This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Fri Dec 15 15:50:24 2017 / +0000 GMT

Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy



Ons lees vandag twee verhale van geloof in God.

God se mag manifesteer deur die vasberade geloof van Daniël se drie vriende – hoofstuk 3

Nebukadnesar se beeld is waarskynlik geïnspireer deur die beeld in sy droom (hfst. 2).  Hy skep daarmee 'n simbool van sy universele mag waaraan hy goddelike eienskappe koppel deur van almal te verwag om daarvoor neer te buig en dit te aanbid. Dit skep 'n geleentheid vir sekere jaloerse Galdeërs om die drie vriende van Daniël in diskrediet te probeer bring.  Let op dat daar nooit berig word dat die drie vriende nie gebuig het nie.  Dit kan selfs wees dat hulle vals beskuldig is.  Dit blyk darem egter ook duidelik in die gesprek met Nebukadnesar dat hulle nie van plan was om te buig nie! Vol van bravade oor sy eie mag vra Nebukadnesar dan die drie vriende om te buig voor sy beeld, want: “Watter god sal julle uit my mag kan red?” (3:15).  Hy gee hulle dus 'n kans om van plan te verander. Die drie vriende knip egter amper nie 'n oog nie en sê dat hulle nie eers 'n antwoord aan Nebukadnesar verskuldig is nie.  Hulle het hul God wat hul dien en Hy het die mag om hulle te red van die kwaad wat hulle aangedoen kan word, omdat hulle aan Hom getrou wil bly. Dan kom een van die roerendste uitsprake oor geloof in die hele Bybel, as hulle sê: “Hy sal ons ook red uit u mag.  Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (3:17-18). Die drie vriende se geloof standvastigheid loop uit op 'n manifestasie van God se voorsiening en versorging van Sy mense.  Hulle kom nie net niks oor in die brandende oond nie, maar beweeg vry en ongedeerd rond daarin saam met 'n vierde persoon wat vir die koning lyk soos “'n seun van die gode” (3:25) en deur hom as 'n engel geïdentifiseer word (3:28 – baie identifiseer die persoon met Jesus in sy pre-eksistente bestaan).  Die impak op die koning en sy koninkryk is enorm, hoewel dit nog 'n verdere ingrype van God sou neem om die koning regtig te bereik (hfst. 4).  Terloops: die drie vriende ervaar in dié hoofstuk iets van die belofte wat die name wat hulle ouers hulle gegee het, vir hulle inhou: Gananja – “Jah(wê) is genadig”; Misael – “Wie is soos God?” of “voorsiener”; Asarja – “Jah(wê) het gehelp”. 

God se mag manifesteer ook in die getuienis van Nebukadnesar – hoofstuk 4

Dit is merkwaardig dat die koning hierdie verhaal ten koste van homself vertel.  Maar, die uitkoms daarvan is só grondverskuiwend vir hom dat Nebukadnesar dit as 'n getuienis of geloofsbelydenis aanbied, waarskynlik in briefvorm. Die hoofstuk wissel tussen die eerste persoon en die derde persoon.  Waar Nebukadnesar by sy volle verstand is, word dit in die eerste persoon vertel – vers 1-18 en 34-37.  Waar Nebukadnesar die waarskuwing ontvang en uiteindelik sy verstand verloor, word dit in die derde persoon vertel – vers 19-33.  Dit verhoog die geloofwaardigheid van die verhaal deurdat die “kranksinnigheid” deur iemand anders oor hom getuig word. Hierdie keer is die droom wat die Here vir Nebukadnesar gee 'n waarskuwing, soos Daniël dit dan ook vir hom uitlê: “luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is.  Dan sal u voorspoed (vgl. vers 1) aanhou.” Die koning luister egter nie en die waarskuwing gaan in vervulling. Sonder om vir ons baie detail uit te spel, oorval 'n tipe sielkundige versteuring vir Nebukadnesar dat hy homself as 'n dier ag ('n rare toestand waarvan daar wel gevalle vandag bekend is, hoewel sommige dink dat dit eerder met 'n baie diep depressie verbind moet word) wat hom eers verlaat het toe hy “na die hemel opgekyk” het om hulp en sy verstand en koningskap teruggekry het. Hoewel ons nie ander eerstehandse getuienis vir dié siekte van Nebukadnesar uit Babiloniese bronne het nie, is daar wel tweedehandse getuienis daarna uit die verwysings na Berossus se getuienis by die Joodse geskiedskrywer Josephus en Megasthenes se getuienis by die kerkvader Eusebius.   Dit is egter moeilik om 'n besliste standpunt op sulke indirekte gronde in te neem. Daar word egter in elk geval min van Nebukadnesar in Babiloniese bronne geskryf ná die eerste 11 jaar van sy regering wat beteken dat die Bybelse verhaal nie in konflik is met bestaande historiese bronne nie.  Dit behoort genoeg te wees om die verhaal na waarde te skat en die betekenis daarvan ter harte te neem.  Die boodskap van die verhaal is dat God Hom nie onbetuig laat in die lewe selfs van konings nie.

 

 


Post date: 2013-07-19 00:00:29
Post date GMT: 2013-07-18 22:00:29
Post modified date: 2013-07-19 00:00:29
Post modified date GMT: 2013-07-18 22:00:29

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com