kor. 7).
  • Romeine 1:24 – “sedelike onreinheid”.  Paulus skryf hier in ’n konteks waar hy onder andere  selfdegeslag seksuele gedrag afwys, maar ook ’n hele rits ander sondes.  Daarmee wys hy onomwonde uit dat ons almal verlossing nodig het in Christus (Rom. 3), sodat ons deur die Gees die werke van die vlees kan doodmaak (Rom. 8) en: “ons liggame as ’n lewende, heilige en aanneemlike offer vir God aan te bied” (Rom. 12:1 – Bybel Direkte Vertaling – BDV).
  • Romeine 6:19 – “sedelike onreinheid”.  Dit is deel van Paulus se hele argument vanaf Romeine 1 dat ons liggame nie ter wille van onsself en die bevrediging van ons behoeftes gebruik moet word nie, veral nie op ’n wettelose en losbandige manier nie: “Soos julle julle ledemate in diens van onsedelikheid en losbandigheid gestel het om losbandig te lewe, so moet julle nou julle ledemate in diens stel van die geregtigheid om heilig te lewe.” Ons is immers nie meer slawe van die sonde nie.  Ons is vrygemaak om die Here te kan dien en onder ’n verpligting om die praktyke van die liggaam dood te maak (Rom. 8:13).
  • Kolossense 3:5 – “onreinheid”.  Weereens word “akatharsia” in kombinasie met “porneia” (“onsedelikheid”) gebruik en as deel van die ou lewe geskets wat ons moet aflê om die lewe van die nuwe mens te leef waarin ons vernuwe word na die beeld van ons Skepper en aan ons oorspronklike bedoeling as mense kan beantwoord.
  • Efesiërs 4:19 – “losbandigheid”.  Paulus skryf hier oor: “‘n onversadigbare drang aan losbandigheid” om “alles wat vuil is” te doen.  Soos in die brief aan die Kolossense word dit as deel van die ou lewe geskets wat versaak moet word, sodat die nuwe lewe in Christus omhels kan word.
  • Openbaring 17:4 – “onreinheid”.  Ook Johannes skryf hieroor en gebruik die verwante Griekse woord “akathartes” en gebruik dit in die frase: “die onreinheid van haar onsedelikheid”, weereens in kombinasie met die ander woord vir “onsedelikheid” – “porneia”.  Daarmee skets hy die tipe onsedelike samelewing waarin Christene hulle pad moet vind om heilig te lewe, ’n goeie beskrywing van presies die situasie wat vandag veral in die Westerse samelewing die geval is.
Die punt van al hierdie tekste oor “onsedelikheid” en “onreinheid” is dat ons as kinders van die Here ’n onvervreembare verpligting het om in alles, ook in die wyse waarop ons ons liggame gebruik en inspan, die Here te dien en ’n heilige lewe te lei.  Ons mag nie volgens die sedelose moraal van die vrou, die “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde“, leef nie (Openb. 17:5), versinnebeeld vandag onder andere deur die sedelose Weste.
Die Hebreërskrywer sê immers: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (12:14).

Efesiërs, liefde


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: