Bybelskool

1 en 2 Kronieke

Ons lees 1 en 2 Kronieke in die Bybelskool in tandem met dieselfde verhale in Samuel en Konings, sowel as ‘n paar ander verwante Skrifgedeeltes.  Ek het ‘n dokument voorberei waarin die belangrikste ooreenstemmende Skrifgedeeltes langs dié van Kronieke geplaas is, sodat dit in die leeswerk met mekaar vergelyk kan word.  Laai dit hier af: 

Só sal julle kan sien dat Kronieke deurgaans materiaal van Samuel en Konings gebruik, aangevul met geslagsregisters uit die Pentateug, liedere uit die Psalms, en ‘n paar toesprake om die aaneenlopende verhaal van Israel van Adam af tot ná die ballingskap te beskryf.

Die fokus is in Kronieke deurgaans op ‘n waarderende blik op dié veelbewoë verhaal waardeur die volk Israel ná die ballingskap weer kon ontdek watter ryk erfenis hulle het en dat hulle daarmee ‘n nuwe pad met God in die hede kon begin loop. Hy skryf dus nie ‘n nuwe geskiedenis van Israel nie, maar verwoord die ou verhale op waarderende wyse as ‘n nuwe boodskap vir die hede.

Dit was ‘n uiters tydige boodskap, want die ballinge het weliswaar in die tyd van die totstandkoming van Kronieke teruggekeer na Jerusalem, maar het die gevaar geloop om hulle identiteit as Godsvolk te verloor omdat hulle nie meer die wortels waaruit hulle geloofsgemeenskap gegroei het, geken het nie.

Daarom spandeer Kronieke soveel tyd om die volk se verbintenis aan die mensdom (Adam), die Joodse volk (Abraham) en die Koningshuis van Juda (Dawid) met die eerste 9 hoofstukke se geslagsregisters te beklemtoon.  Dit word opgevolg in die res van Kronieke met die talle verhale van God se sorg deur die eeue van Dawid af tot in die hede om die volk weer uit te nooi om hulle in ‘n gehoorsame verhouding met Hom te anker.

Met dié perspektiewe wil die boek hulle inspireer om die Here in die hede met hul hele hart te dien aan die hand van hulle identiteit as Godsvolk, sowel as na aanleiding van die konkrete voorbeelde van die geloofshelde van weleer.   Daarmee spreek die boek ook tot elkeen van ons wat in Jesus Christus deel van die volk van God geword het en ook Abraham ons vader kan noem (Gal. 3:29).  En word ons ook opgeroep om God met ons hele hart te dien in ‘n groeiende geloofsverhouding.

Hier is die skakels na die inleidende bydraes:

Hoe om die Bybelboek te lees

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Een van die maniere wat gelowiges deur die eeue gebruik het om die Bybel só te lees, dat dit jou lewe beïnvloed, jou transformeer, is Lectio Divina, geestelike of goddelike lees.

Gebruik die volgende metode om hierdie Bybelboek deur te werk:

RUS

  • Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.

HOOR

  • Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
  • Lees my bydrae oor die gedeelte.
  • Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.

LEEF

  • Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.

by Chris van Wyk

View all posts in this series
     

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Nakkie

    |

    Baie dankie vir elke stuk wat ek ontvang. Dit beteken vir my baie. Ek leer so baie. Geseënde Kersfess en `n mooi 2018.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    JG, diere word beskryf as “lewende wesens”, in Hebreeus: “lewende siele” (Gen. 1:20). As hulle doodgemaak word, word dit weergegee as om die “siel van ‘n dier” dood te maak (Lev. 24:18). Net so ken ‘n regverdige die “siel van sy dier” in die sin van sy behoeftes (Spr. 12:10). Diere word egter nooit beskryf met ‘n siel wat voortbestaan ná die dood nie.

  • Avatar

    Jg

    |

    Chris,

    Het n dier n siel, of het hy nie????

  • Avatar

    Jan Louw

    |

    Dankie vir ‘n ewewigtige en insiggewende bydrae oor die gawe van profesie. Ek is ook maar skepties oor sommige aansprake uit charismatiese kringe oor die werkinge van die Gees, maar is ook huiwerig om kategoriese uitsprake te maak.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Neels. Dit was ‘n wonderlike reis, ja. Gelukkig kan ons volgende jaar met Josua en die Rigters verder reis!

  • Avatar

    Neels Hubinger

    |

    More Chris, ‘n oorweldigende getuienis vandag oor die afsluiting van Moses se lewe wat ons nou weer saam met jou “geleef” het…! Mens wens en smag daarna om self meer van sy karakter en verhouding met God te ervaar in die vreugde daarvan dat Moses self nooit “die rykdom van die land besit het nie”, maar in die skat van die belofte van God, onvergelykbaar “ryk” was en sy lewe volkome kon afsluit en voltooi… Opreg, baie baie dankie vir jou toewyding, studie en insig om die Woord nuwe betekenis te gee en jou lesers se lewens te verryk. Vriendelike groet en seënwense.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi. Die kerk werk vir eeue al met ‘n “kerkjaar”. Dit begin met Advent, die vier Sondae vóór die Christusfees, wat saamval met Kersfees (“Christ-mass”) wat aanvanklik verwys het na die nagmaal wat die vroeë kerk op Christus se geboorte gevier het in nagedagtenis aan Hom. Daarna is daar Epifanie, die viering van die doop (6 Januarie), verskyning en bediening van Jesus. Daarna kom die Lydenstyd, Goeie Vrydag, Paasfees, Pinksterfees en dan ‘n tyd wat ons noem Koninkrykstyd. Nie een van hierdie dinge is ‘n “moet” in die Skrif nie, maar wel gebaseer op die verhale van Jesus en die kerk. Dit help ons om die groot dinge van sy lewe te vier ter herinnering en bemoediging. Die datum van Jesus se geboorte is egter nie bekend nie, selfs sy geboortejaar is in dispuut. Maar, een van die tradisies is dat Maria op 25 Maart swanger geraak het, nege maande later op 25 Desember geboorte geskenk het, en dat Jesus weer op 25 Maart gekruisig is. Dit daar gelaat. Ek vier dus die Christusfees eerder as Kersfees, om myself te herinner, en my gemeente, dat Jesus as Verlosser gebore is. Dit is egter nie ‘n moet nie.

  • Avatar

    Deon Vermeulen

    |

    Hi
    Ek woon in Despatch . My vraag gaan oor kersfees. Ek het op op 1 Mei 2016 tot bekering gekom en is 16 Oktober gedoop. Hierdie jaar sal dit my tweede jaar wees wat wat ek nie deel gaan hê aan kersfees nie. Na ondersoek het ek besef dat kersfees ‘n mense instelling is en niks met Jesus te doen het nie. Kersfees soos ek dit sien gaan maar oor geldmakery. Dink ook nie daar staan enige iets in die Bybel dat ons Sy verjaarsdag moet vier nie. Wat vir my belangrik is, is die nagmaal en die doop wat deur Jesus ingestel is. Is ek dan verkeerd om nie kersfees te vier nie, ons weet ook dat dit nie Jesus se geboorte dag was 25 Des nie ?

  • Avatar

    Piet du Toit

    |

    Groot waardering vir jou deeglike uitlegging Chris. Baie dankie.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Sonja. Nee, Jeremia 10 verwys na die maak van afgode. Dit het niks met kersbome en versierings te make. Die Kersboom en sy versierings is eers lank daarna, en lank ná Jesus se geboorte self aan sy geboorte verbind. Aanvanklik was die ou kerkvaders baie negatief daaroor, Tertulianus bv. Lees meer by Christianity Today wat Edwin en Jennifer Woodruff oor die ontwikkelinge deur die eeue sê in hulle artikel Why do we have Christmas Trees?

%d bloggers like this: