This page was exported from Bybelskool [ http://bybelskool.com ]
Export date: Fri Oct 20 5:20:07 2017 / +0000 GMT

Begronding van die boodskap van die NT



https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Dit bly bevredigend en bemoedigend om die diep begronding van die NT in die boodskap van die OT te sien.  Nie net word die OT ekstensief aangehaal in die NT as begronding van die boodskap van die NT nie, maar elke boek in die NT vertoon ‘n vertroudheid met en verankering in die teologie en metafore van die OT.  Dit versterk ons vertroue op die samehang van die boodskap van die hele Bybel.

Dit geld ook die boek Deuteronomium.  Al die Evangelies haal uit Deuteronomium aan in hulle beskrywing en verwoording van Jesus se bediening, soos dit ook die geval is by die ander skrywers van die NT in hul briewe aan die gelowiges.

Trouens, in die evangelies gebruik Jesus nie net direkte aanhalings uit Deuteronomium in sy bediening nie, maar skoei Hy waarskynlik sy laaste gesprekke met sy dissipels in Johannes 13-17 op die voorbeeld van Moses se toesprake in Deuteronomium 31-33.

Hier is ‘n seleksie van 25 voorbeelde van die gebruik van Deuteronomium om vir jou ‘n prentjie daarvan te gee ter versterking van jou vertroue in die boodskap vir jou lewe.

1.  IN VERSOEKING: Jesus haal drie keer uit Deuteronomium aan om die Satan se versoekings in die woestyn te weerstaan.

2.  OOR EGSKEIDING: In Matteus 5:31 (vgl. die Fariseërs wat daarvan ‘n vraag maak in Matt. 19:7) haal Jesus aan uit Deuteronomium 24:1 om sy lering oor egskeiding te motiveer.

3.  OOR DIE WET: In Matteus 15:4 haal Jesus aan uit Deuteronomium 5:16 (Eks. 20:12) om die Fariseërs en skrifgeleerdes se ontkragting van die vyfde gebod om jou ouers te eer, aan die kaak te stel (vgl. Mark. 7:10). Hy doen dieselfde in Matteus 19:18 in sy gesprek met die ryk jongman (vgl. Mark. 10:19 se ryk persoon en Luk. 18:20 se ryk leier), hierdie keer net met die sesde, sewende, agste en negende gebod by uit Deuteronomium 5:17-20 (Eks. 20:13-16).  Markus 10:19 voeg ook “jy mag niemand verontreg nie” by, waarskynlik uit Deut. 24:14.

4.  OOR DISSIPLINE: In Matteus 18:19-20 gebruik Jesus ‘n verwysing na Deuteronomium 19:15 om die instemming van twee of drie getuies in die handhawing van dissipline in die geloofsgemeenskap te motiveer (vgl. 1 Kor. 13:1).  Die teenwoordigheid van die Here Jesus self word in dié aksie van die geloofsgemeenskap belowe en ervaar.

5.  OOR DIE SKRIF: In Matteus 22:24 verwys die Fariseërs na die gebruik rondom die Leviraatshuwelik uit Deuteronomium 25:5 om Jesus se lering oor die opstanding te dwarsboom.  Jesus troef hulle egter met hulle onkunde van die Skrif: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.

6.  OOR DIE LIEFDESGEBOD: Jesus volg dié gesprek op met ‘n uitleg van die wet opgesom in die dubbele liefdesgebod in Matteus 22:34-40 waarin Deuteronomium 6:5 ‘n prominente rol speel: “'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel' en met jou hele verstand.  In Deuteronomium het dit as volg gelui: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.  Matteus voeg dus “verstand” by en laat “krag” weg, terwyl Markus en Lukas beide “verstand” en “krag” byvoeg (Mark. 12:30; Luk. 10:27).

7. OOR SKYNHEILIGHEID EN DIE ARMES: Wanneer Jesus die vrou wat sy voete salf beskerm teen sy dissipels wat beswaar maak teen die gewaande vermorsing en kla dat die geld beter op armes spandeer kon word, gebruik Jesus Deuteronomium 15:11 om hulle skynheilige onbarmhartigheid uit te wys.  In Deuteronomium word die verpligting om vrygewig teenoor die armes te wees aan dié wat meer het, opgedra.  Die dissipels stel hulleself dus aan die kaak deur oor die vrou te kla.  In die proses probeer hulle haar keer om iets goeds vir die Here te doen.

8.  OOR LEWE EN DOOD: In ‘n verstommende gebruik van die beginsel van “lewe en dood” van Deuteronomium 30:15 vra Jesus in Markus 3:4 of dit “wettig” is om goed te doen of kwaad op die sabbatdag toe die Fariseërs hom dopgehou het of hy ‘n man met ‘n gebreklike hand gaan gesond maak.  Hyself kies dan vir die “lewe” deur die man gesond te maak.

9.  AS STRUKTUUR VIR LUKAS SE VERHAAL: Lukas gebruik moontlik die struktuur van Deuteronomium 1-26 om die verhaal van Jesus van hfst. 9:51-19:44 te vertel, soos ‘n hele paar geleerdes al voorgestel het (vgl. G.K. Beale en D.A. Carson se Commentary on the New Testament Use of the Old Testament). 

Dit val op hoe die uitstuur van die verkenners met die uitstuur van die dissipels (Deut. 2 en Luk. 10), die klem op die wet (Deut. 5-6 en Luk. 10:25-27) die klem op vreemdelinge (Deut. 7 en Luk. 10:29-37), die klem op die dien van God alleen (Deut. 10-11 en Luk. 11:27-36), die wette van rein en onrein (Deut. 12 en Luk. 11-12), die hantering van rykdom (Deut. 12 en Luk. 12), die belangrikheid van die regte oordeel (Deut. 13 en Luk. 12-13), die effek van verlies en verlossing (Deut. 21 en Luk. 15) en die fokus op armes en onderdruktes (Deut. 24 en Luk. 16-18) ooreenkom.  Sommige noem daarom dié deel in Lukas die “Christian Deuteronomy”.

10.  OOR DIE UITVERKIESING: Die gelykenis wat Jesus vertel van die boere en die wingerd in Lukas 20:9-10 (vgl. Mark. 12:1-12; Matt. 21:33-46) word teen die agtergrond van die verkiesing van die Jode as die volk van God bo al die nasies soos dit uitvoerig in Deuteronomium verwoord is (Deut. 10:12-22; vgl. ook Deut. 7:6-11; 14:1-2).

Die punt van die gelykenis is dat die Jode dié uitverkore status verkwansel het met hulle ongehoorsaamheid aan die boodskap van die profete, soos dit reeds in die soortgelyke gelykenis in Jesaja geprofeteer is (Jes. 5:1-7).  Hulle volhardende ongehoorsaamheid blyk nou ook uit hulle verwerping van Jesus, die Seun van die Eienaar van die wingerd.

11.  OOR JESUS AS PROFEET: Jesus is ook die profeet waarvan Moses gepraat het in Deuteronomium 18:18, soos dit ‘n paar keer in die evangelie van Johannes gestel word.  Filippus verduidelik vir Natanael: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het.” (Joh. 1:45).  Die skare by die wonderteken van die broodvermeerdering maak dieselfde konneksie: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (Joh. 6:14), soos ook sommige mense by die huttefees: “Hy is werklik die Profeet.” (Joh. 7:40). 

Dit het ook deel van Jesus se selfverstaan gevorm: “As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.” (Joh. 5:46).  Ná Jesus se opstanding en hemelvaart verkondig Petrus (Hand. 3:22-23) en Stefanus (Hand. 7:37) dit dan ook as deel van die boodskap van die koninkryk.

12.  OOR ONGELOOF: Johannes verbind sy waarneming dat baie mense egter nie in Jesus geglo het nie eksplisiet aan die profesie van Jesaja 6 dat God hulle oë blind gemaak het en hulle verstand laat afstomp het weens hulle sonde (Joh. 12:40).  Dit is duidelik dat die agtergrond vir dié profesie van Jesaja implisiet in Deuteronomium lê waar Moses dieselfde sê van die volk wat al die wonderdade van God gesien het: “En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.” (Deut. 29:4).  Paulus sal later presies dieselfde argument in Romeine 11:8 gebruik en ook uit Deuteronomium 29:4 aanhaal.

Daarmee verbeur ongelowiges die ewige lewe wat in Jesus opgesluit lê, want wie in Jesus glo, glo in Hom wat Jesus gestuur het, en sien en hoor die God wat Jesus gestuur het (Joh. 12:44-54).  ‘n Mens leef immers van elke woord wat uit die mond van God kom (Deut. 8:3)!

Daarmee maak Jesus aanspraak daarop dat wat Hy sê van dieselfde God af kom as wat met Moses gepraat het, en dat sy woorde in pas is met die woorde wat aanvanklik vir die volk van God in die woestyn selfs vóór die Intog in die beloofde land gegee is.  Soos Johannes al aan die begin van sy evangelie gesê het: “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1:17).

Jesus kan dus ook aanspraak maak daarop dat ons sy woorde sal gehoorsaam, soos Moses dit ook eenmaal vir die volk uitgespel het in Deuteronomium: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet. Dit is nie 'n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.” (Deut. 32:46-47).

13.  AS VOORBEELD VAN AFSKEIDSGEPREKKE: Soos Jesus se verhaal in Lukas 10-19 parallelle met Moses se reisverhaal in Deuteronomium 1-26 vertoon, só vertoon Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 13-17 parallelle met Moses se toespraak in Deuteronomium 31-33.  Soos Moses praat Jesus sy volgelinge moed in (Deut. 31:6; Joh. 14:1).  Soos Moses belowe Jesus dat God met hulle sal wees al sal daar moeilike tye kom (Deut. 31:7-8; Joh. 14:15-31).  Soos Moses moedig Jesus sy volgelinge aan om te bly fokus op sy woorde (Deut. 32:46-47; Joh. 15:1-7).  Soos Moses belowe Jesus dat God hulle die oorwinning sal gee (Deut. 31:4-5; Joh. 16:33).  Soos Moses die volk seën, bid Jesus vir sy volgelinge (Deut. 32; Joh. 17).

14.  OOR BESNYDENIS VAN DIE HART: Ook Paulus gebruik Deuteronomium intensief.  Die idee van ‘n besnydenis van die hart as simbool van gehoorsaamheid in Romeine kom uit Moses se laaste toespraak: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” (Deut. 30:6 OAV).

Daarom kan Paulus sê: “Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie.” (Rom. 2:28-29).

15.  OOR VRYSPRAAK VAN DIE GELOOF: Trouens, Paulus gebruik die volgende deel van Moses se toespraak (Deut. 30:12-14) woordeliks in sy verwoording van die vryspraak van die geloof: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?' nie,” dit is, om Christus af te bring, “Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?' nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” (Rom. 10:6-8).

Dit aan hierdie boodskap van die geloof uit Deuteronomium waarop Paulus se verkondiging gebaseer is: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” (Rom. 10:9-10).

16.  OOR DIE HEIDENE: Steeds bly Paulus in Moses se toespraak in sy verwoording van hoekom die Here gekies het om ook heidene tot geloof te bring.  Die Here wou die volk jaloers maak daarmee sodat hulle hulle afvalligheid kan laat staan om na Hom toe terug te keer.  Dit was alreeds die boodskap van Moses in Deuteronomium 32:21 en net so oorgeneem deur Paulus in Romeine 10:19: ”In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê: ‘Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie 'n volk is nie, en julle kwaad maak oor 'n volk wat nie julle kennis het nie.'

17.  OOR GOD AS REGTER: Die idee van God as regverdige Regter wat straf en vergeld uit Deuteronomium 32:35 word deur beide Paulus en die skrywer van die Hebreërbrief gebruik.  Paulus vermaan gelowiges om plek te maak vir God se wraak eerder as om self op te tree (Rom. 12:19).  Die Hebreërskrywer vermaan gelowiges om gehoorsaam te bly aan God sodat hulle nie self in die hande van die lewende God wat straf en vergeld val nie (Hebr. 10:26-31).

18.  OOR DIE NASIES: Paulus gebruik Moses se oproep aan die nasies tot ‘n loflied vir God se verlossing van sy volk in Deuteronomium 32:43 om dit van toepassing te maak op die nasies se eie verlossing in Romeine 15:10.   Ook die Hebreërskrywer gebruik hierdie verwysing, maar uit die LXX weergawe waarin daar ook sprake is van die engele wat die Verlosser aanbid (Hebr. 1:6).

19. OOR VERWYDERING UIT DIE GELOOFSGEMEENSKAP: Paulus gebruik die gereelde refrein van Moses in Deuteronomium: “Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei”, om die gemeente in Korinte aan te moedig om op te tree teenoor gelowiges wat aanhou sondig. 

Waar dit in Deuteronomium gegaan het oor waarsêery (Deut. 13:15), afgodery (Deut. 17:7), ontrou aan die Here (Deut. 19:19), buitehuwelikse seks (Deut. 22:21), voorhuwelikse seks (Deut. 22:24), en mensehandel (Deut. 24:7), gaan dit vir Paulus oor gelowiges wat: “onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër” is (1 Kor. 5:9-13). 

Dit sluit uiteraard nie mense buite die gemeente in wat hieraan skuldig is nie, want hulle moet immers nog aan die evangelie blootgestel word.  Maar met gelowiges wat hulle hieraan skuldig maak, mag die ander gelowiges selfs nie eers saameet nie.

Anders as met die verskeie kere waar dié frase in Deuteronomium gebruik word, en die bedoeling is dat die oortreders met die dood gestraf moet word, gebruik Paulus die frase om te sê dat só ‘n persoon uit die geloofsgemeenskap verwyder moet word totdat daar ‘n bewys van bekering is.  Daarmee eggo Paulus natuurlik ook vir Jesus wat die doodstraf opgehef het as straf vir die sonde, maar steeds mense aangemoedig het om hulle van hulle sonde te bekeer (Joh. 8).

20.  OOR ARBEIDERS WAT HULLE LOON WERD IS: Paulus pas ook Deuteronomium se voorskrif – om osse billik te behandel deur hulle nie te muilband nie, maar te laat eet van dié koring wat hulle help maal (Deut. 25:4) – op die werkers in diens van die evangelie toe. Die arbeider is sy loon werd (1 Kor. 9:9; 1 Tim. 5:18).

21.   OOR KOS: Paulus gebruik ook Moses se fundering van Israel se uitverkiesing in God se Eienaarskap van die hemel en die aarde, en alles en almal daarop (Deut. 10:14; vgl. Ps. 24:1), om alle kos rein te verklaar, selfs kos wat in ‘n slaghuis gekoop is  (1 Kor. 10:26).

22.  OOR DIE VLOEK VAN DIE WET: Paulus gebruik ook in sy lering aan die Galasiërs oor die vloek van die wet twee aanhalings uit Deuteronomium om aan die een kant te beklemtoon dat as ‘n mens die wet wil nakom, jy aan die vloek daarvan blootgestel is (Deut. 27:26; Gal. 3:10).  Daarteenoor beklemtoon hy aan die ander kant dat Christus ons juis van die vloek van die wet losgekoop het deur sy dood aan die kruis (Deut. 21:23; Gal. 3:13).  Hy het die vloek vir ons geword, sodat ons in die genade kan leef, die genade wat ons deel word deur die geloof as ‘n gawe van die Gees.

23.  OOR GOD SE WOEDE: Die skrywer van die Hebreërbrief haal ook Moses se siddering en angs aan vir God se woede oor die maak van die goue kalf (Deut. 9:19) om die gemeente aan te spoor om na mekaar om te sien en te sorg dat niemand van hulle van God afvallig word nie (Hebr. 12:21). 

24.  OOR GOD AS VERTERENDE VUUR: Die Hebreërskrywer herinner ons in dieselfde gedeelte daaraan dat ons God ‘n verterende vuur is, ‘n boodskap wat steeds in die NT van krag bly en uit Deuteronomium begrond word (Deut. 4:24; Hebr. 12:29).  Iets wat ons gerus kan onthou in ‘n tyd waarin die ontsag vir God getaan het.

25.  OOR GOD SE BESKERMING EN SORG: Heel gepas is die laaste twee aanhalings uit Deuteronomium in die NT egter gefokus op God se beskerming en sorg.  Die Hebreërskrywer moedig sy gemeente aan om tevrede te wees met wat hulle het en vry van geldgierigheid, want God het self gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Deut. 31:6, 8; Jos. 1:5; Hebr. 13:5).

 

 


Post date: 2017-10-11 04:00:16
Post date GMT: 2017-10-11 02:00:16
Post modified date: 2017-10-12 08:21:27
Post modified date GMT: 2017-10-12 06:21:27

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com