This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Wed Nov 22 8:56:13 2017 / +0000 GMT

Hebreërs 7:1-28 – Jesus Christus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek



Hebreërs In hierdie hoofstuk begrond die skrywer sy aansporing tot geestelike volwassenheid in die Hoëpriesterskap van Jesus Christus.  Hy doen dit op twee maniere:

Hy sal in die volgende hoofstukke drie gevolge hiervan uitspel, dat:

Daarna sal hy 'n verdere appèl maak:

Sy brief-boodskap sal afsluit met 'n beskrywing van die tipe geloofsgemeenskap wat nodig is om hierdie groei na geestelike volwassenheid te ondersteun – hfst. 13.

Dit help om dié breë prentjie in gedagte te hou soos ons die twee perikope van hoofstuk 7 lees.

7:1-10 – Die wese van Melgisedek se priesterskap

Die skrywer sluit hier aan by die verhaal van Melgisedek soos ons dit in Genesis 14 aantref, maar gaan verder in sy interpretasie daarvan as wat ons in die OT aantref.

Terloops, verwysings na 'n hemelse figuur met die naam Melgisedek kom ook in ander Joodse bronne voor, bv. in een van die eskatologiese tekste uit die Dooie See rolle van Qumran (2de eeu v.C.) sowel as in die tweede boek van Henog (1ste eeu v.C.).  Ander tekste uit die Joodse rabbynse tradisies verbind die naam Melgisedek weer aan Sem, die seun van Noag , wat sou beteken dat hy 465 jaar oud sou wees teen dié tyd wat hy Abraham ontmoet, as ‘n mens die Bybelse ouderdomme op sigwaarde sou neem!

Die Hebreër skrywer gaan egter sy eie onafhanklike weg op met sy interpretasie van Melgisedek aan die hand van die verhaal in Genesis 14 in hierdie perikoop en in die volgende perikoop aan die hand van Psalm 110.  Hy ignoreer dus die bestaande Joodse tradisies en fokus net op die Bybelse teks met sy eie verdere interpretasie daarvan.

Om jou gedagtes te verfris: in Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is.  Hy het brood en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde.  Geloof sy God die Allerhoogste!  Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”  Abram se reaksie was betekenisvol, soos die skrywer dit ook hier uitlê.  Hy het vir Melgisedek 'n tiende van alles gegee.  Daarmee is Melgisedek se voorrang bó die aartsvader Abraham bevestig.

Die Hebreër skrywer lê die bestaande teks in Genesis 14 egter verder uit en verduidelik benewens die verklaring van sy naam as “Koning van Geregtigheid” ook sy naam as “Koning van Salem” dit is “Koning van Vrede”.  Dit is egter die volgende aansprake oor hom wat 'n mens tot stilstand laat kom: “Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde.”  Dit is beskrywings wat net op 'n hemelse ongeskape wese van toepassing kan wees.

Die toppunt van sy aanspraak is dat Melgisedek daarbenewens: "soortgelyk aan die Seun van God" geteken word, d.w.s. dat hy 'n voorafskaduwing van Jesus as Seun van God is.  Dit is merkwaardig!  Melgisedek as 'n gestalte uit die OT het dus in die NT 'n realiteit in Jesus geword.  Die enigmatiese misterieuse hemelse figuur Melgisedek vind vervulling in Jesus as die Seun van God.

Ons sien wel dieselfde verbande wat in die res van die NT gelê word sodat ander figure uit die OT in Jesus ‘n vervulling kry, waar Jesus bv. as die Adam (1 Kor. 15) en die Moses (Joh. 1:45; 6:14) van die NT bedeling geteken word.  Die skrywer van Hebreërs gebruik dus dieselfde manier van uitleg deur Jesus as die vervulling van verskillende persone uit die OT te teken. Om die waarheid te sê, op ander plekke word Jesus selfs ook as die vervulling van institusies uit die OT, die tempeldiens, geskets, soos ons bv. in hoofstuk 9 sal sien.

Die wyse waarop hy Melgisedek met Jesus verbind is egter wel kwalitatief anders, omdat Adam en Moses sterflike skepsels was, maar Melgisedek ongeskape en onsterflik.  Daar is dus 'n dieper band tussen Melgisedek en Jesus.  Ek is egter versigtig om 'n direkte identifikasie van Jesus terug na die OT figuur van Melgisedek te maak.  Ek sal verseker sê Jesus is in aanhalingstekens die "Melgisedek" van die NT, soos die skrywer van Hebreërs dit sê.  Ek sal egter versigtig wees om te sê Melgisedek is die Jesus van die OT.  Dit sou misleidend kon wees met geen eksegetiese basis in die Bybelteks nie.  Ons weet net te min van die OT figuur Melgisedek om só iets kwyt te raak.

Dat Melgisedek in die OT beduidende trekke van Jesus in die NT  openbaar is egter ook waar – sy ongeskape en ewige bestaan, sy hoë koninklike en priesterlike status, sy noue verbintenis aan God, die brood en wyn wat ‘n mens aan die nagmaal laat dink, die tiendes wat aan hom gegee is – sonder dat ek daarmee hom direk met Jesus sal kan identifiseer.

Die skrywer gaan voort om die belang van Melgisedek se priesterskap uit te lê.  Hy is die meerdere nie net van Abraham sowel as van almal wat uit hom voortgespruit het, onder andere die geslag van Levi waaruit die Joodse priesterlike geslag gestam het.  Dit is belangrik om dié punt te onderstreep, want die Levitiese priesterskap kon nooit volmaaktheid bring nie.  Net dié priesterskap van Melgisedek, omdat hy vir altyd priester bly.

7:11-28 – Jesus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek

Die skrywer vervolg met sy verbintenis van Jesus aan die orde van Melgisedek, hierdie keer in sy uitleg van Psalm 110.  In dié Psalm is aan die koning van Israel nie net oorwinning oor sy vyande beloof nie, nie net die mag oor allerlei nie, maar baie spesifiek ook die priesterskap volgens die priesterorde van Melgisedek, iets wat geen aardse koning ooit kon waarmaak nie.

Hierdie Psalm se boodskap word nou Messiaans geïnterpreteer en deur die skrywer aan die Hebreërs op Jesus van toepassing gemaak, die Een wat in staat is om as koning en priester vir ewig op te tree.  Jesus is daarom die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.  Dit is 'n koninklike priesterskap.  Hy tree nie net in vir ons as priester nie, maar het inderdaad mag oor die hele lewe, omdat Hy inderdaad “die krag van onvernietigbare lewe” het.

Die Levitiese priesterskap word daarmee opgehef deur die Messiaanse priesterlike koning, Jesus Christus.  Hy bring 'n beter hoop op verlossing waardeur ons tot God kan nader, omdat Hy nie net die borg van 'n beter verbond geword het nie, maar 'n priesterskap besit wat nooit tot 'n einde kom nie.

Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef om ter wille van hulle in te tree.” (vers 25).

Omdat Hy heilig is, onskuldig en onbevlek, boonop afgesonder van die sondaars en onaantasbaar hoër as die hemele verhef is, kan Hy as die volmaakte volkome versoening doen vir ons as sondaars.

Boodskap

Ek kan aan min dinge dink wat my aan die een kant so opgewonde maak, maar aan die ander kant ook heeltemal tot rus bring, as die feit van Jesus se voorbidding vir my.  Hy leef vir altyd om vir ons in te tree, om vir ons voorspraak by God te doen.  Dit is die boodskap van Hebreërs.

Jesus raak ook nie moeg om dit te doen nie. Hy sal nooit ophou om dit te doen nie.  Hy sal selfs ná ek dood is aangaan om vir my mense, beide my familie as my geloofsgemeenskap, sowel as vir die koms van die koninkryk in die wêreld in te tree.  Watter gerusstelling.  Ek kan my kommer en nood, my verwagtings en behoeftes by sy voete los.  Hy leef vir altyd om vir my in te tree.  Sela.

 

 


Post date: 2014-10-29 00:00:21
Post date GMT: 2014-10-28 22:00:21
Post modified date: 2014-10-27 19:53:13
Post modified date GMT: 2014-10-27 17:53:13

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com