This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Fri Jun 23 5:02:13 2017 / +0000 GMT

GALASIËRS 5 – Ons leef deur die Gees – Sola Gratia



Ons Westerse samelewing het tot ‘n groot mate die Franse Revolusie se slagspreuk van die laat 18de eeu omarm: Liberté, Égalité, Fraternitévryheid, gelykheid en broederskap.  Broederskap natuurlik bedoel in die sin van menswees, nie geslagtelik nie.  Hierdie gedagtes was ‘n natuurlike uitvloeisel van die Verligting van die 17de-18de eeu met sy klem op die rede en die wetenskap.  Wat die Franse Revolusie egter skerp in die kollig gebring het, was die fokus op die bevryding van die individu van die gesag wat sisteme en waardestelsels op hulle uitgeoefen het, in die kerk sowel as in die staat.

Die effek op die kerk was natuurlik enorm.  Want, die vryheid waarvan die Franse Revolusie gepraat het, was nie die vryheid wat in Christus beskikbaar was nie, maar was afgestem op die vryheid van die individu.  Die mens se begeertes en behoeftes het in die sentrum kom staan.  En vryheid het beteken dat jy kan kies hoe om te leef.

Nou, dit is nie die vryheid waarvan Paulus in sy brief aan die Galasiërs praat nie.  Die vryheid waarvan Paulus praat, is die vryheid van die gewete voor God, die vryheid van die ewige toorn van God op die sonde:

Dít is die vryheid wat Christus gebring. Dit is daarom ook ‘n vryheid van die wet.  Dit is ‘n vryheid van die sonde.  Dit is ‘n vryheid van die dood en die mag wat dit oor ons uitoefen.  En dít is die vryheid waarin ons moet vasstaan.

Kom ons luister hoe Paulus dit vir ons in hoofstuk vyf uitspel.

1 Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Daarom moet julle vasstaan en julle nie weer onder 'n juk van slawerny laat indwing nie!

'n Ernstige waarskuwing teen die besnydenis

2 Kyk, ek, Paulus, sê nou vir julle, as julle julle laat besny, sal Christus vir julle niks beteken nie. 3 Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat op grond van die wet vrygespreek wil word - julle is van Christus afgesny, julle het die genade verbeur! 5 Maar ons, ons verwag deur die Gees en op grond van geloof die vryspraak waarop ons hoop. 6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde in dade omgesit word.  7 Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te gehoorsaam? 8 Dié oorreding kom nie van Hom wat julle roep nie. 9 'n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. 10 Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie van my sal verskil nie; maar die een wat julle verwar, sal die straf dra, wie hy ook al mag wees.  11 En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. 12 Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself volledig laat ontman!

'n Lewe deur die Gees

13 Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik sodat dit aanleiding gee vir ons sondige aard nie, maar dien mekaar deur liefde. 14 Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15 As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle mekaar nie verteer nie!  16 Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie, 17 want ons sondige aard begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen ons sondige aard; die twee opponeer mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle ook al wil nie. 18 As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die toesig van die wet nie.  19 Die praktyke van ons sondige aard is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, orgies en hierdie soort dinge —waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.  22 Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23 sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie.  24 Almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree. 26 Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.  (BDV)

Die evangelie van genade

In die eerste deel van hoofstuk vyf beklemtoon Paulus dit dat die evangelie wat hy verkondig, die evangelie van genade is wat deur die Gees in hulle lewens aan die gang gesit is, ‘n genade wat hulle leer om hulle geloof deur die liefde in dade om te sit.  Hulle is vry om God te dien.  Sola gratia.

Paulus maak daarom 'n dringende appèl op hulle om nie hulle band met hierdie genade van de Here Jesus Christus te verloor deur die dwaasheid van die Joodse wetsdrywers nie.  En hy maak aanspraak op die persoonlike band wat hom met hulle verbind.  Om die waarheid te sê, hy vertrou dat hulle vas sal bly staan in wat hy hulle geleer het, en hoop dat die dwaalleraars liewer hulleself ernstig sal beseer …

Paulus gaan so ver as om te sê dat jy die genade van God verbeur as jy jou besny.  Jy verloor jou vryheid.  Want, dan moet jy die hele wet nakom.  Jy kan nie selektief wees en net een of twee goed kies wat jou pas om na te kom nie.  Daarom dat hy sê dat in die evangelie van genade: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6).

Ons geloof in Christus moet deur die liefde in dade omgesit word

Paulus probeer hiermee dus die volgende regkry:

En moenie dink dat ons vry is van hierdie versoeking om die wet na te kom nie.  Dink net terug aan die Sabbat wetgewing wat nog tot onlangs deel van ons land se wette was (nogal toegepas op 'n Sondag!) en in die kerk met oorgawe nagevolg is.  Dit het berus op 'n Joodse interpretasie van die wet, nogal 'n verskraalde een, want ons het nie die besnydenis toegepas nie!   En dan praat ons nie eers van die stig van aparte kerke wat op 'n ras-gebaseerde interpretasie van die Skrif begrond was nie, en eweneens 'n wet vir die gemeenskap van gelowiges geword het nie.  Ons kerk ly nou nog aan die gevolge van daardie dwaasheid.

Die wet is nie ‘n toetrede riglyn waardeur jy die geloofsgemeenskap kan binne kom nie.  Die wet het wel die funksie dat dit jou van jou sonde bewus maak, dat dit die boosheid beperk.  Maar sy grootste funksie in die gelowige se lewe is dat dit ‘n reël van dankbaarheid is. Dit is ‘n gedragsriglyn.  Die diepste betekenis van die wet lê in die lewenstyl wat God deur sy Gees in ons vestig sodat ons van binne af volgens sy wil kan lewe.

Paulus se woorde is dus gemik teen enige reël wat ons van toepassing maak op die gemeenskap van die gelowiges as ‘n hekkie waaroor ons moet kom om deel van die gemeenskap van gelowiges te raak, en wat nie met geloof en die genade van die Here Jesus Christus in die eerste en enigste plek te make het nie.

Om dit saam te vat: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan”.  Dit is wat die evangelie van genade van ons vra.

Dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges

In die laaste deel van hoofstuk 5 aan die Galasiërs fokus Paulus op die Heilige Gees.  En verkondig hy dat die geheim van 'n Gees vervulde lewe is om onder beheer van die Gees te lewe, om in gelid te kom met Hom en met Hom te wandel (peripateō), en nie onder beheer van die wet of die sondige natuur nie.  Jou keuse bepaal die rigting waarin jou lewe ontwikkel.

Dit is hoe God se genade tot sy reg kom in jou lewe ... óf nie.

Kyk, as jy van ‘n skip afval en verdrink, maak dit nie veel saak van watter kant van die skip jy in die water val nie, so sê Maarten Luther.

Maar Paulus is van beter oortuig van die Galasiërs, al is hy in barensnood dat hulle weer die pad van die Gees sal bewandel.  Daarom vermaan hy hulle om nie die genade te misbruik om sonde te doen nie, maar onder beheer van die Gees te lewe.  “Dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.'” (Lev. 19:18).

Die lewe onder beheer van die Gees is dus ‘n lewe in die gemeenskap van gelowiges waar jy jou naaste lief het soos jouself.  Jou vryheid bestaan daarin dat jy in liefde leef met almal wat deel is van die geloofsgemeenskap.

Moenie die sondige praktyke van jou sondige aard uitvoer nie

Dit beteken dat jy sekere sondige praktyke (let op die meervoud, met die klem op wat mense doen) binne die gemeenskap van gelowiges sal vermy, daarvan af sal wegvlug, die begeertes van jou sondige vlees nie sal uitvoer nie. Agt van die 15 sondige praktyke het met die konflik van liefdeloosheid in die gemeenskap van gelowiges te make: vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns.

Dit beteken ook dat jy jou persoonlike GEDRAG vry van sondige praktyke sal hou, dat jy daarvan sal wegvlug, dat jy die begeertes van jou sondige vlees nie sal uitvoer nie.  Paulus wys hulle op sekere slegte moreel-etiese praktyke: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en orgies (oordadige gefuif) asook die navolg van verkeerde godsdienstige praktyke: afgodery (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).

Daarteenoor staan die vrug van die Gees (let op die enkelvoud, met die klem op hoe ‘n mens is) wat jou laat vasstaan in die vryheid van die genade van God.  Dit het eweneens direk met PERSOONLIKE GEDRAG binne die gemeenskap van die gelowiges te make: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Jou vryheid in Christus maak jou verantwoordelik binne die gemeenskap van die geloof.

Maar belangrik, die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees.  Dit dui 'n manier van omgaan met ander aan, 'n manier van wees.

Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word.  In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel:

  1. Gawes vir jou innerlike lewe: liefde, blydskap, vrede;
  2. Gawes vir jou gedrag in die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedheid;
  3. Gawes vir jou gedrag in die gemeenskap: getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Die lewe in die Gees het dus alles te make met 'n mens se gedrag in die gemeenskap van die gelowiges.  Jou gedrag word bepaal deur die liefde vir die naaste.  Dit is wat die Gees in ons laat groei. Daarom sê Paulus in vers 25: “Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree”.  Die Griekse woord vir optree (stoicheō) beteken dat ons sy standaarde navolg, dat ons in gelid met sy leiding en insig binne die gemeenskap van gelowiges moet optree.  Die Gees se standaarde bepaal dus die liefde tot die naaste.

Staan vas in die vryheid van Christus se genade

Kom ons vat die boodskap van Paulus tot dusver saam.

1.  Omhels die vryheid wat Christus vir jou gebring het van die wet sowel as van die sonde. Ons moet ons vryheid geniet, die vryheid wat Christus gebring het.

2.  Beskerm jou vryheid. Moenie weer aan die wet gehoorsaam word nie, ook nie aan die sonde nie.  Vryheid moet nooit ‘n aanleiding wees vir die begeertes van jou sondige self nie, maar jou aanmoedig om in die liefde te leef soos die Gees jou lei.

3.  Ontgin (express) jou vryheid. Dit sluit die verwagting en hoop op God se werk in jou lewe in, maar ook die aanmoediging om jou vryheid in dade van geloof in liefde uit te druk.  Ons is vry om lief te hê.  Ons is vry om nie te sondig nie. Dink daaraan: jy hoef nie te sondig nie, want jy is vry!

4.  Gebruik jou vryheid. Jou vryheid is nie gemik op jou eie behoeftes en begeertes nie.  Jou vryheid is gemik op diens aan medegelowiges onder leiding van die Heilige Gees.  Moenie in sonde val nie, maar dien mekaar in liefde.  Ons is geroep tot vryheid en moet dié kosbare roeping uitleef!  Vryheid is nie rebellie teen God se wil nie.  Die interessante is dat jy dan sal uitvind dat jy die wet nakom, nie in die spesifieke detail van die rituele en seremonies daarvan nie, maar in die intensie daarvan, om God lief te hê en ander soos jouself.

5.  Ontwikkel (expand) jou vryheid. Laat die Gees jou lei dat jy nie swig voor die begeertes en versoekings van die vlees nie en jy die vrug van die Gees kan dra. Die wat aan Christus behoort, het immers hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig!  Daarvan moet ons vlug van alle seksuele, godsdienstige en sosiale kategorieë van begeertes van die vlees soos Paulus dit in vyftien aspekte hier vir ons uitspel, en dan ook nog byvoeg: “en dergelike dinge”.

Ons kan nie bekostig om die vlees, die dier in ons, te voed nie.  Ons kan die mag daarvan net ontvlug as ons vasstaan in die vryheid waartoe Christus ons geroep het deur te fokus op die Gees, om op die akker van die Gees te saai, soos hfst. 6 gaan sê.

Ek sluit af.  Die geestelike lewe is ‘n stryd tussen die Gees en die vlees.  Jy sal óf die een gehoorsaam óf die ander.  Jy kan nie doen wat jy wil nie, sê Paulus.

Jy kan jou aan die beheer van die Gees oorgee wat jou in die vryheid van die genade van die Here Jesus Christus sal laat vasstaan en sy vrug in jou lewe sal dra.  Óf jy kan jouself oorgee aan die begeertes van jou sondige natuur wat jou sal laat vasval in seksuele, godsdienstige en sosiale sondige begeertes.  En jy sal dink dat jy vry is om te doen wat jy wil, maar jy sal doodgewoon ‘n slaaf word van jou eie begeertes.

My gebed is dat jy sal vasstaan in die vryheid wat Christus jou gee deur die genade van die vergifnis wat Hy bewerk het vir jou aan die kruis.  En om die Gees toe te laat om jou lewe skoon te maak en vas te laat staan in die vryheid van sonde sodat jou geloof deur die liefde sal oorgaan in dade.  Sola gratia.

 

 


Post date: 2017-05-31 10:00:15
Post date GMT: 2017-05-31 08:00:15
Post modified date: 2017-05-31 07:07:46
Post modified date GMT: 2017-05-31 05:07:46

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com