- Bybelskool - http://bybelskool.com -

Jeremia 10 – Die Here die Almagtige is die ware God

Jeremiah lamenting - Rembrand van Rijn [1]Hierdie hoofstuk kan in twee dele opgedeel word:

  1. 10:1-16 – Jeremia se openbare belydenis dat daar geen god is soos die God van Juda nie waarin hy waarskynlik onder andere dele uit Jesaja hfst. 40-46 ingespan het vir sy eie verwoording van God se grootheid.
  2. 10:17-25 – Jeremia se intersessie gebed vir genade in die lig van die onafwendbare oordeel.  Hy span onder andere dele uit Hosea 4 en Spreuke 16 in sy verwoording in.

Jeremia se openbare belydenis: die Here die Almagtige is die ware God -10:1-16

Jeremia wy uit oor die magteloosheid van die afgode in die eerste 5 verse.  Hulle is net versierde houtstompe wat met spykers teen die vloer vasgeslaan moet word, sodat hulle nie omkantel nie.  Geen mens kan vir hulle bang wees.  Hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie.  Let op die pragtige metafoor waarmee hulle beskryf word: “Sulke gode kan net so min praat as ’n voëlverskrikker in ’n komkommerland.”!  Jeremia wil ook nie hê dat die Jode die gewoonte van die heidennasies, om vir allerlei tekens aan die hemel op die uitkyk te wees, moet aanleer nie, want dit is betekenisloos.  Hulle kan eerder op God se wysheid staatmaak wat Hy uitdeel aan dié wat Hom dien.

Teenoor die magteloosheid van die afgode staan die absolute mag van die Here wat die Koning van die nasies is.  Sy wysheid is weergaloos.  Hoe kan ’n mens dit oor jou hart kry om Hom nie te dien nie.  Hy is nie maar net die vrug van kunstenaars se arbeid, soos die afgode nie.  Hy is die ware God, die lewende God, die Koning vir altyd.  Hy heers in die geskiedenis en die nasies bewe vir Hom.

Dít, sê Jeremia, is ’n boodskap wat die nasies moet hoor.  Daarom is vers 11 in Aramees geskryf, die wêreldtaal van die tyd, sodat mense dit sommer kan aanhaal in hulle gesprekke met mense van ander nasies.

Dan brei Jeremia uit oor God se skeppingsmag en prys God vir sy krag, wysheid en insig wat hy met die totstandkoming van die hemel en die aarde ten toon gestel het.  Die natuurkragte – water, weerlig, en wind – is in God se wêreld nie gode of selfs onpersoonlike magte, elemente of beginsels nie, soos dit die geval was met die vier Griekse natuurkragte nie: water, lug, vuur, en grond.  Die hele Skepping is alles onder God se beheer en Hy wend dit aan soos Hy dit wil.

Hy is die Skepper van alles en almal, sê Jeremia, en op die koop toe, is Israel die volk wat aan Hom behoort.  Daarom kan sy Naam eintlik in dié verband net op een manier uitgedruk word.  “Die Here die Almagtige is sy Naam.”  Jahwe (Here) is sy verbondsnaam, die naam waarmee Hy Homself aan Israel bekend gestel het.  Die Almagtige is die naam waarmee Hy Hom aan die wêreld en die nasies bekend gestel het.

Jeremia se intersessie gebed: Straf ons nie in u toorn nie – 10:17-25

Jeremia spreek eers in die eerste twee verse die beleërde volk aan om gereed te wees om in ballingskap te gaan.  Hulle moet hulle besittings gereed hou, omdat die Here se besluit vasstaan.

Dan vervolg hy in die res van die perikoop met ’n klaaglied waarin hy sy eie ellende en dié van sy volk voor die Here bekla (vers 19-22) en dit opvolg met ’n intersessie gebed waarin hy vir genade in die oordeel vra (vers 23-25).

Dit is nogal belangrik om vers 19 se oorspronklike teks hier te lees, want die vers is eintlik in die eerste persoon enkelvoud geskryf. Die frase: “Dan sal elkeen roep:” is ’n dinamiese byvoeging van die vertalers wat verberg dat dit eintlik Jeremia aan die woord is.  Die Hebreeuse teks lees net: “Groot is my ellende, pynlik my wonde” (Letterlik: “Wee my vanweë my vermorseling/verbreking, my wond is ernstig”).

Dan maak die res van die verse sin as ’n klaaglied van Jeremia waarin hy sy eie lot voor die Here bekla, maar ook sy volk se ellende op roerende wyse beskrywe – sy tent is verwoes, en daar is niemand meer om dit op te slaan nie.  Die rede is eenvoudig, die herders het dwaas geword en nie na die wil van die Here gevra nie, en daarom het die volk verwilder.  ’n Mens hoor hier vir die 8ste eeuse Hosea praat: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis.” (OAV 4:6).

Dit laat Jeremia oorgaan in ’n spesiale intersessie gebed waarin hy op voetspoor van Spreuke 16:9 erken dat die mens nie self sy pad of koers kan kies nie, maar tog wil vra dat die Here sy straf sal temper.  Vers 24 is eintlik in die eerste persoon enkelvoud geskryf. Jeremia bid wel namens die volk, maar in sy eie hoedanigheid: “Here, straf my soos ek verdien, maar nie in toorn nie, dat U my nie tot niet maak nie (dat u my nie te klein maak nie!).”

Hy sal veel eerder wil sien dat die Here die nasies in sy toorn straf omdat hulle God nie aanroep nie, en sy volk vernietig het.

Boodskap

Dit tref my hoe Jeremia in hierdie hoofstuk Bybelgedeeltes uit die verlede inweef in sy belydenis en sy gebed – Jesaja 40, Hosea 4 en Spreuke 16.  Hy gebruik dié bekende gedeeltes om met beide die volk as met God in gesprek te tree.  Wat veral tref, is hoe hy ’n bekende wysheidspreuk neem, die waarheid daarvan erken, maar tog vra dat die Here genade sal betoon, selfs al hou God Hom aan sy plan met die ongehoorsame volk.

Dit leer my net weer hoe ongelooflik belangrik die Bybel in ons geestelike lewe is.  Dit moet letterlik ’n huis word waarin ons woon.  Jeremia het in sy huis die kamers van Jesaja, Hosea en Spreuke (en nog ‘n paar ander ook!) geken en ingespan in sy verhouding met God.  Só moet dit ook met ons wees.

[2]   [3]   [4]