This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Mon Nov 20 7:52:14 2017 / +0000 GMT

GALASIËRS 6 – Ons dra mekaar se laste – Soli Deo Gloria



Daar word vandag baie geskryf oor die liefde en dat die liefde die sleutel tot die Christelike lewe is.  Só ook in die afgelope Kerkbode.  Heel gepas sê Neels Jackson dat hierdie liefde “nie 'n wettiese soort gehoorsaamheid” is nie, soos ons dit ook in Galasiërs 2 tot 5 gehoor het.  Neels haal ‘n hele paar verse aan uit Galasiërs 5 in sy redaksionele kommentaar: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”  En: “Al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”  Liefde word dus verstaan as ‘n dienende ondersteunende gesindheid wat die belange van ander op die hart dra.

En dit is reg so.

Die liefde word in die konteks van die sonde uitgeleef

Maar waaroor daar nie genoeg geskrywe, gedink en gepraat word nie, is die konteks waarbinne dié liefde uitgeleef moet word.  Die konteks in Galasiërs 5 en 6 is die konteks van die sonde.  Paulus skryf oor die stryd tussen die Gees en die vlees, die stryd tussen die vrug van die Gees en die sondige praktyke van die vlees.

En die liefde waartoe ons opgeroep word, is om juis in die konteks van die sonde wat só maklik op ‘n persoonlike, gemeentelike en sosiale vlak hand uit ruk: “deur die liefde tot dade” oor te gaan.  Ons moet genoeg omgee om mekaar se laste te dra, en dan praat Paulus nie van die las van een of ander behoefte nie, maar baie spesifiek die las wat die sonde op ons plaas, soos hy in Galasiërs 6 baie pertinent gaan skryf.

Die liefde vir mekaar beteken dus in Galasiërs 5 en 6 dat ons nie onsself of ander mense toelaat om in die stryd tussen die Gees en die vlees in die sonde te val en daarin te bly nie.  Ons liefde roep ons op om só veel om te gee dat ons bereid sal wees om met sagmoedigheid iemand wat in een of ander sonde val, reg te help, en so die las van iemand te help dra wat gebuk gaan onder die uitdaging van versoekings en vasgevang is in die worsteling tussen die Gees en die vlees wat só heftig in ons kan woed.  “Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus”, die wet van die liefde, sê Paulus in Galasiërs 6:2. Terwyl ons versigtig is dat ons self versoek word.

Neem persoonlik en as geloofsgemeenskap verantwoordelikheid in die stryd teen die sonde

Dit gaan dus nie hier in Galasiërs 5 en 6 oor die hulp aan behoeftiges of lydendes nie, hoewel daar natuurlik baie ander gedeeltes in die Bybel is wat dít beklemtoon.  Hier is Paulus egter besig om te sê dat die liefde ons oproep om aan die een kant persoonlik verantwoordelikheid te neem om die suigkrag van die sonde deur ‘n wandel in die teenwoordigheid van die Gees (peripateō) die hoof te bied (vers 16).  Aan die ander kant moet ons as geloofsgemeenskap ons ten doel stel om saam soos in ‘n peleton te marsjeer in gelid met die Gees (stoicheō) om volgens sy waardes op te tree (vers 25).

Dit sluit in dat ons persoonlik sorg dat ons nie verval in die sondes van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap, en orgies nie.  Dit sluit ook in dat ons in ons gemeenskap met mekaar sal sorg dat ons mekaar lief het deur nie in vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns te verval nie.

Uiteraard moet ons ook nie by afgodery en towery betrokke raak nie, maar eerder fokus daarop om die vrug van die Gees in ons lewe toe te laat:   die gawes vir jou innerlike lewe: liefde, blydskap, vrede;  die gawes vir jou gedrag in die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedheid; en die gawes vir jou gedrag in die gemeenskap: getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Net soseer dat ons as ‘n geloofsgemeenskap moet waak daarteen dat ons onsself in die hok waarin die wet ons kan toesluit, bevind, só moet ons waak teen die moeras van die sonde wat ons kan verstrik en in losbandigheid kan laat verval.

Kom ons lees hoe Paulus dit in Galasiërs 6 verwoord.

1 Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat die Gees het, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself dat ook jý nie versoek word nie.  2 Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus. 3 As iemand meen dat hy iets is terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. 4 Elkeen moet sy eie dade beoordeel; dan sal hy sy trots net vir homself kan hou sonder om by ander daaroor te spog, 5 want elkeen moet sy eie las dra.  6 Wie onderrig ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit.  7 Moet julle nie laat mislei nie —God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8 Hy wat in sy sondige aard saai, sal uit sy sondige aard vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. 9 Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10 Daarom: Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan ons geloofsgenote.

Finale waarskuwing

11 Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif. 12 Mense wat deur die uiterlike 'n indruk wil maak —dit is hulle wat julle probeer dwing om besny te word, net sodat hulle nie ter wille van die kruis van Christus vervolg sal word nie. 13 Want diegene wat ten gunste van die besnydenis is, onderhou self nie die wet nie, maar hulle wil hê dat julle besny word sodat hulle oor julle uiterlike kan spog. 14 Maar wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek spog nie, behalwe oor die kruis van ons Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. 15 Want besnedenheid of onbesnedenheid beteken hoegenaamd niks nie, maar wel die nuwe skepping. 16 Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en barmhartigheid —en vir die Israel van God!  17 Ten slotte, niemand moet my verder moeite gee nie, want ek dra die littekens van Jesus aan my liggaam.

Seëngroet

18 Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle gees, broers! Amen.   (BDV)

Dra mekaar se laste wanneer die sonde iemand oorval

Ek wonder hoeveel van julle het gedink dat Paulus hier van laste in die konteks van sonde praat.  Ek dink ons almal het eintlik dié frase los van die konteks gehoor, soos ‘n koringkorrel, en verkeerdelik aanvaar dat Paulus hier doodgewoon praat van die laste van die lewe, dié dinge wat verkeerd gaan, die uitdagings van siekte, of finansiële nood, of watter ander krisis mense ook al tref.

Maar, dit is nie waaroor Paulus hier praat nie.  Hy praat van dié gevalle van ons geloofsgenote wat deur een of ander sonde oorval word, hetsy persoonlik in onsedelikheid, onreinheid of losbandigheid of in die gemeenskap deur vyandskap, tweespalt of selfsug.

En sy opdrag aan ons is om met groot versigtigheid in liefde en sagmoedigheid – as deel van die vrug van die Gees – betrokke te raak en só iemand reg te help, terwyl jy versigtig is dat jy nie self in sonde val, deur bv. by die vyandskap betrokke te raak of self in losbandigheid te verval nie.

Dit is dié tipe liefde waarvan hy praat as hy sê dat as ons só mekaar se laste help dra, dan is ons besig om die wet van Christus, die wet van die liefde uit te voer.  “Caring enough to Confront”, soos iemand een keer gesê het.

Paulus beklemtoon dus in hoofstuk 6 hoe ons mekaar lief moet hê, hoe ons mekaar moet help, veral as iemand in sonde val.  Dra mekaar se laste, die laste wat kom as die sonde ons oorval. Dit is die essensie van ons liefde vir mekaar.

Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid

Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid.  Dit is só ‘n belangrike deel van ons Christelike lewe.  Maar dit is natuurlik ook iets wat regtig baie van jou vra, want dit beteken jy moet afstand doen van jou eie behoeftes en ander s'n eerste stel.  Jy sal die versoeking moet weerstaan om ander se probleme te gebruik om jou eie beeld, hetsy persoonlik of publiek, te bou.

Want, dit is hoe ons baie keer reageer op ander se probleme.  Ons dink nie daaraan hoe ons hulle kan help nie. Eerder hoe ons daaruit baat kan vind.

Jy sal sien dat mense wat aan ‘n minderwaardigheidskompleks ly, hulle sal verheug oor ander se skande, want dit bring die sondaars nader aan hulle eie vlak.  Mense wat aan ‘n meerderwaardigheidskompleks ly, sal hulle weer verheug oor ander se skande, omdat dit dan duidelik blyk dat hulle beter is as die sondaars.  Nee, ons moet ander reghelp in ‘n gees van sagmoedigheid, sonder om ons eie beeld daardeur te probeer bou. Terwyl ons ook versigtig is dat ons nie self in sonde val nie.

Ons moet dus nie ander mense se probleme gebruik om ons eie beeld te bou nie.  Ons moet mekaar se laste dra.  Dit beteken dat jy ‘n deel van hulle las jou eie maak.  Jy kan immers nie iemand help dra aan iets, sonder dat ‘n deel van hulle las ook joune word nie.  Dit is soos om ‘n swaar ding soos ‘n tafel te dra.  As dit 50 kg weeg as jy dit self dra, dan weeg dit eintlik net 25 kg as twee van julle dit dra.  Dit is wat gebeur as jy iemand se laste dra.  ‘n Deel daarvan word jou las.  En ons moet dit ons missie in die lewe maak. Ons moet mekaar se laste dra.

Maar, Paulus is heel duidelik hieroor.  As jy te veel van jouself dink, dan sal jy dit nie doen nie.  Dit is wat vers 3-5 sê.  Daarom, moet jouself nie mislei nie.  As jy iets doen wat goed is, reg so.  Geniet dit, maar moenie jouself begin vergelyk met ander nie, want dan sal jy net begin om jouself te mislei, en nie bereid wees om ander te help nie.

Leef die kruisevangelie

Onthou dat jy self ook blootgestel is aan die stryd tussen die Gees en die vlees, dat die sonde ook vir jou loer om jou in sy mag te kry, soos die Here vir Kain gewaarsku het al in Genesis 4.  Jy moet self sorg dat jy in die Gees wandel en in gelid met die geloofsgemeenskap volgens die waardes van die Gees, terwyl jy uitreik na dié wat dit moeilik vind in die stryd teen die sonde.

Dit is hoe die kruisevangelie daar uitsien, soos Paulus in vers 11 en verder aanvoer.  Mense probeer deur die eeue die kruis uit die evangelie uithaal.  Dit is in effek wat Petrus en Barnabas gedoen het deur hulle met die Jode en nie die gelowiges uit die heidene te assosieer nie.  Hulle het probeer om die Jode te beïndruk, om op hulle ‘n goeie indruk te maak, om populêr te wees. Hulle het egter daarmee die besnydenis, die kenmerkende identiteitsmerker van die Jode, verheerlik, en dit as iets waarop ‘n mens trots kan wees, vir ander voorgehou.

Want, hulle het geweet, as hulle dit nie doen nie, sal die Jode hulle aanvat en vervolg.  Hulle het dus die populêre weg gevolg.  Met die gevolg, dat hulle die kruis van die Here Jesus daardeur ontwyk het, nie die pyn gevat het van die assosiasie met die gelowiges uit die heidene nie.  En só het hulle ontrou geword aan die kruisevangelie van hulle Heer en Meester, Jesus Christus.

Al wat van belang is, is dat ons as nuwe mense leef

Die enigste ding wat vir hulle belangrik moes wees, is of mense nuwe mense is of nie.  Of hulle dit regkry om in die Gees te wandel en die vrug van die Gees dra, of hulle oorwin in die stryd tussen die Gees en die vlees.  En as hulle nie slaag nie, moet hulle met sagmoedigheid reggehelp word.  Of die gelowiges vroeër Jode was of heidene het nie ‘n snars saak gemaak nie.  Die ware Israel was dié mense wat nuwe mense geword het, en wat in Christus geroem het, nie in die besnydenis of die wet nie.  En verseker nie die genade misbruik het om in sonde voort te leef nie.

Daarom, sê Paulus, is dit so belangrik om op die akker van die Gees te saai, en nie op die akker van die vlees nie, hetsy op die akker van die sondes waaroor hy in Galasiërs. 5 geskryf het nie, óf op die akker van die gehoorsaamheid aan die wet waaroor hy eintlik amper tot vervelens toe in die hele brief skryf.

Wat jy saai, sal jy maai

Moenie jouself mislei nie.  God laat nie met Hom spot nie.  Wat jy saai, sal jy ook maai.  As jy saai op die akker van die sondige vlees, sal jy die dood en die verderf oes.  As jy saai op die akker van die Heilige Gees sal jy die ewige lewe oes.  Die eer behoort altyd en alleen aan God.  Soli Deo Gloria.

Dus, moenie moeg word om goed te doen nie.  Moenie verslap nie.  Moenie terugdeins nie.  Dra mekaar se laste.  Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid.  Doen goed aan almal, veral aan die medegelowiges.

Dit is die vryheid waartoe ons geroep word, om mekaar te dien en mekaar reg te help, uit liefde.

Dit is waarvoor Jesus Christus aan die kruis gesterf het.  Hy het gesterf sodat ons God se guns kan verwerf.  Hy het ons sondeskuld gedra sodat ons vry kan raak van die strik van die wet en die sonde.  Hy het die prys vir ons betaal sodat ons die ewige lewe kan beërwe.

Dit is die enigste ding waarop jy trots kan en mag wees.  Die kruis van die Here Jesus Christus.  Niks anders tel nie.  Dit is die beginsel waaruit ons almal moet lewe.  Want, dit is net diegene wat vasstaan in die vryheid wat God vir ons in Christus gegee het, wat die vrede van God sal ervaar en sy barmhartigheid sal beleef.

Soos in van sy ander briewe (1 Kor. 16:21; Kol. 4:18; 2 Tess. 3:17) sluit Paulus dié een af in sy eie handskrif.  En dit is heel gepas 'n snydende aanval op die besnydenis voorstanders.  Hy wys onder andere uit dat hulle dit eintlik om selfsugtig redes doen, om met hulle beheer oor die liggaam van ander te kan spog.  “Of 'n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is”.

Hierdie nuwe mense, mense wat vry gemaak is deur Christus, is die ware Israel – die eerste keer dat hy so prontuit hierdie term gebruik en op die kerk van toepassing maak (Romeine 9-11 brei hierop uit).

Soli Deo Gloria!

 

 


Post date: 2017-06-01 10:00:10
Post date GMT: 2017-06-01 08:00:10
Post modified date: 2017-05-31 22:37:46
Post modified date GMT: 2017-05-31 20:37:46

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com