- Bybelskool - http://bybelskool.com -

Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier

Min hoofstukke in die Bybel het dieselfde impak as Levitikus 25 op ons begrip van God en sy verhouding met ons wêreld.  Hierdie hoofstuk beïnvloed ons gedagtes oor die kosmos en die ekologie, oor menswees en die ekonomie, oor skuld en besit.  Hierdie invloed word uitgeoefen deur een fundamentele teologiese beginsel: “want die land behoort aan My.” (Lev. 25:23).

Elkeen van die voorskrifte in hierdie hoofstuk het met God se eienaarskap van die land te make, trouens van die hele aarde, soos Hy reeds in Eksodus 19:5 verklaar het: “Die hele aarde behoort aan My.” Die woord hāʾāʹrěṣ wat hier vir “die land” gebruik word, het beide die betekenis van “die land” soos hier in Levitikus 25:23 as dié van “die aarde” soos in Eksodus 19:5.  Die konteks bepaal telkens watter betekenis voorrang moet geniet.

Israel is steeds by Sinai en sal binnekort vertrek na die Beloofde Land.  Hierdie voorskrifte was dus noodsaaklik om met die regte verwagting die land van Kanaän in ontvangs te neem.  Hulle sou daar woon net in afhanklikheid van die genade van God.  Israel sou nooit enige inherente bodem-en-bloed verhouding met die land kon hê nie.  Hulle sou altyd daar wees net vanweë God se guns, want: “Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.

Die frase: “die land wat Ek aan julle gee” sou vir altyd ‘n literêre en teologiese motief wees wat hulle verblyf in die land sou beheer.  Hulle het die land gekry van God af en sou dit altyd as gawe uit sy hand moes hanteer.  Die profete sou daarom ook telkens aan die hand van Israel se erkenning van en gehoorsaamheid aan die God van die landsbelofte al dan nie hulle voortgesette verblyf in die land beoordeel.  Jy kan meer daaroor lees in my tesis oor die Landsbelofte in Jeremia (1993).

Twee instellings beheer al die voorskrifte van hierdie hoofstuk: die Sabbatsjaar elke sewende jaar – Lev. 25:3-7 – en die Jubeljaar (hersteljaar NAV) elke vyftigste jaar – Lev. 25:8-17. Dit word gemotiveer vanuit God se voorsienigheid – Lev. 25:18-22 – en sy eienaarskap van die land – Lev. 25:23.  Die praktiese implikasies word in ‘n sewetal voorskrifte in die res van die hoofstuk uitgespel – Lev. 25:24-55.

Die Sabbatsjaar – 25:3-7

Die land moes elke sewe jaar in ‘n algehele rus van die normale boerdery bedrywighede braak lê.  Dieselfde het al die Israeliete gegeld, hulle slawe en diere, selfs die wild.  Almal moes lewe van wat die veld oplewer.  God se voorsienigheid sou in dié tyd vir hulle sorg soos dit verderaan duidelik gemaak word.

Die Jubeljaar – 25:8-17

Die Jubeljaar elke vyftigste jaar moes met die Groot Versoendag begin.  Dit het ekonomiese verligting gebring in ‘n landswye afskryf van skuld.  Elkeen moes sy grond terugkry wat hulle op een of ander manier weens skuld verloor het.  Niemand mag hierdie reël verontagsaam of iemand hier rondom uitbuit nie.  “Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God.

Motivering  vanuit God se voorsiening – 25:18-22

Hierdie groot prysgawe van die Sabbatsjaar en die Jubeljaar word gemotiveer vanuit God se voorsienigheid.  As hulle God se voorskrifte nakom en sy bepalings gehoorsaam, sal hulle sonder sorge in die land kan woon.  God sal sorg dat die grond goeie oeste lewer, en dat hulle oorgenoeg sal hê om te eet.  Die oorvloed van die sesde jaar sal drie keer meer wees as in ‘n gewone jaar sodat hulle genoeg sal hê vir nie net die jaar van rus nie, maar selfs vir die daaropvolgende twee volgende jare.  Selfs in die twee jaar wat die land braak moes lê wanneer die sewende sabbatsjaar en die daaropvolgende jubeljaar twee jaar van rus geïmpliseer het, sou daar genoeg wees om van te eet.

Motivering vanuit God se eienaarskap van die land – 25:23

Die rede hoekom geen grond permanent verkoop mag word nie, is dat die Here die primêre besitter van die land is en die erfgrond in die eerste plek aan hulle gegee sou word.  “Die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.”  Dit sou vir altyd die fundamentele teologiese beginsel wees waarop Israel se verbintenis aan die land Kanaän sou berus.  Sonder gehoorsaamheid sou dié band met die land deur die ballingskap deurgeknip kon word, soos meermale in hulle geskiedenis gebeur het.

Allerlei praktiese voorskrifte – 25:24-55

Om die praktiese implikasies hiervan uit te spel, word die volgende  sewetal voorskrifte vir hulle gegee:

  1. Die reg om grond terug te koop, moes oral en altyd geld.
  2. In die geval van armoede moet die naaste manlike familielid daarmee help, die sogenaamde lossingsreg, soos ‘n mens bv. in Rut en Jeremia 32 lees. Indien dit nie moontlik was nie, herstel die jubeljaar die oorspronklike erfgrond aan die familie.
  3. Die reg om ‘n woonhuis in ‘n ommuurde stad terug te koop, geld net vir ‘n jaar, waarna dit vir altyd die wettige eiendom van die koper word. Woonhuise in die platteland, wat uiteraard op die grond van die familie gebou is, word in die Jubeljaar wel teruggegee.  Leviete kan altyd woonhuise terugkoop maak nie saak waar dit is nie.  Dieselfde geld hulle weivelde.
  4. ‘n Mede-Israeliet wat só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moes jy help soos jy ’n vreemdeling of ’n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. Jy mag geen rente van enige aard hef op jou hulp nie uit eerbied vir die Here. Lenings was rentevry.  Kos was kosprys.  Almal van hulle was immers van God afhanklik soos hulle eie geskiedenis uit die slawehuis van Egipte aangetoon het.
  5. Selfs as ‘n mede-Israeliet hom as ‘n slaaf aan jou verkoop, moes jy hom steeds soos ‘n dagloner of ‘n bywoner behandel en nie soos ‘n slaaf nie. Die Here wou nie hê dat enige Israeliet ‘n slaaf sou word nie.  Met die jubeljaar gaan hulle in elk geval dan met hulle hele familie terug na hulle erfgrond.  Terloops, hierdie voorskrif is een van die redes waarom die kerk uiteindelik slawerny heeltemal afgeskaf het.  Slawerny het nie gestrook met God se volmaakte wil vir sy mense nie.
  6. Die Israeliete is wel toegelaat om slawe by die nasies rondom hulle te koop sowel as by bywoners wat dan wel lewenslank as hulle besittings sou dien. Hierdie voorskrif was waarskynlik die rede hoekom dit so lank gevat het vir die kerk om slawerny vir alle mense af te skaf.  Die werklikheid van die voorkoms van slawerny reg deur die wêreld het eenvoudig swaarder geweeg as die rigting wat God reeds gegee het met sy voorskrif dat mede-gelowige nie vir altyd in slawerny gevange gehou mag gewees het nie.  En hierdie voorskrif kon as motivering aangehaal word.
  7. Die lossingsreg het ook gegeld as ‘n Israeliet aan ‘n vreemdeling of ’n bywoner as slaaf verkoop is.

Boodskap:  Jesus kondig die genadejaar in die NT aan as vervulling van die Jubeljaar in die OT

Die Sabbatsjaar het veral ‘n ekologiese sensitiwiteit gekweek by die Israeliete.  Hulle is daardeur telkens ook herinner aan die feit dat hulle van God se voorsienigheid leef en dat hulle op Hom kan staatmaak.  Die Jubeljaar het veral die kwessies van skuld en grondeienaarskap aangespreek.  Die vryheid van skuld en die omkeer van verlies wat dit gebring het, het nie net die moontlikheid van ‘n nuwe begin vir mense wat in armoede verval het, gegee nie, maar die fundamentele begrip van God se totale eienaarskap van die land en die aarde vir almal onderstreep.

Hierdie aspekte van Levitikus 25 het vanselfsprekende implikasies vir hoe ons oor die ekologie en die ekonomie dink.  Indien ons God se eienaarskap van die aarde ernstig neem, sal ons met meer deernis die problematiek van grondloosheid en gevolglike tuisteloosheid van talle mense en mensegroepe op aarde hanteer.

Dit is ook duidelik uit Levitikus 25 dat slawerny nie gestrook het met God se volmaakte wil vir sy mense nie.  Mede-gelowiges wat in slawerny verval het, moes goed behandel word en op die voorgeskrewe wyse vrygelaat word.

Dat die Israeliete wel toegelaat is om slawe by die nasies rondom hulle te koop, het waarskynlik tot gevolg gehad dat dit so lank gevat het vir die kerk om slawerny vir alle mense af te skaf.  Die werklikheid van die voorkoms van slawerny reg deur die wêreld het eenvoudig swaarder geweeg as die rigting wat God reeds gegee het met sy voorskrif dat mede-gelowige nie vir altyd in slawerny gevange gehou mag gewees het nie.

Gelukkig is die dae van slawerny reeds twee eeue wêreldwyd afgeskaf, hoewel daar steeds ander vorms van slawerny bestaan wat nog aangespreek moet word, bv. seks en ander grusame tipes slawerny.

Maar nog dieper as dié ekologiese, ekonomiese en sosiale implikasies van Levitikus 25 is die teologiese en geestelike betekenis daarvan.  Soos ons reeds met die fees van die Groot Versoendag gesien het, is Jesus by uitstek die vervulling daarvan met die offer wat Hy op Goeie Vrydag gebring het.  Maar die feit dat die Groot Versoendag ook die Sabbatsjaar en die Jubeljaar ingelei het, beteken dat ‘n mens Jesus se hele bediening as die aankondiging van die Sabbatsjaar en die Jubeljaar vir gelowiges moet sien.

Met Jesus se intreepreek in Nasaret kondig Hy immers die genadejaar van die Here aan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig.  Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” (Luk. 4:18-29; vgl. Jes. 61:1-2).  Hierdie genadejaar van die NT is gelyk aan die jubeljaar van die OT, beide die een waarvan Levitikus praat en die een wat Jesaja voorspel het.

Dieselfde genade moet ook ons hantering van medegelowiges sowel as vreemdelinge, selfs vyande kenmerk.  Jesus leer ons in die Bergrede dat ons vir dié sal bid wat ons vervolg (Matt. 5:44), en in die Ons Vader dat ons dié sal vergewe wat teen ons oortree het (Matt. 6:12). En Paulus sluit daarby aan en beveel ons om ons vervolgers te seën, om sover as wat dit vir ons moontlik is, in vrede met alle mense te lewe, en die kwaad te oorwin deur die goeie (Rom. 12:14, 21).

Ons sal ook goeddoen om die NT boodskap goed te hoor dat ons steeds vreemdelinge op aarde is en op soek na die vaderland wat God vir ons beplan.  Só het die OT gelowiges gelewe, al het hulle ook ‘n tydelike heenkome hier op hulle erfgrond gekry: “Hulle het na ‘n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang.  Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ‘n stad gereed gemaak.” (Hebr. 11:16).

Só leef ook die NT gelowiges, sê Petrus: “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Pet. 2:11-12).

[1]   [2]   [3]  

View all posts in this series