- Bybelskool - http://bybelskool.com -

Jeremia 11:1-17 – Vervloek is elkeen wat ongehoorsaam is aan die verbond

Jeremiah lamenting - Rembrand van Rijn [1]Hier begin weer ’n nuwe hoofdeel van Jeremia, aangedui met die frase: “Dit is die woord …”.  Die Here fokus hier op die verbreking van die verbond wat Hy met die volk gesluit het, maar wat hulle deur hulle ongehoorsaamheid en afgodediens verbreek het.  Dit is duidelik dat dié woorde van Jeremia geïnspireer is uit beskrywings van die verbond regdeur die boek Deuteronomium.  Vgl. bv. die verwysing na “vloek” in vers 3 met Deut. 27:26, “ystersmeltoond” in vers 4 met Deut. 4:20, die “eed aan die voorvaders” in vers 5 met Deut. 7:8; 8:18; 9:5 en nog vele meer.

Jeremia word ’n opdrag gegee om self te luister na die bepalings van die verbond, soos dit in Eksodus tot in Deuteronomium (veral 27:15-26) beslag gekry het en deur Josia in sy hervorming gebruik is (2 Kon. 22-23).  Met dít as agtergrond moet hy die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem soos volg daaroor inlig, telkens vanuit sy intieme gesprek met en in opdrag van die Here:

11:3-5 – Die vloek van die verbond

Die verbond hou nie net voortdurende seën in vir die volk onafhanklik van hulle nakoming van die voorwaardes van die verbond nie.  Die verbond het ook vervloekings bevat aan elkeen wat ongehoorsaam is aan die bepalings van die verbond wat die Here by die Uittog uit Egipte aan hulle voorvaders bekend gemaak het.

Hulle verhouding met God hang af van hulle gehoorsaamheid.  God se landsbelofte word bevestig in hulle gehoorsaamheid aan die verbondsbepalings.    Daarop het Jeremia sy instemming laat hoor: “Amen, Here.”

11:6-8 – Die straf van die verbond

Die Here vervolg deur die volk op te roep tot gehoorsaamheid aan die bepalings van die verbond.  Hy herinner hulle egter onmiddellik aan die feit dat die voorvaders dié oproep op hardkoppige wyse geïgnoreer het.  Dit het God se strawwe wat in die verbondsvervloekinge bepaal is, in werking gestel. Let op dat Jeremia dié boodskap moet bring in die stede van Juda sowel as in die strate van Jerusalem.  Hy het dus moontlik as deel van Josia se hervormings die land vol met dié boodskap deurkruis.

11:9-10 – Die verbreking van die verbond

Die Here sluit in sy opvolg gesprek met Jeremia die huidige volk in by die sondes van die voorvaders.  “Hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders.”  Hulle weier ook om na God se woorde te luister.  Hulle dien ook eerder ander gode.  Daarmee het hulle, soos hulle voorvaders, die verbond met God verbreek.  Hier kan ook ’n subtiele verwysing wees na die konings wat politiese alliansies met ander nasies aangegaan het en só “saamgesweer” het teen die Here.  Dit kan ook na sy eie mense in Anatot verwys (11:21-22; 12:5-6).

11:11-14 – Gebed sal die ramp nie afweer nie

Omdat die volk ook in Jeremia se tyd nie na God geluister en Hom nie gedien het nie, bring God daarom die vervloekings en strawwe van die verbond oor hulle, soos Hy dit ook al vroeër gedoen het oor sy ongehoorsame volk.  Die afgode sal hulle dan nie kan help nie.  Trouens, selfs Jeremia se gebed sal nie help nie, want hy word verbied om vir hulle in te tree.

11:15-17 – Afgodediens is die oorsaak van die rampspoed

Dit is duidelik dat die oorsaak van die rampspoed wat Juda tref in hulle afgodediens lê.  Die mooi groen olyfboom van die Here, Juda, sal kaal gestroop en sy blare aan die brand gesteek word.  En die tragiese is dat die volk dit hulleself aangedoen het.

Boodskap

Dit is weereens duidelik hoe belangrik die bekende Woord van God, in dié geval Deuteronomium, vir Jeremia was in sy beoordeling van wat rondom hom met die volk besig was om te gebeur.  God se beloftes en riglyne is in die Bybel, wat almal kan lees, opgeteken.

Die feit dat God in Jesus naby ons gekom het, dat Hy vir ons lief het en aan ons sy genade op soveel wyses bewys, moet ons nie onder enige illusies laat dat Hy daarmee sy soewereiniteit en Almag prysgegee het nie.  Hy is Here, ja.  Maar Hy is ook die Almagtige, verseker.

[2]   [3]   [4]