This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Wed Nov 22 16:25:32 2017 / +0000 GMT

Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel



Hierdie hoofstuk begrond die seën en die straf vir Israel se gehoorsaamheid in die land wat God aan hulle gaan gee aan die Heiligheid Gedragskode in die eerste tafel van die wet – Lev. 26:1-2.  Die tweede gebod teen afgode sowel as die vierde gebod om die Sabbatdag te hou, word as negatiewe verbod en positiewe gebod uitgelig.  Daaraan word vier seëninge – Lev. 26:3-13 – en vyf strawwe – Lev. 26:14-39 – gekoppel wat sal volg op die volk se gehoorsaamheid al dan nie aan die heilige gedrag wat God van hulle vra.  ‘n Bevestiging van God se beloftes word ook gegee indien die volk tot belydenis van hulle skuld in berou voor die Here kom – Lev. 26:40-45.  Die hoofstuk word in vers 46 afgesluit met ‘n opsommende goedkeurende terugblik op die Heiligheid Gedragskode as die vaste voorskrifte, beslissings en onderrig wat die Here by die berg Sinai vir Moses gegee het om die verhouding tussen Hom en die Israeliete te reël.

Gehoorsaamheid aan die verbod op afgode en die gebod vir die Sabbatdag bepaal hulle lewe – Lev. 26:1-2

Die tweede gebod teen afgode sowel as die vierde gebod om die Sabbatdag te hou, word as negatiewe verbod en positiewe gebod uitgelig.  Dit is ‘n gepaste begronding van die heiligheid voorskrifte van die tweede deel van Levitikus.

Die verbod op afgode word met vier voorbeelde geïllustreer:

  1. afgode (ʾělîl – ‘n verkleinwoordjie van die woord ʾěl vir God om die waardeloosheid van die afgode oor te dra),
  2. gesnede beelde (pěsěl),
  3. gedenkstene (mǎṣṣēḇāh – klippilare wat ‘n Godsgebeurtenis herdenk het), en
  4. klippe met afbeeldings (mǎśkîṯ) wat uitgesny of gegiet is daarop (vgl. Num. 33:52).

Die probleem met die afgode was vanselfsprekend dat hulle die volk afvallig kon maak, veral as dit ‘n vorm aangeneem het waarmee hulle kon identifiseer – beelde, klippilare, afbeeldings ensomeer.  Dit het selfs gedenkstene gegeld wat aanvanklik ‘n goeie doel as herinnering kon dien, maar met verloopi van tyd in die plek van God self aanbid kon word.

Die positiewe gebod om die Sabbatdag te hou, word verbind aan hulle eerbied vir God se heiligdom (vgl. die soortgelyke voorskrif reeds in Eks. 19:30 vóór die gawe van die Tien Gebooie) wat doelbewus as ‘n teenvoeter vir die uitbeeldings en afbeeldings van afgode voorgestel word.  Eerder as om voor ‘n afgod neer te buig wat in elk geval waardeloos is, moet hulle die heilige Here opsoek by die heiligdom, die Een wat hulle nie net gemaak het nie, maar steeds vir hulle voorsien.

Vier seëninge – Lev. 26:3-13

Dit word opgevolg met vier seëninge vir dié wat gehoorsaam is aan die Heiligheid Gedragskode:

  1. Vrugbaarheid en voedselsekerheid in die land – vers 3-6;
  2. Vrede in die land en beskerming in oorlog – vers 6-8;
  3. Voorspoed en vrugbaarheid in die gemeenskap as deel van God se verbond – vers 9-10;
  4. Vryheid in die teenwoordigheid van die Here wat by hulle sal woon – vers 11-13.

Hoe mooi vertaal Peterson nie vers 11 nie: “I'll set up my residence in your neighborhood; I won't avoid or shun you; I'll stroll through your streets.” ( The Message)

Vyf strawwe – Lev. 26:14-39

Dit word opgevolg met vyf strawwe vir dié wat ongehoorsaam is aan die Heiligheid Gedragskode:

  1. Verplettering deur siektes en hulle vyande – vers 14-17;
  2. Vernietiging deur knellende droogte – vers 18-20;
  3. Verwoesting deur roofdiere wat selfs hulle kinders sal tref – vers 21-22;
  4. Verwerping in oorlog sodat hulle nêrens meer veilig sal voel nie – vers 23-26;
  5. Verstrooiing deur ballingskap oor die aarde sodat die land kan herstel van hulle terwyl hulle in spanning en vrees in die vreemde sal krepeer van ellende – vers 27-39.

Let op die kragtige en roerende beskrywings en metafore waarmee hierdie strawwe beskrywe word:

Bevestiging van beloftes in belydenis en berou – Lev. 26:40-45

Dit word opgevolg met ‘n bevestiging van God se beloftes waar mense hulle sonde bely in berou.  Sy genade sal altyd sy oordeel troef as sy volk hulle tot Hom wend en om verlossing smeek.

Wat nodig is, is dat hulle hulle sondes en ongehoorsaamheid saam met dié van hulle voorvaders voor die Here erken, bely en in berou hulle vertroue plaas op die Here.  Dan sal God die beloftes oor die land aan die voorvaders weer van krag maak, al sal die omkeer nie noodwendig gou sal wees nie.

Hoe mooi is egter daardie woordjie: “En tog”, in vers 44 nie.  Die Here sal nie net staatmaak op hulle begrip van wat verkeerd gegaan het nie, maar sy volk nooit só verwerp dat hulle heeltemal sal verdwyn en sy verbond met hulle tot niet sal gaan nie.  Hy as die sterker Een in die verbond sal sy kant nakom, al kos dit Hom uiteindelik die dood van sy Seun, soos ons uit die NT sal leer.

Dit is die vaste voorskrifte, beslissings en onderrig van die Here – Lev. 26:46

Die hoofstuk word in vers 46 afgesluit met ‘n opsommende en goedkeurende opmerking oor al die voorafgaande voorskrifte.  Dit is die vaste voorskrifte, beslissings en onderrig wat die Here by die berg Sinai vir Moses gegee het om die verhouding tussen Hom en die Israeliete te reël.

Boodskap:  Moenie mismoedig word as God jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem

‘n Mens kan die doel van God se strawwe duidelik sien in hierdie gedeelte.  God se strawwe kom nie outomaties in werking nie, maar word deur Hom as onderrig gebruik om sy volk te dissiplineer as hulle sy voorskrifte nie nakom nie. Daarom eskaleer dit in intensiteit van strawwe wat hulle nog IN sy land tot insig probeer bring na strawwe wat hulle BUITE die land steeds tot insig probeer bring.

Wanneer Moses hieroor reflekteer net voor die volk die beloofde land uiteindelik na veertig jaar sou intrek, skerp hy dit by die volk in: “Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.” (Deut. 8:5).

Hierdie tipe dissipline is deel van God se liefde vir sy mense, soos die pa dit vir sy seun in Spreuke uitspel: “My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing   verset nie, want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos 'n vader doen met sy seun.” (Spr. 3:11-12).

Die Hebreërskrywer gebruik dié insig uit Spreuke 3:11-12 as aanhaling om in die nuwe bedeling ons aan te moedig om weerstand te bied teen die sonde as ‘n stryd om lewe of dood.  Die Here moedig ons as kinders van die Here aan, sê hy, met die woorde uit Spreuke: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” (Hebr. 12:5-6).

Ons word almal opgeroep om “die tug as opvoeding” te verdra: “want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.” (Hebr. 12:7-10).

En let op hoe die Hebreërskrywer die seën beskryf wat ons deel word as ons die straf van die Here as dissipline erken en aanvaar in ons lewe: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.” (Hebr. 12:11).

Daarom kan ons ag slaan op sy aanmoediging: “Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” (Hebr. 12:12-13).

Ek sluit af met ‘n aanhaling van die vroeë kerkvader Origenes van Alexandrië wat my dié week baie getref het:

I do not call the Law an ‘Old Testament' if I understand it in the Spirit. The Law becomes an ‘Old Testament' only for those who wish to understand it carnally, but for those who understand it and apply it in the Spirit and in the Gospel sense, the Law is ever new and the two Testaments are a new Testament for us, not because of their date in time but because of the newness of the meaning. For those who do not respect the covenant of love, even the Gospels are ‘old.'” (Common Prayer: A liturgy for ordinary radicals, 18 May).

Dit is briljant gestel. Die wet raak nuut deur die evangelie, soos hier met wat die Hebreërskrywer doen met die idee van seën en straf uit Levitikus 26. Die Nederlandse Geloofsbelydenis verwoord dit so: "Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig." (NGB 25).

 

 


Post date: 2017-05-23 10:25:45
Post date GMT: 2017-05-23 08:25:45
Post modified date: 2017-05-23 10:44:31
Post modified date GMT: 2017-05-23 08:44:31

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com