This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Fri Jul 21 16:31:51 2017 / +0000 GMT

GALASIËRS 2 – Christus leef in my – Solus Christus



Paulus gaan verder om sy evangelie te verduidelik, ‘n evangelie wat gebaseer is op Christus, en op Hom alleen, ‘n helder verkondiging van die fundamentele beginsel Solus Christus (alleen Christus).

Om aan te sluit by die boodskap van hoofstuk 1 wil ek egter eers ‘n paar verdere opmerkings maak oor hoe ons weet dat wat Paulus hier sê die regte evangelie is.  Ek het reeds vyf valse evangelies uitgespel wat in die res van die brief aan gespreek gaan word.  Maar, hoe onderskei ons die ware evangelie van die valse evangelies?

Ek dink daar is vyf maatstawwe wat ons kan aanlê.  Ek het dit ook in die boekie vir julle gegee.  Die vyf maatstawwe werk as ‘n eenheid, veral die eerste drie.  Die ander twee het meer met die praktyk te make.

1.  OORSPRONG

Die evangelie moet in die eerste plek van God af kom.  Dit is hoekom Paulus hom in hoofstuk 1 op God se gesag beroep het.  Hy was helder daaroor dat God die oorsprong is van sy evangelie.  Paulus kon hom beroep het op ‘n Damaskus ervaring.  Hy kon hom beroep het op die tyd van drie jaar in Arabië waar die Here Jesus hom onderrig het.  Hy kon hom beroep het op die ooreenstemming met ander gelowiges en leiers se ervaring.

Maar ons ervaring van God kan misleidend wees.  Ons kan te subjektief betrokke wees by ons eie standpunte en idees oor God.  Om maar net te sê, God het so gesê, kan nooit op sy eie bene staan nie.  Dit kan nooit op sy eie as ‘n maatstaf dien vir die ware evangelie nie. Daar is nog iets nodig.

2.  GESAG

Die evangelie moet in die tweede plek deur die Woord kom.  Dit is die objektiewe pool van die evangelie.  Om regtig te kan glo dat iets van God af kom, het jy meer nodig as jou eie ervaring.  Jy het die Woord nodig as die gesagsbron van die evangelie.  Dit is waarom Paulus in die eerste hoofstuk verwys het na twee Skrifgedeeltes wat hom oortuig het in daardie tyd dat sy ervaring van God af was, Jer. 1:5 en Jes. 49:6.  Die Woord het dus gesag gedra in sy lewe.   Dit vorm die objektiewe kant van die evangelie.

Maar dit is ook nog nie genoeg op sy eie nie. Daar is baie Skrifgedeeltes en baie maniere waarop ‘n mens dit kan verstaan.

3.  KONSEKWENT

Die evangelie moet konsekwent in die Skrif staan.  Die Skrif is immers ‘n geheel.  Die gedeeltes pas by mekaar.  Die Skrif lê ander Skrifgedeeltes uit.  Dit bevestig en verfyn die evangelie sodat ons dit volledig kan verstaan.  Die verwysing na Jer. 1:5 in hoofstuk 1 word daarom ook geëggo in Jesaja 49:1.  En Paulus sal voortgaan om altesame 14 Skrifgedeeltes aan te haal deur die loop van Galasiërs wat die konsekwentheid van sy eie weergawe van die evangelie gaan onderstreep.  Die veertien verwysings (met soortgelyke verwysings in hakies) is:

  1. Jer. 1:5 (Jes. 49:1) in Gal. 1:15;
  2. Jes. 49:6 in Gal. 1:16;
  3. Lev. 19:15 in Gal. 2:6;
  4. Ps. 143:2 in Gal. 2:16;
  5. Gen. 15:6 in Gal. 3:6;
  6. Gen. 12:3 in Gal. 3:8;
  7. Deut. 27:26 in Gal. 3:10;
  8. Hab. 2:4 in Gal. 3:11;
  9. Lev. 18:5 in Gal. 3:12;
  10. Deut. 21:23 in Gal. 3:13;
  11. Gen. 12:7 (Gen. 13:15; 17:7; 24:7) in Gal. 3:16;
  12. Jes. 54:1 in Gal. 4:27;
  13. Gen. 21:10 in Gal. 4:30 (die hele hfst. 4 is geskoei op Sara-Hagar verhaal in Genesis);
  14. Lev. 19:18 in Gal. 5:14.

As jy mooi kyk, sal jy sien dat Paulus uit die wet aanhaal – 4 tekste uit Genesis, 2 tekste uit Levitikus, 2 tekste uit Deuteronomium – sowel as uit die profete – 2 tekste uit Jesaja, 1 uit Jeremia en 1 uit Habakuk – en uit die geskrifte – 1 teks uit Psalm 143.  Uit al drie hoofdele van die OT.

En dit sal ons regdeur Paulus se ander briewe ook sien.  Hy haal kwistig uit die OT aan om die evangelie van Jesus Christus te bevestig en te onderstreep.  Dit is lewensbelangrik vir hom om nie net ‘n enkele aanhaling uit die Skrif te gebruik nie, maar talle gedeeltes wat die konsekwentheid van die boodskap kan onderstreep.

As jy meer hieroor wil lees, kan jy gerus kyk na GK Beale en DA Carson se monumentale werk oor die gebruik van die OT in die NT waarin 18 top Nuwe Testamentici geskryf het: Commentary on the New Testament Use of the Old Testament (Baker, 2007).

4.  VRUG

Die evangelie self moet in die vierde plek vrug dra in mens se lewe.  Jy sien, ‘n mens kan die evangelie in Christus verwerp al lewe jy ‘n goeie lewe.  Dit sien ons by teenstanders van die evangelie.  Maar, ‘n nog groter probleem is dat jy die evangelie kan verdraai al lewe jy ‘n goeie lewe; dat jy dit kan verander om in te pas by jou eie idee van hoe dinge werk; dat jy dinge uit die Skrif kan weglaat, en ander gedagtes kan byvoeg, sodat die evangelie na jou smaak is.  Die vrug moet uit die Skrif en die gehoorsaamheid aan God se Woord kom.  Anders het jy met ‘n selfgemaakte evangelie te make waarin jy kies wat jy gehoorsaam en wat ni.

Daarom is daar maar net een manier om met die evangelie te werk en dit is om dit te verdedig in sy totaliteit; om in die stryd daarvoor en daaruit betrokke te raak; om toe te laat dat die evangelie vrug dra in jou en ander se lewe.  Hieroor sal Paulus in hoofstuk 3 begin skryf, maar veral in die laaste twee hoofstukke sterk aandag gee.

5.  HEILIGMAKING

Die evangelie moet in die vyfde plek ook deel wees van ‘n proses van heiligmaking.  Paulus het sy vorige lewenswyse verlaat van teenstand teen die evangelie en nou voluit gegaan vir die boodskap van Christus; die evangelie wat hy verkondig is dat ons uit die sondige wêreld gered word deur die geloof in Christus.

Daaroor sal ons veral in hoofstuk 5 verder hoor.

Die egtheid van Paulus se evangelie word in Jerusalem erken

1 Daarna, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan, saam met Barnabas. Ek het ook Titus saamgeneem. 2 Ek het op grond van 'n openbaring gegaan en die evangelie wat ek onder die heidene verkondig aan hulle voorgelê —afsonderlik aan die mense van aansien —sodat ek nie vergeefs die wedloop hardloop of gehardloop het nie. 3 Maar selfs Titus, wat saam met my was, is nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is. 4 Daar was wel aandrang van die kant van die skynbroers, wat ons geledere onder valse voorwendsels binnegesypel het om op die vryheid wat ons in Christus Jesus het te spioeneer sodat hulle slawe van ons kon maak. 5 Aan hulle het ons nie vir 'n oomblik in onderdanigheid toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly. 6 Maar die mense van aansien —wat hulle vroeër was, maak aan my geen verskil nie; God slaan nie ag op die aansien wat 'n mens het nie —ja, die vooraanstaande mense het niks meer van my verwag nie. 7 Inteendeel, toe hulle sien dat die evangelie vir die onbesnedenes aan my toevertrou is, soos aan Petrus die evangelie vir die besnedenes 8 —want Hy wat Petrus bemagtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bemagtig met die oog op die heidene —9 het Jakobus en Sefas en Johannes wat as die pilare gereken is, die genade wat aan my gegee is, begryp en het hulle 'n hand van broederskap na my en Barnabas gereik, sodat ons na die heidene sou gaan, en hulle na die besnedenes. 10 Ons moes slegs aan die armes dink —presies wat ek my ook beywer het om te doen.

Paulus verdedig die waarheid van die evangelie in Antiogië

11 Toe Sefas in Antiogië aangekom het, het ek hom egter openlik teengegaan omdat hy skuldig gestaan het; 12 want voordat sekere mense van Jakobus opgedaag het, het Sefas gewoonlik saam met die heidene geëet, maar toe hulle opdaag, het hy hom teruggetrek en afgesonder omdat hy bang was vir diegene uit die besnydenis. 13 En die ander Jode het ook saam met hom gehuigel, met die gevolg dat selfs Barnabas deur hulle huigelary meegevoer is. 14 Maar toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek voor almal vir Sefas gesê: “As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden leef en nie soos 'n Jood nie, hoe kan jy nie-Jode dwing om soos Jode te leef?” 15 Ons is gebore Jode en nie sondaars uit die heidene nie 16 en tog weet ons dat 'n mens nie op grond van nakoming van die wet geregverdig kon word nie, maar slegs deur die geloof in Jesus Christus. Ook ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons vrygespreek kon word op grond van geloof in Christus en nie op grond van nakoming van die wet nie, omdat geen mens op grond van wetsgehoorsaamheid geregverdig sal word nie. 17 En as dit blyk dat ons, in ons soeke om in Christus vrygespreek te word, self ook sondaars is, is Christus dan miskien 'n dienaar van die sonde? Hoegenaamd nie, 18 want as ek wat ek afgebreek het weer opbou, wys ek daarmee dat ek self 'n oortreder is.  19 Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; 20 ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof in die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie, want as vryspraak deur die wet kom, dan het Christus tevergeefs gesterf.   (BDV)

Paulus verduidelik en verdedig sy evangelie

Waaroor Paulus dit in hoofstuk 2 het is dat die waarheid van die evangelie van die Here Jesus Christus bo alles bevestig moet word.  Dit was vir Paulus só belangrik dat hy alles in sy vermoë gedoen het om dit hier nie net te verduidelik nie, soos hy met nog meer passie sou doen in hoofstuk 3 en verder, en natuurlik in al sy briewe wat hierop sou volg.  Nee, hy doen ook moeite om die waarheid van die evangelie in die praktyk te verdedig.

Kyk, ons het soms die idee dat ons alle verduidelikings van die evangelie moet aanvaar in die wanopvatting dat diversiteit goed is, dat ons akkommoderend moet wees, verdraagsaam, dat almal maar mag dink soos hulle dink.

Paulus verskil lynreg daarmee. Nie net het hy in hoofstuk 1 reeds gesê dat daar geen ander evangelie is nie, maar in hoofstuk 2 demonstreer hy hoe lewensbelangrik dit is dat die waarheid van die evangelie beskerm en verdedig moet word teen elke poging om ander idees toe te laat in die waan dat jy daarmee verdraagsaam is.

Dit is juis hierdie sentrale dogma van die regverdiging deur geloof in Jesus Christus, Solus Christus, wat nie net die sentrale fondament sou wees van alles wat Paulus verder gaan sê ook in die res van sy briewe nie, maar wat in die geskiedenis van die kerk en veral in die Hervorming die sentrale dogma geword het.

Dit is Jesus Christus, en Hy alleen, wat ons verlos van ons skuld, van hierdie bose wêreld. Buite Hom om is daar geen saligheid nie.  Daar is geen ander evangelie as die evangelie van die Here Jesus Christus nie.

Die waarheid van die evangelie is op die spel

Nou, dit is ook die rede waarom Paulus die vals leraars so sterk aanvat, want hulle het gesê hy is verkeerd, hy is nie in lyn met die ander apostels nie, en doen skade aan dié mense wat ‘n godvresende lewe leef.  Hulle wou die Joodse voorskrifte saam met die evangelie voorskryf vir alle mense.  Maar, daarmee het hulle die evangelie van Jesus Christus, die evangelie van die regverdiging deur die geloof in Jesus Christus in die gedrang gebring.

Daarom beklemtoon Paulus in hierdie hoofstuk nie net die instemming wat die apostels met sy evangelie betuig het nie (vers 1-10), maar wys hy ook uit hoe Petrus en Barnabas afgewyk het van hulle akkoord oor die evangelie (vers 11-14), en verduidelik op ‘n boeiende manier die wonder van die regverdiging van die geloof in Christus alleen (vers 15-21).

Daar is regtig nie ‘n ander evangelie nie!  Paulus se weergawe daarvan, in ooreenstemming met die konsensus van die apostels, is die enigste universele legitieme interpretasie van die evangelie.

En dit is dié evangelie wat elkeen van ons wat ná Paulus kom, moet verduidelik en verdedig.  Nie een van ons kan ‘n ander interpretasie gee van wat Paulus hier gee van die evangelie nie.  Want, daar is geen ander evangelie nie.

Ons moet dit goed hoor.  En ons moet onsself in lyn hiermee kry.  Verdraagsaamheid rondom die waarheid van die evangelie is verraad.  Dit rand die sentrale boodskap daarvan aan.  Dit is Solus Christus en basta.  Jy behoort aan die liggaam van Christus vanweë jou geloof in Jesus Christus en dit is die end daarvan.  Jy hoef nie nog dít of dát te doen om deel van die liggaam van Christus te word nie. As jy glo in Jesus, is jy welkom.

Dink ‘n bietjie hieroor na.  As jy vandag glo in Jesus, is jy welkom hier.  Daar is nie een of ander standaard waaraan jy gemeet word nie.  Niks nie.  Solus Christus.  Alleen Christus.

Natuurlik is daar standaarde vir die geloofsgemeenskap, soos Paulus in hoofstuk 5 en 6 baie helder en duidelik gaan uitspel, dinge wat veral met die vryheid van sonde en die vrug van die Gees en ‘n fokus op die dra van mekaar se laste te make het.  Maar om IN te kom in die geloofsgemeenskap het net met die geloof in Jesus Christus te make.

En om jou van die waarheid hiervan te oortuig, kan jy Paulus se argument in dié hoofstuk vir jouself omarm. En hy verduidelik hierdie waarheid dat dit net geloof in Christus is wat jou red op drie maniere.

1.  Titus is nie gedwing om besny te word nie

In die eerste plek verduidelik Paulus die waarheid van Solus Christus deur die verwysing na Titus wat nie gedwing is om besny te word nie.  Hy verduidelik die beginsel van Christus alleen uit die wyse waarop die besnydenis deur die vroeë kerk hanteer is.

Die eerste deel van Paulus se argument sluit dus aan by die besoek aan die leiers in Jerusalem, 14 jaar na sy aanvanklike blootstelling aan die evangelie in Arabië, saam met Barnabas en Titus.

Saam het die apostels daar 'n verdeling van pligte gemaak: Petrus na die Jode, Paulus na die nie-Jode.  En die pilare van die gemeente,  Jakobus (waarskynlik Jesus se broer), Johannes en Petrus, het hulle instemming daarmee betuig.

Maar, nou belangrik.  Hulle het eksplisiet saamgestem dat die besnydenis nie meer ‘n voorwaarde was om deel van die geloofsgemeenskap te word nie.  En Paulus verwys daarom na die praktiese voorbeeld van Titus.  Hy was van nie-Joodse afkoms, en is daarom ook nie besny nie, in lyn met die evangelie en hulle almal se verstaan daarvan.  Só het die kerk immers met die vergadering in Jerusalem besluit.

Dit was wel anders as wat die geval was met Timoteus, wat van gemengde Joods en nie-Joodse afkoms was en daarom wel besny is, om binne die Joodse tradisie gehoor te gee aan hulle eie voorskrifte (Hand. 16:1-3).  Die leiers het ingestem dat sy besnydenis nie nodig was om gered te word nie.  Maar omdat hy óók ‘n Jood was, is hy wel besny ter wille van die Joodse kulturele voorskrifte.

Titus is egter op geen manier onder druk geplaas om hom te laat besny nie, want die kulturele voorskrifte het nie vir hom gegeld nie.  Al wat van belang was, was sy geloof in Jesus Christus.  Solus Christus.  Alleen Christus.

Dit is immers die inhoud van die evangelie, sê Paulus aan die hand van die voorbeeld van Titus.  Enigiemand wat glo in Jesus Christus word omhels as lede van sy koninkryk.  Enigiemand wat nie glo nie, bly buite die koninkryk en buite die geloofsgemeenskap.

2.  Petrus en Barnabas word oor hulle skynheiligheid aangevat

In die tweede plek verduidelik Paulus Solus Christus deur die verwysing na Petrus en Barnabas se skynheiligheid wat aan die kaak gestel is toe hulle hulle onttrek het van die gelowiges uit die heidene en net saam met die Joodse Christene geëet het.  Hy verduidelik dus die beginsel van Christus alleen uit die wyse waarop die gemeenskap van gelowiges hanteer is.  Jy was welkom ongeag wie of wat jy vroeër was.

Kyk, ons moet dit goed hoor.  Wat op die spel is in hoofstuk 2, is nie die gevoelens of status van die mense wat van sy evangelie verskil nie.  Want Paulus het nie sy mes ingehad vir Petrus, die leier van die kerk nie.  Hy was nie daarop uit om Petrus in die verleentheid te stel nie.  En dieselfde met Barnabas.  Paulus en Barnabas het ‘n pragtige pad saam geloop.  Hulle het mekaar aangevul.  Hulle het dieselfde visie gehad.  Hulle het alreeds soveel ontberinge vir die evangelie deurgemaak.  Hulle kon staatmaak op mekaar.

Maar, Paulus kon nie anders nie.  Hy moes vir Petrus en Barnabas aanvat.  Hy moes hulle skynheiligheid aan die kaak stel.  Want, dit was nie net die geloofsgemeenskap in Antiogië wat op die spel was nie.  Dit was die waarheid van die evangelie van Jesus Christus self wat op die spel was.

Soos Maarten Luther hieroor opmerk in sy kommentaar: “Om as 'n Jood te lewe, is nie sleg nie. Om te eet of nie te eet nie, watter verskil maak dit? Maar om die Jood te speel en om ter wille van jou gewete jou van sekere vleis te onthou, is 'n ontkenning van Christus.

Paulus sien dus dat Petrus begin om “die Jood te speel” en weerstaan hom deur te sê: "Jy weet dat die nakoming van die wet nie nodig is vir geregtigheid nie. Jy weet dat ons geregverdig is deur geloof in Christus. Jy weet dat ons allerhande soorte kos kan eet. Die Here self het dan vir jou dit met ‘n visioen gewys!  Maar deur jou voorbeeld verplig jy nou die heidene om Christus te verlaat en terug te keer na die wettiese voorskrifte.  Jy gee hulle rede om te dink dat geloof nie voldoende is tot redding nie.  En dit kan nooit nie!"

Dit is dan ook hoekom hierdie optrede van Paulus so belangrik was.  Hy kon nie maar in die geheim werk met Petrus en Barnabas nie.  Hy moes dit so publiek doen al was dit uiteraard baie vernederend.  Want, die waarheid van die evangelie was op die spel.

Dink ‘n bietjie aan die geweldige impak wat Petrus en Barnabas se partydigheid vir die pro-besnydenis gelowiges sou gehad het, as Paulus dit nie hier teengestaan het.  Dink aan hoe die evangelie kon ontwikkel het, ‘n kerk vir die besnedenes, en ‘n kerk vir die onbesnedenes.  Dink aan die effek op die wêreldkerk as hierdie tipe niewesenlike verskille tussen mense tot groepvorming gelei het.  Of erger, as ons almal nog die besnydenis moes nakom, en die offers, en die feeste, en die Sabbat.

Paulus moes die skynheiligheid van Petrus en Barnabas teenstaan, selfs al het hy ‘n groot leier in die proses aangevat, en selfs al moes hy sy naby kollega en vriend aanvat.  Want, daardeur het hy die evangelie van Solus Christus beskerm van vervalsing.  Daardeur het hy die waarheid van die evangelie nie net verduidelik nie, maar verdedig.

Daarmee het hy ons almal gehelp om te kan besef dat die enigste onderskeidingsteken in die geloofsgemeenskap die regverdiging deur die geloof in Christus is.  Geen ander onderskeid is legitiem of aanvaarbaar nie.  So het Paulus ons deur hierdie optrede van hom geleer, sowel as die verdediging daarvan in hierdie brief.  En daarom weet ons vandag dat die enigste evangelie wat kan red en vryheid bring, is die regverdiging deur die geloof in die Here Jesus Christus.  Solus Christus.

Dit is die deurslaggewende rede waarom Paulus hierdie groepvorming nie toegelaat het nie en Petrus en Barnabas direk en publiek daaroor aangevat het.  Hy het daarmee geïllustreer dat die geloof in Christus die enigste en ook genoegsame rede was om besnedenes en onbesnedenes in een kerk te akkommodeer as broers en susters. Dat die voorskrifte van die wet nie gegeld het as ‘n toegangsmaatreël tot die geloofsgemeenskap nie.

Want, sê Paulus in vers 18: “As ek wat ek afgebreek het weer opbou, wys ek daarmee dat ek self 'n oortreder is.”  Dit is sonde om die wet weer te probeer nakom as jy jou op die verdienste van die Here Jesus verlaat het.  Dan geld sy gehoorsaamheid aan die wet nie meer vir jou nie.  Dan moet jy die hele wet nakom.  En dit weet almal is nie moontlik nie.

Maar daar is meer.  Dit gaan nie net oor die besnydenis van Titus en Timoteus al dan nie.  Dit gaan nie net oor die skynheiligheid van die leiers en kollegas al dan nie.  Dit gaan ten diepste oor die belewenis van die Here Jesus Christus self.

3.  Ek leef nie meer nie, Christus leef in my

In die derde plek verduidelik Paulus Solus Christus deur die verwysing na die inwonende Christus wat in hom lewe wat beteken dat uiterlike oorwegings weggeval het.  Dit is nou Solus Christus, alleen Christus.  Hy verduidelik die beginsel van Christus alleen uit die wyse waarop die gemeenskap met die Here Jesus self gewerk het.  As gelowige het elkeen immers self die Here Jesus gehad in jou binneste wat met jou ‘n pad gestap het.

Die genade wat God vir ons gegee het, is dat ons saam met Christus gekruisig is, sodat ons vir God kan leef.  “Ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my!” sê Paulus in vers 20.  Van ‘n werklikheid van God wat meer in uiterlike dinge bestaan het in die besnydenis en die dieet reëls van die Jode het die werklikheid van God iets geword wat in ons binneste beleef word.

Dit beteken dat die: “lewe wat ek nou liggaamlik leef, ek in geloof leef in die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.”  Hy het vir ons die vryheid gegee om elke oomblik van elke dag in sy teenwoordigheid te lewe.  Dit is baie beter as wat die besnydenis of ‘n dieet jou ooit kon gee.

En elkeen wat dié werklikheid beleef, het die waarheid van die evangelie beleef, trouens, leef die waarheid van die evangelie, van binne af, nie maar net van buite af in die gehoorsaamheid aan allerlei voorskrifte nie.

En elkeen wat van dié werklikheid kan getuig, is welkom in die geloofsgemeenskap.  Hoort in die geloofsgemeenskap.

En dit is dié evangelie wat Paulus verduidelik en met alles in hom verdedig.  Dit is Solus Christus. Hy alleen.  Daar is geen ander evangelie nie.

Dit is hierdie dogma, die dogma van die Here Jesus Christus, en Hy alleen, waaraan ons met ons hele lewe verbind moet lewe.  Daar is nie ‘n ander weg tot God nie.  Jesus Christus is die enigste weg na die Vader.  Jesus is nie ‘n unieke weg nie.  Hy is nie ‘n weg langs ander weë nie.  Hy is die enigste weg na die Vader.  Solus Christus.  Alleen Christus.

En niks mag dié boodskap op enige manier verberg of verander nie.  Ons moet dit verduidelik. Ons moet dit verdedig.  Selfs al kos dit ons ‘n hoë prys.

Vandag sal ek met vreugde sterf – Johannes Hus

Ek sluit daarom met die verhaal van Johannes Hus, een van die eerste Hervormers wat op Maarten Luther so ‘n groot impak gehad het, al het hy meer as ‘n honderd jaar vroeër geleef.  Johannes Hus se moed van oortuiging om vir die Here Jesus te lewe al kos dit hom sy lewe, het Luther geïnspireer om sy eie pad met die Here voluit en enduit te volg.

En my gebed is dat Johannes Hus jou ook in jou vertroue op Christus alleen sal versterk al kos dit jou ook ‘n hoë prys soos dit vir hom gedoen het.

Johannes Hus, die Boheemse Hervormer, is 601 jaar gelede, op 6 Julie 1415, finaal gevonnis tot die dood.  Sy kettery was dat hy die Skrif se gesag bó dié van die kerk geag het en geleer het dat 'n mens nie iets ander as Christus nodig het vir sondevergifnis nie – Sola scriptura en Solus Christus.  Hy het sterk teen die aflaatstelsel (indulgences) en die verering van heilige objekte (relics) in opstand gekom, reeds ‘n eeu voor die Hervorming wat in 1517 met Maarten Luther se 95 stellinge in volle swang gekom het.

Voor keiser Sigismund het die biskoppe Johannes Hus se siel aan die duiwel toevertrou, waarop Hus geantwoord het: “En ek wy dit toe aan die mees barmhartige Here Jesus Christus." Solus Christus.

Op pad na die brandstapel het Hus verby 'n “bonfire” van sy boeke gestap.  Hy het gestop, gelag, en vir die omstanders gesê, moenie al die leuens glo wat oor my vertel word nie.

Toe hy by die brandstapel kom, het hy gekniel en gebid. Vir die laaste keer is hy gevra of hy sy besware teen die kerk terugtrek.  Hy het geantwoord: “God is my getuie dat die getuienis teen my vals is.  Ek het nooit iets gedink of gepreek wat nie gemik was daarop om mense te red, indien enigsins moontlik, van hulle sondes nie.  Ek het die waarheid van die evangelie geskryf, geleer en gepreek; vandag sal ek met vreugde sterf.”   Die waarheid van dieselfde evangelie wat Paulus ook verkondig en verdedig het, soos hier in Galasiërs 2.

Hulle het Johannes Hus se kleed uitgetrek, sy hande agter sy rug vasgebind, en sy nek met 'n geroeste ketting aan die brandstapel vasgemaak.  Hy het daarop kommentaar gelewer met 'n glimlag dat sy Redder met 'n swaarder ketting geboei was.  Toe die vuur aangesteek is, het Hus ‘n weergawe van die Jesus-gebed begin sing: “Christus, Seun van die lewende God, wees ons genadig.” en toe: “Christus, Seun van die lewende God, wees my genadig.”

Hy het met 'n gebed begin wat hy nie klaar gemaak het nie, want die wind het die vlamme in sy gesig gewaai.  (Lutzer, Rescuing the Gospel, in die hoofstuk A Morning Star (John Knox) and a Goose and Swan (Hus en Luther).

 

 


Post date: 2017-05-28 18:30:04
Post date GMT: 2017-05-28 16:30:04
Post modified date: 2017-05-30 22:38:14
Post modified date GMT: 2017-05-30 20:38:14

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com