Bybelskool

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei.

I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Iemand vra my of die gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25 nie tog ook van die geringstes in die algemeen praat aan wie barmhartigheid bewys moet word nie?

    Daar is heelwat geleerdes wat dié teks só interpreteer, en wat dan verwys na ander Matteus tekste wat bv. oor vyande praat wat lief gehê en voor gebid moet word (Matt. 5:43). Maar dan lees hulle die betekenis van ander – weliswaar geldige – aksente in die Skrif in in ‘n teks wat vir my gevoel ‘n ander doel het. Daar is ook nog ander geleerdes wat dink dat Jesus eintlik hier verwys na die Jode – dws sy volksgenote – in onderskeid van die skape (Christene wat barmhartig is teenoor Jode) en die bokke (díe wat nie barmhartig is teenoor die Jode nie). Dit is ‘n interpretasie wat egter vir my heeltemal vreemd is aan hoe ek die teks lees.

    Die teks sê: “wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.” Ek dink dat Jesus hier van die geringstes as deel van die gemeenskap van gelowiges praat, meer nog, dat Hy van die dissipels praat, dié wat Hy binnekort weer gaan uitstuur om die Groot Opdrag van evangelieverkondiging te gaan uitvoer. Ek dink ‘n mens moet die teks dus nie te algemeen interpreteer nie, want dan mis jy die impak wat die teks op die dissipels gehad het wat hierna geluister het. Hulle het hier gehoor dat God mense (skape) sal gee om hulle te vertroos in hulle sending, en dat dié wat hulle in die proses ignoreer (bokke) die lewe sal mis. Hulle het ook gehoor dat hulle só teenoor mekaar moet optree. Dit korreleer dan ook met die uitsending van die twaalf vroeër in die evangelie waar die vrede wat God gee gebly het op dié wat ontvanklik daarvoor is, en dit het beteken dat hulle die dissipels met gasvryheid ontvang het. En dit beteken dat ons vandag ook meer moeite moet doen met kinders van die Here wat dit swaar het in hulle gehoorsaamheid ter wille van die Here Jesus.

    Daar is natuurlik baie ander gedeeltes in die Bybel wat praat oor vreemdelinge aan wie barmhartigheid bewys moet word, en vyande wat lief gehê moet word, wat genoegsaam sê dat barmhartigheid aan almal bewys moet word. Dit is immers hoe die Skrif God teken, wat vir almal goed is, die goeies en die slegtes. ‘n Mens het nie Matteus 25 nodig om dít te kan sê nie.

    Matteus 25 het dus vir my ‘n spesifieke boodskap van barmhartigheid aan die dissipels, binne die groter boodskap van barmhartigheid aan almal – selfs donkies van jou vyand moet uit die put gehelp word! Altans, dit is waar ek nou in my interpretasie is. Sal graag verder hoor hoe julle hieroor dink.

    Ek het verlede week ‘n getuienis van een van ons lidmate gehoor wat vir my ‘n Matteus 25 storie is. Ek haal my weergawe daarvan op ons Facebook bladsy vir julle aan ( https://www.facebook.com/ngkerksomerstrand):

    Wat sou jy maak as jy in gietende reën net na die dorpie Paterson ry en jy sien langs die pad drie jongmense met net die gesigte wat uitsteek onder hulle reënjasse?

    Een van ons lidmate, Cornell Lamprecht, het besluit om te stop al was haar motor vol van plante en honde op pad na hulle kleinhoewe in Riebeeck-Oos. Hulle storie het vir haar vreemd geklink. Die jongmense is daar met niks geld, klere of selfone nie, maar hulle volg die pad wat die Here hulle lei. Ma wat Cornell is, laai sy hulle egter in, en neem hulle saam, waar Manie, haar man, ook betrokke raak.

    Stadig ontvou die storie. Die jongmense is van Global Challenge in Jeffreysbaai, waar vorige lidmate van ons Marietjie en Johann McFarlane nie net by dié opleiding betrokke is nie, maar ook die skool bestuur. Ná ‘n vinnige oproep na my toe en ‘n gesprek met Johann blyk hulle storie waar te wees. Hulle is besig met die Lukas 10 projek. Hulle word in groepe uitgestuur en gaan waarheen die Here hulle lei.

    Die gemeenskap in Riebeeck-Oos het die vrede wat die jongmense gebring het, ontvang, en op die ou end het die hele gemeenskap ‘n wonderlike naweek met die 3 jongmense gehad en is almal deur hulle geraak. Almal is die Sondag saam klipkerk toe waar Ds Murray sy dissipelskap preek onmiddelik aangepas het in Engels om die Botswana meisie te akkommodeer.

    Al drie was toe ook nie so jonk nie, omtrent 25 jaar oud, nagraads gegradueer en het al gewerk. Eric is eintlik n proponent van ons kerk! Hulle is op pad Suid Amerika toe. Eric is ook toevallig (Godsvallig!) goeie vriende met die McFarlane tweeling. Die Here werk voorwaar op merkwaardige wyses! Hulle het ook vanoggend ‘n lift tot in Jeffreysbaai gekry saam met ‘n plaaslike boervrou.

    Die volgende keer dat jy iemand langs die pad sien … of iemand by jou huis aanklop … onthou dié storie!

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      O ja, en sommer ‘n kort opmerking oor die “broers” waarvan hier gepraat word. Die algemene gebruik in die Griekse literatuur van daardie tyd was om die Griekse adelphoi as ‘n versamelterm vir “broers en susters” in ‘n familiekonteks te gebruik. Dit is dan ook wat Jesus hier bedoel met die term “broers”. Hy praat van die hele familie van gelowiges, almal wat sy volgelinge is, mans en vrouens, seuns en dogters.

      Reply

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Sonja. Nee, Jeremia 10 verwys na die maak van afgode. Dit het niks met kersbome en versierings te make. Die Kersboom en sy versierings is eers lank daarna, en lank ná Jesus se geboorte self aan sy geboorte verbind. Aanvanklik was die ou kerkvaders baie negatief daaroor, Tertulianus bv. Lees meer by Christianity Today wat Edwin en Jennifer Woodruff oor die ontwikkelinge deur die eeue sê in hulle artikel Why do we have Christmas Trees?

  • Avatar

    Sonja

    |

    Naand Chris. Kan ek asb vra, die houtstomp wat afgekap en versier word in Jeremia 10, verwys dit na ons Kersbome en versierings? Die Jehova getuie haal daai gedeelte aan. Dankie Sonja

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Saartjie. Dankie vir die getuienis. Die Here bly getrou, selfs in die moeilikste omstandighede denkbaar.

  • Avatar

    Saartjie

    |

    Die Here kom gee vir ons as gesin verlede week Ps 91 en Hy weer ‘n plaasaanval af wat ons later hoor eintlik vir ons bedoel was. Net ‘n wonderwerk dat niemand seergekry het met 8 vermeende aanvallers wat met ander plaasmoorde en aanvalle verbind word. Vers 9 en 10 kry vir ons betekenis en ons rus in die wete dat as die Here jou toevlug is , as die Allerhoogste jou skuilplek is sal geen kwaad jou tref ,en geen ramp naby jou tent kom nie… Die getuienis van Corrie ten Boom het my so aangeraak .. Daarom deel ek hierdie ..net miskien iewers is iemand wat ook soos ek net hierdie Ps op hierdie oomblik nodig het…Vertrou God met jou beskerming!

  • Avatar

    Fanie van Emmenes

    |

    As ek bostaande lees, verbly ek my opnuut oor Jesus Christus en die geregtigheid wat deur die geloof in Hom ons deel word.
    Ek wil bykans saam met Retief Burger sing: Ek sien ‘n kruis——–.

  • Avatar

    Elsie Ceronio

    |

    Dankie vir die samestelling van so ‘n belangrike aspek vir my as christen om te weer te hoor dat daar twee kante is.
    Vrede

  • Avatar

    Ernst

    |

    Dankie Chris.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Leana. Jy kan die vorige Bybelboeke se bydraes lees by die Bybelboeke spyskaart item.

  • Avatar

    Leana Weyers

    |

    Baie dankie vir die inligting. Kan ek asb vra waar ek die boeke wat reeds behanel se inligting aflaai. Ek is nuut en wil graag daardie inligting inwin.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Ernst. Die vierde gebod word Bybelsgesproke deur twee goed gemotiveer.

    • Israel moes die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat God alles goed gemaak het, soos Hy op die sewende dag gerus het na al sy werk aan die skepping (Eks. 20). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir alles wat Hy gemaak het.
    • Israel moes ook die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat hulle God se volk is, soos God hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Deut. 5). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir die verlossing wat hulle in die regte verhouding met God gebring het.

    Die NT beskou die sabbatdag as ‘n skaduwee van wat sou kom. Die werklikheid is Christus. Dié wat dus in Christus is, vier hulle afhanklikheid van God elke dag, nie net op een dag nie. Hulle vier ook hulle rus van die sonde elke dag, nie net op een dag nie. Hulle het dus nie meer nodig om een dag bó ‘n ander te vier nie, hoewel hulle welkom is om dit te doen, en dit ‘n gesonde ritme van rus en werk kan skep. Niemand mag Christene egter voorskryf daaroor nie.

    Drie NT Skrifgedeeltes dra dié boodskap.

    • Paulus sê: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol. 2:16-19).
    • Paulus sê ook: “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil … Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here … Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ (Jes. 45:23). Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (Rom. 14:1-12).
    • Die Hebreërskrywer skryf: “Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.” (Hebr. 4:9-11).

    Paulus het op sy sendingreise saam met die Jode die sabbatdag gevier in ‘n poging om die evangelie aan hulle te verkondig. (Hand. 13:42 44; 16:13; 18:4). Saam met die Christene het hy egter die eerste dag van die week gevier met nagmaal, in herinnering aan die kruisdood en opstanding van die Here Jesus, en die ander kerklike dinge, soos die insamelinge van die dankoffer, nagekom (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2).

    Dit lê agter die ontwikkeling in die Christelike kerk om op Sondag bymekaar te kom eerder as op die sabbatdag.

%d bloggers like this: