This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Mon Nov 20 7:50:51 2017 / +0000 GMT

GALASIËRS 4 – Ons is kinders van die belofte – Sola Scriptura



Een van die groot ontdekkings van die Reformasie was om die Bybel boek vir boek te lees.  Die gebruik in die Middeleeue was om met ‘n teks of ‘n gedeelte daarvan te werk.  Dit is waarom ons op die hele brief aan die Galasiërs fokus en nie net ‘n gedeelte of ‘n teks uitlig en met dít as tema die boodskap bring nie.  Daar is natuurlik niks fout met ‘n tematiese boodskap nie.  Dit is verseker makliker om te verteer!  Maar, dan mis ‘n mens die diepgang van die Skrif, die fyn nuanses van die diep denke wat die Here deur sy Woord in ons wil stimuleer.

Dit is natuurlik baie meer uitdagend om só te lees, en julle sal kan getuig daarvan in hierdie Pinksterreeks!  Want, jy moet baie meer dinge inneem en in gedagte hou, sodat jy uit al die informasie wat Paulus hier gee, die lyn van sy argument kan begin volg en uiteindelik sin maak van wat hy vir ‘n mens wil sê.

Nog ‘n fokus van die Reformasie was dat ons leef óf deur die doodmakende wet óf deur die lewegewende belofte van die Woord.  ‘n Baie spesifieke interpretasie van Sola scriptura, dit waaroor ons nou onder andere gaan praat.  Sola scriptura gaan nie net oor die teks van die Bybel as sodanig nie, d.w.s dat dit die Woord van God is nie, maar oor die belofte wat God deur die teks van die Bybel in ons lewe aan die werk sit en waarmee Hy ons lewens verander, want ons bely immers dat ons die lewende stem van God in die Bybel hoor.

Dit is waaroor hierdie gedeelte in hoofstuk 4 gaan veral in die laaste gedeelte waar Hagar en Sara as ‘n allegorie, d.w.s. as simbole van die wet en die belofte, gebruik word.  En wat Paulus met hulle storie gaan doen, is om die punt van die brief te onderstreep, dat God ons vry gemaak het van die wet en van die sonde om sy kinders te wees.  Ons is nie slawe nie, maar kinders. Ons is vry burgers en erfgename van God se koninkryk.

En Paulus wil ons help om hierdie vryheid te ontdek en om in daardie vryheid vas te staan soos hy in hoofstuk 5 verder prakties gaan uitspel.  Daarom spreek hy steeds die gevaar van die wet aan, soos hy eintlik al die hele eerste vier hoofstukke doen, maar veral in hoofstuk 3 en 4, want die wet is iets wat jou verslaaf, wat jou vryheid weg neem.  Maar, hy gaan net soseer die gevaar van die sonde aanspreek in die volgende hoofstuk, want die sonde is ook iets wat jou verslaaf, wat jou vryheid weg neem.

Hy wil hê dat ons só bewus word van die vryheid wat God deur die Here Jesus Christus vir ons gee, en deur die krag van die Gees in ons lewens aan die werk sit, dat ons in daardie vryheid sal vasstaan, ‘n vryheid wat nie die wet nodig het om te weet wat reg en verkeerd is nie, maar deur die Gees begelei sal word om van binne af nee te sê vir die sonde wat ons wil verslaaf.  Paulus wil ons vry van wettiese beginsels maak, maar ook vry van losbandigheid, waarin ons ‘n wet vir onsself raak.

Dit is die spits van Paulus se argument wat ons in hierdie hoofstuk gaan hoor.

Kom ons lees:

1 Hiermee bedoel ek: Solank as die erfgenaam nog minderjarig is, verskil hy niks van 'n slaaf nie, alhoewel hy die eienaar van alles is. 2 Maar hy staan onder die beheer van voogde en bestuurders tot die tyd aanbreek wat deur sy vader bepaal is. 3 Net so is dit ook in ons geval: Toe ons nog minderjarig was, was ons as slawe onderworpe aan die elementêre beginsels; 4 maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, 5 sodat Hy diegene onder die wet kon loskoop, en sodat ons as sy kinders aangeneem kon word. 6 En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep: “Abba, Vader!” 7 Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind; en as jy kind is, is jy ook erfgenaam deur die wil van God.

Paulus se ernstige kommer oor die Galasiërs

8 Maar vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, was julle verslaaf aan gode wat in werklikheid nie bestaan nie. 9 En noudat julle God ken —of liewer, noudat God júlle ken —hoe is dit moontlik dat julle weer terugdraai na die kragtelose en ellendige elemente en weer van voor af daaraan verslaaf wil raak? 10 Julle onderhou vasgestelde dae en maande en tye en jare. 11 Ek is bevrees dat al my harde arbeid onder julle dalk tevergeefs was.

'n Ernstige beroep op die Galasiërs

12 Ek smeek julle, broers, word soos ek omdat ek soos julle geword het (sonder die wet ter wille van hulle soos hy later helderder hieroor praat in 1 Korintiërs 9)! Julle het my geen onreg aangedoen nie. 13 Julle weet dat ek die eerste keer weens my siekte die evangelie aan julle verkondig het, 14 en alhoewel my siek liggaam vir julle 'n beproewing was, het julle my nie verag of verfoei nie. Inteendeel, julle het my soos 'n engel van God ontvang, soos Christus Jesus! 15 Waar is julle blydskap dan nou? Ek kan van julle getuig dat, indien dit moontlik was, julle julle oë sou uitruk en vir my sou gee! 16 Het ek dan julle vyand geword omdat ek vir julle die waarheid vertel? 17 Hulle beywer hulle nie met goeie bedoelings vir julle nie; inteendeel, hulle wil julle van my af weghou sodat julle julle vir húlle kan beywer. 18 Die regte ding is om julle altyd vir die goeie te beywer en nie net wanneer ek by julle is nie. 19 My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. 20 Ek wens ek was nou by julle en kon met 'n ander stemtoon met julle praat, want ek is raadop met julle!

Abraham se twee seuns

21 Sê vir my, julle wat onder die gesag van die wet wil staan, luister julle dan nie na die wet nie? 22 Want daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin en een by 'n vrou wat vry was. 23 Die slavin se seun is op 'n natuurlike manier verwek, maar die vrou wat vry is se seun op grond van 'n belofte. 24 Dit word hier as allegorie aangebied. Hierdie twee vroue verteenwoordig twee verbonde: die een wat van die berg Sinai af kom, bring slawe voort; dit is Hagar. 25 En Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië; sy verteenwoordig die huidige Jerusalem, omdat sy en haar kinders slawe is. 26 Maar die hemelse Jerusalem is vry; sy is ons moeder! 27 Want daar staan geskryf:  “Wees bly, onvrugbare vrou wat nie geboorte skenk nie!  Jubel en juig, jy wat nie geboortepyne ken nie.  Want die baie kinders van die verstote vrou is meer  as dié van die vrou met 'n man.”  28 En julle, broers, is —net soos Isak —kinders van die belofte. 29 Maar, soos hy wat op 'n natuurlike manier verwek is, destyds die een vervolg het wat deur die werking van die Gees verwek is, so gebeur dit ook nou. 30 Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrou wat vry is, erf nie!” 31 Daarom, broers, is ons nie kinders van die slavin nie, maar van die vrou wat vry is.

(En ek lees ook vers 1 van hoofstuk 5 by wat eintlik hoort by hoofstuk 4, omdat dit ‘n gevolgtrekking is) 1 Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Daarom moet julle vasstaan en julle nie weer onder 'n juk van slawerny laat indwing nie! (BDV)

Paulus sê vir ons hier vyf dinge wat almal draai rondom die feit dat ons nie meer slawe is nie, maar kinders van God; dat ons nie meer verslaaf is aan allerlei voorskrifte nie, maar vry is van die wet en van die sonde om God as sy kind te kan dien.  Die wet is soos ‘n hok waarin jy jouself vasketting, in die hoop dat dit die sonde in jou sal bedwing, maar dit beteken nie dat jy binne in jou hart verander nie.  Die sonde is daarenteen soos ‘n moeras waarin jy vasgesuig word, wat weer beteken dat jy nie in ‘n nuwe lewe kan wandel nie; dat jy nie die vryheid van ‘n kind van God aan die wêreld kan demonstreer nie.

1.  Jy is nie meer ‘n slaaf nie, maar ‘n kind

Wat jy in die eerste plek moet agterkom is dat jy nie meer ‘n slaaf is nie, maar ‘n kind.  Ons weet dit deur die genade van die Here Jesus Christus wat ons die voorreg gegee het om kinders van God te word.  Ons weet dit ook deur die werk van die Heilige Gees in ons harte wat in ons roep: “Abba, Vader.

Ons moet seker wees dat ons in hierdie genade van God staan, nie vanweë ons eie vermoëns nie, maar deur die werk van Christus. Ons is kinders van God.  Ons is nie slawe nie.  Ons is vry mense, vry van die wet,  en vry van die sonde.  So seker soos ons is dat Christus God behaag, so seker kan ons wees dat ons God ook behaag, want Christus is in ons.

En alhoewel ons daagliks steeds sondes doen: “buig God se genade oor ons” soos Maarten Luther sê.  Daarom kan sonde ons nie die genade van God laat betwyfel nie. Ons sekerheid is van Christus, daardie magtige held wat die wet, die sonde, die dood en alle booshede oorwin het. Solank as wat Hy aan die regterhand van God sit om vir ons te bid, het ons niks om van die toorn van God te vrees nie.

2.  Hoe kan jy dan weer ‘n slaaf wil word?

Dit is waarom dit in die tweede plek vir Paulus so swaar is wat hy van die mense van Galasië agterkom.  Hulle stel hulle eie kindskap, hulle eie vryheid, in gevaar deur nou onder die druk van die Joodse gelowiges die wet te probeer nakom, om hulle metafories gesproke in ‘n hok van moets en moenies op te sluit.

Hoe kan ‘n mens dit aan jouself doen om die weg van die wet bewandel deur jou te steur aan die besnydenis, die feeste, die seremonies, die dieet reëls, as Christus jou dan vry gemaak het daarvan?  Dit maak nie sin nie.  Die voorskrifte verslaaf jou en maak dat jy nie na die lewende stem van God in die Woord alleen sal luister nie, maar na die reeks voorskrifte in die wet wat reeds vervul is en nie meer van toepassing is op die lewe van ‘n kind van God nie.

Nee, sê Paulus, ons moet vasstaan in die genade wat God vir ons gegee het.  Dit is vanuit ‘n nuwe hart wat ons die Here dien, nie vanuit ‘n uiterlike nakoming van die wet nie.

Dit is deur die innerlike versekering van die genade van God wat die Here Jesus Christus deur sy Gees aan ons gee – en dit is ‘n baie reële ervaring – dat ons in beweging gebring word om God se stem in sy Woord op te soek, om Hom te prys en om die naam van Christus voor die mense te bely, en om diens te lewer waar God ons wil gebruik.  Dit is wat kinders van die Here doen, om mense wat swaarkry, te help en om te troos as slegte goed met ander gebeur.  Vanuit ‘n hart wat omgee, nie omdat daar ‘n voorskrif is wat bepaal dat ons dit moet doen nie.

3.  Christus moet gestalte in julle kry

Paulus hou in die derde plek aan om die teologie van die Jode af te skiet wat die nakom van die wet beklemtoon as ‘n manier om salig te word.  Uiteraard is daar natuurlik ook 'n positiewe funksie van die wet in terme van lewenstyl, veral as ‘n mens aan die Tien Gebooie dink.  Die Tien Gebooie beskerm families deur ouerliefde uit te spel (5de gebod); dit beskerm lewe deur 'n verbod op doodmaak te plaas (6de gebod); dit beskerm die huwelik deur 'n verbod op egbreuk te plaas (7de gebod); ensomeer.

En hierdie tipe beskerming van die boosheid bly die positiewe funksie van die wet in die lewe van gelowiges selfs in die nuwe bedeling.  Daarom lê Jesus die wet uit in die Bergrede as ‘n integrale deel van sy volgelinge se lewe (Matt. 5-7) en som Hy die wet as die dubbele liefdesgebod op in die evangelies as riglyn vir gelowiges van die nuwe bedeling (Matt. 22 bv.).  Ook Paulus skryf baie positief oor die wet op talle ander plekke – in Romeine (13) en sy eerste brief aan Timoteus (1) om net ‘n paar voorbeelde te noem.  Só ook Jakobus, die broer van Jesus, in sy brief wat eintlik ‘n soort uitleg van die Bergrede is.

Maar die oomblik as jy dink dat die nakoming van die wet vir jou in God se guns kan laat kom, moet Paulus dit aan die kaak stel.  Want dan kan jy nie die wonder van die Here Jesus Christus se werk in jou hart waardeer en Hom sy doel met jou laat bereik nie.  Daarom, eerder as dat jy die wet probeer nakom, moet jy fokus daarop dat Christus in jou gestalte kry.

Trouens, soos jy agterkom dat daar in jou ‘n beweging is na die goeie, d.w.s. van binne af, sonder dat daar ‘n uiterlike voorskrif is wat jou dwing om die goeie te doen nie, is dit soos ‘n beëdigde verklaring van die Heilige Gees, sê Maarten Luther, ‘n “affidavit”, wat getuig van Christus wat gestalte kry in jou.  Hoe meer Christus ‘n werklikheid in jou word, hoe meer is daar ‘n honger na God en sy Woord en hoe meer ervaar jy dat jy die vrug van sy genade in jou lewe begin dra.  En hoe meer dié dinge toeneem, hoe sekerder kan jy wees dat die Here waarlik in jou hart en lewe aan die werk is, dat Hy gestalte in jou begin kry.

Eerder as om dat die wet te probeer nakom in allerlei voorskrifte, moet jy op Christus fokus en jouself daagliks daaraan herinner dat God in Christus met jou tevrede is.  Jy is sy kind.  Jy is nie meer ‘n slaaf nie.  Nie van die wet nie.  Ook nie van die sonde nie.  En kan jy Hom dien uit die vryheid wat Hy jou gegee het om Hom en Hom alleen te aanbid.

Dit is wat die Woord ons immers leer.  Dit is ‘n sekerheid wat ons kry uit die Woord dat ons God se kinders is. Jy kan saam met Maarten Luther bid: "Ek is reg met God. Ek het die Heilige Gees. Christus, in wie ek glo, maak my waardig. Ek hoor graag, lees, sing en skryf van Hom. Ek wil niks anders hê as dat die evangelie van Christus oral in die wêreld bekend word nie en dat baie, baie mense tot geloof in Hom gebring sal word."

En soos jy dit bid, sal jy ervaar dat dit al hoe meer waar word van jou; dat  Christus gestalte in jou kry.

4.  Die Skrif moet julle oortuig dat julle kinders van die belofte is

Charles Taylor skryf oor die moderne fokus om jou identiteit op jou eie keuse oor bv. gender en lewenstyl te bou.  Dit is wat die sekularisme aan ons doen.  Ons dink dat ons eie keuses, gebaseer op ons begeertes en behoeftes, ons vrymaak, maar in der waarheid maak dit ons ‘n slaaf van ons eie keuses.  Op die koop toe, maak ‘n keuse wat afwyk van God se geopenbaarde wil in sy Woord jou ‘n vyand van God en sy visie vir die lewe. En sluit jy die vryheid wat God gee vir jouself toe.  As jy jou eie identiteit kies, stel jy jou identiteit in Christus in gevaar.

Want dit is juis wat God in ons verander het, deur ons kinders van die belofte te maak.  Dit is die wonderlike ding wat met die Galasiërs gebeur het toe hulle God leer ken het – “of liewer, dat Hy hulle ken”!  Hulle het kinders van die belofte geword, en Paulus wil hulle aanmoedig om in die vryheid wat Christus vir hulle bewerk het, te volhard, anders vrees hy dat sy harde werk verniet sou kon wees.

Daarom smeek hy hulle in die vierde plek om nie van die evangelie afvallig te raak nie; om terug te dink aan hoe hulle die evangelie die eerste keer ontvang het; om sy insette, al was hy siek, te onthou; om die vreugde te herroep van hulle eerste bewussyn van Christus, waarin hulle Paulus ervaar het: “asof ek Christus Jesus self was”.  “Daardie mense”, die mense wat die wet beklemtoon, moet die Galasiërs dus nie van hulle eerste vreugde ontroof nie.  Hulle moet weer die beloftes wat God vir hulle waargemaak het, wat gebaseer is op die sewe tekste wat hy in hoofstuk 3 aangehaal het, herroep en die krag daarvan toelaat in hulle lewe.  Daarvoor pleit Paulus.

Paulus gebruik die Bybelse boodskap oor Hagar en Sara as figuurlike simbole of analogieë van twee verbonde wat teenoor mekaar staan.  Wat sê die Skrif, sê hy?:

Gelowiges is volgens dié beeld kinders van Sara, kinders van die belofte in die Skrif, kinders wat vry geborenes is, en wat hulle nie weer onder 'n slawejuk hoef of inderdaad mag begeef nie.  Anders sou hulle slawekinders van Hagar wees.

5.  Leef dan as vry mense uit die beloftes van die Skrif

So, die vraag is, in die vyfde plek, hoe kan ons in die vryheid van hierdie belofte vasstaan?  Want vryheid kan verloor word, óf deur in die hok van wettiese voorskrifte te verval óf jou vryheid te misbruik om sonde te doen en in die moeras van losbandigheid te lewe.

Wel, deurdat ons op die krag van die Gees begin staatmaak wat sy krag in ons vrystel soos ons volgens die beloftes in die Skrif begin lewe.  En daarvan gaan hy in hoofstuk 5 ‘n hele paar voorbeelde gee: “Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie.”  En; “Almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig.

Deur hierdie beloftes vir onsself toe te eien, kan ons die sonde oorwin, nie deur die krag van die wet van moets en moenies nie.  Want die wet sal ons nie in die finale instansie kan help nie, net die krag van die Gees wat die Woord se beloftes operasioneel maak in ons lewens.

Dit beteken natuurlik nie dat ons nou vry is om die sonde te doen nie!  Trouens, dit sal die toppunt van dwaasheid wees om steeds in die sonde voort te leef, omdat jy staatmaak op die feit dat jy nou nie meer onder die wet is nie, terwyl hierdie sondes juis die dinge is waarvan God ons vrygemaak het, soos wat Galasiërs 5 sal uitspel.  Ons moet in die vryheid vasstaan waartoe Christus ons vrygemaak het, die vryheid van die wet, maar tegelykertyd ook in die vryheid van die sonde.

Wat ons moet verstaan, is dat die sonde nie sondig is, omdat daar ‘n wet is wat dinge verbied nie.  Sonde is sonde omdat dit God se wil, sy beloftes vir die lewe, dwarsboom.  Dit is waarom ‘n mens steeds in bv. die Tien Gebooie God se wil kan raaksien, nie omdat dit soseer deel is van die wet nie, maar omdat dit God se wil uitdruk vir alle tye.

Daar is net een manier om vry te word van die sonde en dit is om die Gees toe te laat om jou skoon te maak en die lewe en beloftes van God, soos dit in die Skrif vir ons geopenbaar word, in jou aan die gang te sit.  Dan kom die genade in jou aan die werk wat jou skoonmaak, en vervang dit die moedeloosheid wat die nakoming van die wet in jou losmaak, sodat jy vry van die sonde kan lewe.

Die Gees wil jou skoonmaak van die dinge van die sondige natuur.  Daarom moet jy nee sê vir die wet, sowel as vir die sonde, deur jou vryheid te soek in die krag van die inwonende en vervullende Gees, soos Gal. 5:18 hulle sal aanmoedig.  Dan sal hulle die vrug van die Gees kan dra, soos Gal. 5:22 dit sal uitspel.

Die lewe in die Gees en volgens die beloftes van God staan dus teenoor die lewe volgens die wet sowel as teenoor die lewe in die sonde.  Sonde raak só maklik jou identiteit, as dit deel van jou lewenstyl begin raak, dat jy doodgewoon eindig as ‘n slaaf van jou eie begeertes.  En dan is daar vir jou geen verlossing meer moontlik nie.  Wie hom of haar immers aan die sondes wat Paulus gaan uitspel, skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

Dié wat aan Christus behoort, het dus hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.  Hulle is vrygemaak deur die Gees, daarom moet die Gees nou hulle lewe bepaal.

 

 


Post date: 2017-05-30 10:00:25
Post date GMT: 2017-05-30 08:00:25
Post modified date: 2017-05-30 07:36:04
Post modified date GMT: 2017-05-30 05:36:04

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com