This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Sat Dec 16 9:07:08 2017 / +0000 GMT

Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar



Ek herinner julle vandag eerstens aan die leesmetodiek soos ek dit gister geplaas het.  My bydraes sal baie meer waarde hê vir jou as jy dit navolg.  Begin dus met die eerste beweging, lees.

LEES

Moses die profeet se woorde het Goddelike gesag – Deut. 1:1-5

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses tree as profeet op reg van die begin van die boek af.  Anders as in die Ou Nabye Oosterse verdrae se aanhef en historiese proloog is dit nie die woorde van die koning nie, maar dié van sy woordvoerder wat opgeteken word (Deut. 1-4).  Moses tree daarmee op as die woordvoerder van God wat sy wil op gesagvolle wyse bekend maak.

Abraham is natuurlik ook al 'n profeet genoem (Gen. 20:7), maar hier word Moses as die eerste van 'n reeks profete wat God se Woord aan die volk Israel bring aan ons voorgestel.

Moses verklaar die impak van die verlede as deel van God se voorskrifte vir die hede

Let op in vers 5 dat alles wat hy gaan sê as deel van die wet uitgespel word.  Moses het: “die wet begin verduidelik.”  Sy woorde in Deuteronomium, die verduideliking (die Hebreeuse woord bēʾēr beteken verklaring of uitleg) van die wet, dra dus dieselfde gewig as die voorskrifte wat God reeds gegee het in Eksodus tot Numeri, en het daarom Goddelike gesag.

Hiermee interpreteer Moses die verlede van God se handelinge met hulle van Sinaiberg af tot by die Jordaan en verklaar dit daarby as deel van sy voorskrifte aan hulle.  Alles wat met hulle gebeur het, die goed en die sleg, die wonders en die wroegings, het hulle geleer wat sy wil vir die lewe is. Moses se verklaring daarvan moes hulle die impak daarvan vir die volgende fase van God se plan met hulle laat begryp.

Die Intog in die beloofde land is God se opdrag aan hulle – Deut. 1:6-8

Nadat die plek deeglik beskryf is waar hulle steeds aan die oostekant van die Jordaan in die vlakte van Moab gekamp het (Deut. 1:1-5), begin sy preek met 'n herinnering aan die oorspronklike opdrag aan die volk by die berg Horeb (Sinai) om die land in besit te gaan neem: “Ek stel hierdie land tot hulle beskikking.  Trek in en neem dit in besit.

Dit bly die basis vir die belofte van die land.  Dit is God se gawe aan hulle. Dit bly ook die visie vir die toekoms wat hulle verwagting sal stimuleer as motivering vir die baie reële uitdagings wat vir hulle sou voorlê om die land in te neem.

Die Here gee vir hulle leiers om die verantwoordelikheid te help dra – Deut. 1:9-18

Moses verwys terug na die proses wat gevolg is om ‘n aantal leiers aan te stel om die verantwoordelikheid vir leiding saam met Moses te dra, militêr en administratief.  Dit het manne ingesluit wat verstandig is, manne met insig, manne van aansien wat as hoofde op verskillende vlakke oor hulle aangestel kon word.  Jy kan meer daaroor lees in my bydrae: Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan.

Ook regters is aangestel wat onpartydig moes oordeel oor die sake wat voor hulle gebring is.  Die vreemdeling moes net soveel regte soos die volksgenoot geniet.  Die arme net soveel as die ryke – klein en groot.

Let op dat Moses hulle aanmoedig om nie vir mense bang te wees nie, maar telkens hulleself te herinner daaraan dat hulle in diens van God is.  Later sou daar ook vroue in dié hoedanigheid dien, soos bv. in die geval van Debora agterkom (Rigt. 4-5).  Sy was selfs ‘n militêre aanvoerder.

Moses gee dus saam met die wet – die geskrewe wil van God – die leiers wat die uitvoerders van die wil van God in die lewe van die volk sal wees.  Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Paulus wat dieselfde proses in die lewe van die NT geloofsgemeenskap beskryf met die gawes wat God gee om die dienswerk van die gelowiges te bevorder (Ef. 4).

Let ook op dat Moses die tweede generasie van die volk aanspreek asof hulle eintlik die eerste generasie was!  Daarmee wil hy hulle verseker dat dieselfde belofte van destyds hulle ingesluit het.  Al was sommige van hulle nie eers gebore veertig jaar gelede nie, was hulle deel van die volk aan wie die opdrag gegee is.  Alles wat God dus belowe het aan die volk was ook hulle deel.  Só ook die opdragte.

Moses herinner hulle aan die gevolge van ongehoorsaamheid – Deut. 1:19-46

Moses herinner die Israeliete egter ook op uitgebreide manier aan die mislukte eerste Intog soos dit reeds in Numeri 13-14 vertel is.  Ten spyte van die feit dat die Here hulle heelhuids by die beloofde land aangebring het, het hulle gehuiwer in vrees.

Selfs die instuur van verkenners het nie gehelp om hulle aan te spoor om die Here te vertrou nie, en hulle het hulle verset teen die opdrag van die Here.

Die noodwendige gevolg was dat hulle die kans om die land binne te trek, verspeel het.  Let op hoe Moses hulle herinner aan die gemor in die tente wat hulle verlei het om ‘n wanvoorstelling van die Here te laat maak, dat Hy hulle haat.  Hulle het selfs die verkenners aangevat en verkwalik dat die nuus oor die land hulle moed gebreek het, so asof die verkenners valse voorstellings aan hulle gemaak het.

Dit laat ‘n mens besef hoe jou eie ingesteldheid jou optrede bepaal.  As jy bang is vir iets gee jy baie maklik vir die Here of vir ander mense die skuld. Daarmee projekteer jy jou vrees op hulle, in plaas daarvan om eerlik te wees en hulp te vra.

In plaas daarvan dat die Here dus vir hulle sou geveg het met die inname van die land, het Hy hulle teenstander geword en die eerste generasie in die woestyn laat omkom.  Wie nie aan Hom gehoorsaam is nie, kan nie sy beloftes en seën in ontvangs neem nie.

Daar is ook ‘n intense ironie in die feit dat die Here bewys het deur die eerste reis tot by die beloofde land dat Hy die beste kampplekke vir hulle uitgesoek het, begelei deur die vuur- en wolkkolom.  Hy was dus die Verkenner van formaat!  Hulle het Hom egter nie vertrou om dieselfde te doen met die Intog nie!  Hulle het selfs hulle eie verkenners nie vertrou nie.

Craigie sê hieroor: “In spite of having already experienced both the strength and protection of God, still the people did not trust him.” (The Book of Deuteronomy).  Iets om oor na te dink in jou eie lewe!

Maar, Moses herinner hulle hieraan nie om hulle negatief te maak nie, of om hulle by te kom nie. Nee, hierdie herinnering moes hulle gehoorsaamheid bepaal, want God se belofte kan net deur gehoorsaamheid in ontvangs geneem word. Hulle word opgeroep om die Here te vertrou en te gehoorsaam.

Vir die dieperdelwers

Jy kan jou geheue verfris deur my bydraes oor die verhaal, soos dit in Numeri vertel is, hier te lees:

Jy sal oplet dat daar aksent verskille is met die vorige verhale.  Bv. in Numeri 13 het die Here die leiers aangewys vir die verkenning.  In Deuteronomium 1 skets Moses die ander kant daarvan, dat hulle by hom aangedring het om manne te stuur om die land te verken. Dit verander egter nie aan die boodskap wat Moses nou onderstreep nie.  Hulle moes leer uit die foute van die verlede om nie weer in dieselfde ongehoorsaamheid te verval nie.

Boodskap

Sluit nou af met die laaste twee bewegings van my leesmetodiek, luister en leef.

LUISTER

LEEF

 

 


Post date: 2017-10-12 04:00:11
Post date GMT: 2017-10-12 02:00:11
Post modified date: 2017-10-12 08:20:09
Post modified date GMT: 2017-10-12 06:20:09

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com